Op 40 maak hy geskiedenis in SA wingerdboukringe

Dr. Andries Daniels is die eerste bruin Suid-Afrikaanse man wat ‘n doktorsgraad in wingerdkunde verwerf het. (Foto: LNR)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe gaan vandeesweek saam met Andries Daniels ʼn mylpaal bereik wanneer hy sy doktorsgraad ontvang. Hy is die eerste bruin Suid-Afrikaanse man om ʼn PhD in wingerdkunde te verwerf.

Sodoende sal dié boorling van Kimberley twee weke na sy 40ste verjaardag ook een van sy lewensdrome bewaarheid, om as dr. Daniels bekend te kan staan.

Hy het homself as iemand met ʼn oog vir ʼn rosyntjiedruif onderskei en was by die bekendstelling van Sundowner, die eerste eg-Suid-Afrikaanse rosyntjiedruifkultivar, betrokke.

Hy het vir Maroela Media gesê as kind van ʼn enkelma wat twee kinders op ʼn huishoudstersalaris moes grootmaak, het hy van vroeg af besef dat jy jouself met die regte mense moet omring om jou doel te bereik. “Dit maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie, jy moet nooit opgee om jou drome waar te maak nie.”

Voordat hy laat in sy eerstejaar ʼn beurs deur die Wyn- en Spiritusraad aangebied is om wingerd- en wynkunde te studeer, het hy met BSc-studie in menslike lewenswetenskappe weggespring om mediese keuring by US te kry.

“Ek onthou nog goed hoe ek aan die einde van my eerstejaar saam met sy ma gestap het en haar van die beursgeleentheid vertel het en dat ek daarom nie meer ʼn mediese dokter sou word nie. Sy het my dadelik in my nuwe planne ondersteun.

“Sy het gesê ek moet die kans vat. Dis een ding wat ek van my ma, Agnes Daniels, weet, sy het nog nooit in my pad gestaan nie en my altyd onvoorwaardelik bygestaan en ondersteun,” voeg hy dankbaar by.

In 2017 het ʼn klasmaat, vriendin en mentor van Daniels, dr. Erna Blancquaert, die eerste bruin Suid-Afrikaner geword om ʼn doktorsgraad in wingerdkunde, ook aan die US te verwerf.

Daniels is sedert die verwerwing van sy eerste graad, ʼn BScAgric in Wingerd- en Wynkunde in 2005, deel van die navorsingspan van Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvooorbij op Stellenbosch. LNR Infruitec-Nietvooorbij is ʼn lid van die LNR se gewaswetenskap-groep wat navorsing op sagtevrugte, wingerd, alternatiewe gewasse en inheemse kruietee doen.

Dr Andries Daniels (middel) besig om tydens ‘n onlangse opedag inligting aan wingerdboere te verskaf. (Foto: LNR)

In 2006 het hy as ʼn navorsingstegnikus by hul destydse teel- en evaluasie-afdeling ingeval. Deesdae woon hy in die Strand, en is ʼn navorser van tafel-, droog- en wyndruiwe by die LNR se gewasontwikkelingsafdeling.

Sedertdien het hy ook deeltyds drie grade (insluitend sy PhD) suksesvol aangepak. Hy het dié grade almal aan die US verwerf.

“My opleiding aan die US het vir my ʼn baie goeie geheelprentjie gegee, en ʼn breë kennis van wat in ʼn wingerd en in die bedryf gebeur.”

Om ʼn doktorsgraad te verwerf is nie kinderspeletjies nie. Na evaluasiewerk van byna 13 jaar was hy in 2020 saam met sy spanleier by die LNR, plantkweker Phyllis Burger, RaisinsSA en Culdevco betrokke by die bekendstelling van Sundowner, die eerste eg-Suid-Afrikaanse rosyntjiedruifkultivar. Dié vaar veral goed in die Olifantsriviervallei.

“Ons hoop om binnekort nog ʼn kultivar bekend te stel, hopelik een wat veral goed in die Noord-Kaap sal vaar,” verklap hy.

Vir hul werk aan Sundowner het Daniels en Burger verlede jaar die gesogte sagtevrugte-bedryfstoekenning gewen. Vanjaar is hy ook deur Landbouskrywers aangewys as landboukundige van die jaar vir die Noord-Kaap.

Van sy werk sluit in dat hy wiskundige modelle geskryf het waarmee die gehalte van trosse tafeldruiwe tot op korrelvlak, sonder enige skade daaraan, bepaal kan word deur die spektra van elke korrel afsonderlik met naby-infrarooitegnologie te skandeer.

Sy modelle neem ook aspekte rondom die eetgehalte van druiwe, soos hoe soet of suur korrels is, in ag.

Met hierdie modelle kan heel akkuraat voorspel word watter trosse meer geneig sal wees om vrot te raak of donkerkleurige doppe en die verbruining van vlees sal ontwikkel terwyl dit oorsee verskeep word.

Dr. Andries Daniels (sittende), besig om vir tweede-ekonomie, Noord-Kaapse boere raad oor die aanplant en versorging van wingerde te gee. (Foto: LNR)

“Ek put ook groot genot daaruit om die tweede-ekonomie, Noord-Kaapse boere, wat nog deur die staat bygestaan word en nie die infrastruktuur van kommersiële boere het nie, met raad en daad in die wingerde by te staan en te help om die beste moontlike rosyntjie en wyndruiwe te kweek,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Baie Geluk , Mag jy van Krag tot Krag Gaan !

Rudolf

Skitterende prestasie! Baie geluk en mag jy asook SA wynbou die vrugte pluk ????

Julius

Geluk Andries met jou graad en nou kan jy grooter gaan.

DJ

Baie geluk. Mag dit nog baie deure vir jou en ander opkomende boere oopmaak

Eden

Eerste swart dit en eerste bruin dat. MM dra by om die identiteitspolitiek lewend te hou.