Oos-Londen-man voor werknemers doodgeskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Amirali Mirhashemian/Unsplash)

ʼn Jong man van Oos-Londen is Maandag voor sy werknemers doodgeskiet toe vier gewapende mans sy pa se onderneming probeer beroof het.

Brig. Thembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn 33-jarige man om 16:55 Maandag doodgeskiet is.

Die voorval het by ʼn winkel langs die Hildasia-vulstasie naby die N2 in Gonubie plaasgevind. Die slagoffer se pa besit dié winkel.

“Vier mans het na bewering die middag na die winkel toe gegaan – twee het buite gebly, terwyl die ander twee binnegegaan het,” sê Kinana.

“Een van die mans het glo ʼn vuurwapen op die werknemers gerig en op geld aangedring.”

Kort nadat die verdagtes hul wapen uitgepluk het, het ʼn gestoeiery tussen die werknemers en die mans uitgebreek. Dis toe dat die eienaar se seun glo vanuit ʼn agterkamer gekom het om te kyk wat aangaan.

“Die man is deur die verdagtes geskiet en het noodlottige beserings opgedoen.”

Die verdagtes het op die vlug geslaan en is sedertdien nog nie opgespoor nie.

ʼn Saak van moord en poging tot sakeroof is geopen. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.