Op 25 weke gebore: ‘Sy is ons wonderwerk’

Hayley Meyer het by geboorte net 650g geweeg. Foto: Verskaf

Hayley Meyer het by geboorte net 650g geweeg. Foto: Verskaf

Die koms van ʼn egpaar van Alberton se eersteling het ʼn reis van hoop geword nadat hul dogtertjie op 25 weke met ʼn gewig van net 650 g gebore is.

Pieter en Nicole Meyer, albei 21 jaar oud, het hul babadogtertjie, Hayley, op 14 Julie verwag, maar sy is onverwags op 4 April met ʼn noodkeisersnee gebore. “Weens komplikasies het die vrugwater oor die twee weke voor Hayley se geboorte bietjie-bietjie gelek, maar ons het dit natuurlik nie geweet nie. Teen die Vrydag voor haar geboorte was Nicole reeds besig om te ontsluit, maar ons het steeds nie besef sy was reeds besig om in kraam te gaan nie. Sy het net gesê dat sy bietjie pyn ervaar,” het Pieter gesê.

“Teen die Maandagoggend was sy in erge pyn en ons is dadelik na die ginekoloog toe sodat hy kon uitpluis wat fout is.” Teen hierdie tyd het die baba reeds gedraai, gereed om gebore te word. Haar hartklop was baie swak. Volgens Pieter het die ginekoloog gesê indien ʼn noodkeisersnee nie onmiddellik gedoen word nie, die baba binne die volgende paar uur sou sterf. Klein Hayley is daardie aand om 19:00 in die Netcare Clinton-hospitaal in die lewe gebring, skaars swaarder as ʼn blok botter.

Pieter Meyer by klein Hayley in die hospitaal. Foto: Verskaf

Pieter Meyer by klein Hayley in die hospitaal. Foto: Verskaf

Pieter vertel dat sy in die eerste week van haar lewe boonop nog gewig verloor het en nou net 550 gram weeg, maar dat sy ongetwyfeld ʼn wonderwerk is. “Sy is vandag een week oud en die dokters sê self hulle het nog nooit so iets gesien nie,” sê hy. “Sy is nie in ʼn broeikas nie, maar word wel in die neonatale-waakeenheid behandel. Sy het van haar geboorte tot Donderdag suurstofondersteuning gekry, maar oor die naweek heeltemal op haar eie asemgehaal,” het hy gesê.

“Vanoggend [Maandag] moes hulle haar weer terugsit op suurstof om haar klein lyfie net kans te gee om ʼn bietjie te rus. Maar dat ʼn baba wat op 25 weke gebore is sommer binne die eerste week op haar eie kan asemhaal, is ongelooflik! Sy is ʼn wonderwerk.”

Hy vertel dat sy elke dag ʼn klein bietjie sterker word, dat haar niere funksioneer soos dit moet en dat haar suikervlakke nou stabiel is. Hayley ontvang net 1 ml melk per voeding en is nog te klein om opgetel word. “Ek het haar al een keer vir ʼn paar sekondes vasgehou en Nicole seker vir so tien minute, maar die dokters sê dat sy eerder nou so min aanraking as moontlik moet kry omdat sy nie te veel gestimuleer moet word terwyl haar lyfie dit nog nie kan hanteer nie.”

Volgens Pieter is dit vir hom en Nicole swaar om elke aand huis toe te gaan en Hayley by die hospitaal agter te laat, maar hulle vertrou ten volle op die dokters en mediese personeel by die hospitaal om deur die nag na haar om te sien. “Ons weet dat God elke oomblik sy hand oor Hayley hou en nou kan ons net bid dat die Here haar sal vashou en ons sal sterk maak om nie op te gee nie. Dit is nie te danke aan geluk dat dit so goed gaan met Hayley nie, maar te dank aan God se genade. Ons sê dankie dat die Here ons gekies het om Hayley se ouers te wees en ons is dankbaar dat ons ʼn getuienis vir die res van die wêreld kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Cheryl ·

Sjoe hoendervleis mooi.. Genade als is net Gods genade…

Sterkte met jul lieflingdogter.. en hou al ons Maroela lesers op hoogte van haar vordering..

Sterkte liefste Hayley jy het diep in my hart klaar gekruip met jou klein lyfie..

jenni ·

Ekt self so n kleinmensie in die wereld gebring en ek kan ook net die Here dank dat sy hierdie jaar 7 word en sy is al in Gr1

Debbie ·

Ek volg al van laas week af die storie met baba Hayley en moet self erken dat dit snare aan my hart kom trek het. Ek kry myself gereeld soek na die volgende informasie wat geplaas word en kyk uit vir goeie nuus. Toe ek sien dat haar ouers se sy haal self asem, het ek seker 10 keer na die video weer en weer gaan kyk.
Baie van ons sit met hoop elke dag en hou die hele gesin in ons gedagtes.
Die mamma en pappa is wonderlik dat hulle so positief bly.
Wens julle die beste toe en dat sy vinnig baie sterker sal word.

Ronel ·

Ongelooflik! By GOD is alles moontlik. My een kleinseun is op 32 weke gebore en hy word 8 hierdie jaar. Hy het net onder 2 kg gewees. God se wil sal geskied. Amen

INGE ·

Mag sy die volgende paar weke groot en sterk word! Sterkte aan die ouers van hierdie engeljie.

LSH ·

Ek het 2 sulke klein babas gehad, vandag is hulle uitgegroeide lummels, 27 en 23 jaar oud, Hulle is baie gesond en ken nie ‘n siek bed nie. Dank God vir die genade en seën. Klein Hayley is n vegter en Pa Pieter en Ma Nicole staan sterk, Julle wonderwerk is ‘n vegtertjie . Amen

Gesiggie ·

God het aan jul die klein wonderwerk gegee, en sal haar elke dag stuif vashou en bewaar, sodat sy dag vir dag net sterker sal word… sy is so bitter klein… maar sal nog groei en groter word..sodat jul as ouers kan verkondig… dat Hayley vir jul gegee is met n rede… Sterkte aan jul… hoop om gou weer n opvolg te lees oor die Engel dogterjie.

Goeie nuus ·

So lekker om sulke mooi en goeie nuus te lees. Wel klein Haylie met sulke paar voete kan mens net weet dat jy sommer lekker groot gaan raak. Trap vas Poppie en veg voort klein vegtertjie met jou Pappa en Mamma aan jou sy kan dit net beter gaan!!!!!

broos ·

dankie vir julle mooi getuienis! mag God julle en daai ou klein dingetjie styf is Sy Liefde vashou en hierdeur dra

Kathy ·

Ai hoendervleis – so klein. Geluk mamma en pappa. Hou ons asb op hoogte oor haar vordering

ELWINET LEYDING ·

STERKTE. EK WEET HOE DIT VOEL OM ELKE AAND WEG TE STAP EN HAAR IN DIE HOSPITAAL TE LOS. MY TWEELING DOGTERTJIES IS 5 JAAR GELEDE OP 27 WEKE GEBORE MET ‘N NOODKEISER, HET 1KG ELK GEWEEG EN WAS 80 DAE IN DIE NEONATALE EENHEID IN GEORGE MEDI KLINIEK. DOGTERTJIES IS VEGTERTJIES… HOU MOED… SY GAAN NOG GROOT WORD!!!

Joann ·

God se genade en liefde is groot. Baie geluk aan ouers en sterkte vir julle. Sulke klein goed word gou groot. Hou ons op hoogte asb.:)

Cheri ·

Sterkte vi julle. My pop is ook op 25weke gebore. Sy word nou 2. Dit hou jou op jou kniee. Weet net, God is daar.

Ellen ·

Ek was self so ‘n babatjie en vandag is ek in my veertigs. Die Here het ‘n doel met klein Haylie. Dit laat my net weereens besef dat ‘n baba lewens vatbaar is van die eerste oomblik en nie soos die aborsie klinieke en dokters ons wil laat glo dat daar geen lewe is toe op 20 weke nie. Klein Haylie jy is die stem vir die ander wat nie kan praat nie.

Jeanette Visser ·

Ek het ook so klein engeltjie op 32weke in die lewe gebring met ‘n keisersnee. Sy moes vir amper 3 maande in die hospitaal agterbly, maar groot was die vreugde toe ons haar kon gaan haal. GOD verrig wonderwerke, sy sal dit oorleef. My dogter is vandag 28jaar oud en sy het al ‘n klein engeltjie van haar eie. Sterkte en moenie moed opgee nie ons bid saam vir julle drie!

Ria ·

Ons dien n groot God waar alles moontlik is, baie geluk met julle pragtige klein poppie, Baie sterkte, laat ons weet hie dit gaan.

Anny ·

Die wonder wat God elke keer weer demonstreer deur sulke engeltjies! Hoe is dit moontlik dat daar steeds mense is wat sê daar is geen God nie! Dink aan julle

Elmarie Pretorius ·

Baie geluk julle dit is sowaar n groot geskenk my dogtertjie was op 32weke gebore was 850gm en vandag is sy al 28. Mag God jul seen en haar omvou .

Awesome ·

Ag dit is so wonderlik om hiervan te lees. Hayley, jy is ‘n sterretjie, baie geluk aan jou mamma en pappa. God is wonderbaarlik en jy sal gou groei en sterk word. Hou ons asseblief op hoogte van jou vordering. Ek is sommer nou tranerig. Dit is AWESOME.

Boerin ·

Sterkte. Ons bid almal saam met julle dat jul haar spoedig kan gesond huis toe vat!!!

Hannelie ·

Sjoe dis ongelooflik dat so n klein lyfie deur alles moet gaan, maar glo my sy is n vegtertjie en sal almal nog verbaas. My dogter het 1,2 kg geweeg en was 45 dae in neonataal. Op daardie stadium dink mens hoe gaan sy dit oorleef, maar glo vir my na baie hartseer en stres en baie gebede het sy daar deur gekom. Met geen abnormaliteite van enige aard nie. Vandag is sy 21 en n pragtige jong meisie wat baie het om voor dankbaar te wees. Sterkte aan mamma en pappa. Klein Hayley is n klein sterretjiexx

Rene ·

Julle het nog n lang pad Wat voorle, dit gaan party Dae slegter gaan as ander dae, maar die dag Wat julle haar huis toe vat, sal net 1 van soveel spesiale dae in haar lewe wees, my dogter is op 25 weke gebore het 665gram geweeg en is vandag 11 jaar oud, mense praat jou bang en se sy gaan soveel probleme he as sy groter word, ek se vir julle dis n twak storie, my kind het n leer probleem en dis dit. Soos julle se sy is n wonderwerk van God af, hy het klaar haar lewe beplan, geniet elke oomblik van haar terwyl sy so klein is glo my hulle word so vinnig groot een van die dae sit julle en wonder Wat het van die tyd geword toe sy so klein was. Neem ongelooflik baie fotos want nie sy of enige van haar maats gaan glo dat sy so klein was nie. Dis n voorreg, n belewenes Wat julle het om so klein mensie te sien groter en sterker word elke dag. Sterkte vir julle Al 2 julle het dit nodig dis nie n maklike reis nie, maar wel n reis Wat min mense beleef.

frina ·

My tweeling kleinseuns is op 24 weke gebore in 2013. Vandag is hulle 2 en n half jr oud en pragtig. Sterkte aan ouers. God se Genade is wonderlik groot.

Rens Roodt ·

Al drie my kinders was ook te vroeg gebore met nood keisersnees – 2 seuns en een dogter- al drie is n presiese weergawe soos hierbo beskryf – ek dank Vader vir Sy Genade – net Hy alleen het hulle lewe gegee – 1 ml melk elke 3 ure en dit neem jou omtrent 1 uur om hulle te voed – geweier dat hulle gebuis moes word want hulle moes leer om te suig – mag hulle ook nie baie hanteer het nie behalwe met voedingstye – Vandag is hulle al in hulle twintigs – Wonderwerke uit Vader se Hand van genade en sal Hom altyd eer en loof daarvoor! Bondeltjie vreugde – mag sy julle harte warm laat klop vir Hom

cielie ·

Ek het n baba dogtertjie op 31 weke in die lewe gebring. Sy het die 7de n jaar oud geword. Moeilik om haar elke aand agter te laat maar dit maak alles die moeute werd. Die suster in die nicu maak hulle groot soos hulle eie terwyl mamma en pappa nie daar kan wees nie. Sy was net 5 weke in die hospitaal en het 1.12kg geweeg met geboorte. Met God se genade oorkom die kleintjies dit en kom hulle sterker aan die anderkant uit. Sterkte julle en hou ons op hoogte. Geluk

C ·

My seuntjie is op 26 weke gebore, was vir 6 weke in die hospitaal. Hy is my wonderwerk gegee van God! Vandag is hy in Gr 8 en een van die top presteerders in die skool. Sterkte met jul pad vorentoe

Dina Jansen ·

Ek wil net vir die Pa en Ma se baie sterkte dink aan julle. Is daar dalk n Facebook blad wat ons kan volg oor Hayley. Dankie lekker dag verder

Lucinda ·

Daar is ‘n facebook blad gestig en word genoem “A Test of Faith”.

charlene ·

ek moet nou eers so deur die trane tik en alles. Gestiraand het ek gewonder waar is God as dinge so skeef loop en hoekom is Hy so “stil” en vanoggend kry ek my antwoord! Here dankie!!! Hierdie pragtige dogtertjie van U is so sterk en so klein. Here mag sy haar hele lewe deur gesëe wees en gesëen bly haar ouers ook. Op 25 weke en sy is `n regte klein vegtertjie, dis verby amazing. En haar ouers se geloof is iets wonderlik. Ek vra ook dat die ouers `n facebook blad skep sodat ons die kan volf asb of Maroela kan julle asb gereed “updates” plaas

Nadia Verster ·

My liefie-lyfie is op 28 weke gebore ook met ‘n noodkeiser. Hy het 870g geweeg en was 3 maande in Panorama NICU. Dis baie waar wat Rene sê – dis nie ‘n maklike pad om te stap nie. Een dag op en die volgende dag af MAAR dit het hierdie mamma geleer om te bid en op God te vertrou en ek is so dankbaar vir my wonderwerk-baba en dat God hom in die palm van Sy hand gehou het en steeds doen. Hy is nou 2 jaar en 5 mnde en 100% normaal. Sterkte Pieter en Nicole.

Karma ·

Op 25 weke is ‘n baba eintlik nog ‘n fetus en volgens wet word enige geboorte voor 25 weke as miskraam beskou. Baie jare gelede, by die opleidingshospitaal waar ek werksaam was, is ‘n babadogtertjie gebore op die ‘grenslyn’ tussen 24 & 25 weke; sy het 480g by geboorte geweeg en is ook aanvanklik in die neonatale eenheid versorg. Sy het 1ml Pre-Nan elke 3 ure gekry (en daardie voedingsbuis het presies 3 ure geneem om deur te syg). Sy het postnatale geelsug ontwikkel, aanvanklik gesukkel met onafhanklike asemhaling en is baie. baie noukeurig gemonitor. Terwyl ek aan diens was in die eenheid, en die mamma was daar, het ek mamma aangemoedig om haar melk aan die gang te hou – sy gaan nog eendag haar baba borsvoed! En dit het gebeur: toe baba net oor die 2kg geweeg het (4 maande later) het mamma vir baba vasgehou in haar arms en gevoed. Jare later het ek die dogtertjie weer gesien en toe was sy ‘n lewenslustige, uitbundige blonde-krulkop bondeltjie liefde! Die tyd van wonderwerke is nie verby nie. Sterkte aan mamma, pappa en baba!

charlene ·

1ste wil ek jammer sê vir enige spel foute mag mag deur kom maar dis moeilik om die kommenaar nou te tik: Karma: toe ek jou 1ste sin lees was ek eers bloedig kwaad – ek hou nie van die woord fetus nie, glad nie maar dis oor hulle na my baba (8 weke) vewys het as `n “fetus wat my liggaam verwerp het”… So die woord fetus is vir my `n baie vieslike woord want dis `n baba (en dis was my baba), `n lewe…… Maar jou kommentaar is so mooi en dit raak so aan `n mens se hart. ek is baie bly vir almal wat hier kommentaar lewer en ek hoop die mamma en pappa lees dit sodat hulle weet daar is ALTYD hoop . Ek meen dis kla `n wonderwerk dat hulle prag baba self kan asem haal. God se liefde is groot en oneindig!

Marie ·

My ma het my vertel dat ek op 6mnde gebore is an maar net in die boere taal 1oond 1onse geweeg het.In one taal net bietjie meer as ‘n pond botter.Vandag groot en gesond.Het self 2 kinder van my eie.Dit kan dalk wees oor Ek so klein was het ek groot babas gehad.Dogter,3.9kg,normaal,seun 4.1kg,normaal brug.
Hou moet en glo en vertrou volkome op die Here.Hulle wat so klein is baklei baie.

Tania Maree ·

ALLE EER EN DANK AAN YAHWEH (GOD se REGTE NAAM) !! U IS WONDERBAAR VADER YAHWEH EN U IS MAGTIG EN U KAN WONDERE VERRIG!. ONS DRA HIERDIE KIND HALEY AAN U OP VADER YAHWEH, WANT U SAL VIR HAAR SORG EN GESOND MAAK.ONS EER EN LOOF U VADER- DANKIE VADER! SY IS BAIE SPESIAAL! GEE ASB HAAR OUERS DIE KRAG VADER EN MAAK HULLE STERK VADER IN U NAAM!

Nadia ·

Hayley is n wonder werk net soos my klein Francois is.
Waar kan mens uitvind how dit met haar gaan asseblief. Daardie dae wat hulle in NICU is is erg vir ons as ouers.
Sterkte vir mamma en pappa.

Belinda Brennan ·

Dankie vir die terug flits… Steph is ook piepklein gebore (880g en die eerste week geval tot op 690g ) drie maande in NICU en is nou 14 jaar oud. Die eerste paar weke was dit mooilik om haar nie vas te hou nie , maar die Liewe Here het geweet wat hy doen. Sy is my held en elke dag as ek na haar kyk (nou langer as ek ) dank ek die Here vir haar. Die eerste paar dae was rof maar met geloof en baie baie baie gebede is sy nou n baie suksesfolle jong dametjie Sterte julle en geniet elke dag om te sien hoe die klein dingetjie groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.