Op die Vergete Grootpad met ʼn wa en ses perde

Die wa wat deur ses perde getrek word. (Foto: Vergete Grootpad 2021/Facebook)

Vier mans hoop om met ʼn wa, wat deur ses perde getrek word, sowat 700 km af te lê van die sogenaamde Vergete Grootpad wat oorspronklik van Ceres tot in Kimberley strek.

Hulle wil graag in die voetspore van duisende hoopvolle diamantdelwers volg wat tydens die diamantstormloop in die 1870’s die einste pad met ossewaens afgelê het. Die groep mans beplan egter om dié roete omgekeerd te voltooi en sal van Hopetown tot by Ceres ry.

Piet Coetzer sal om die beurt die leisels van ses Vlaamperde, genaamd Minister, Kado, Kommandant, Rakker, Anette en Karnet, saam met Shattie van Huyssteen, Gerhard Bosch en Klasie Lombard deel.

Coetzer het Vrydag aan Maroela Media vertel dat hulle beoog om dié reis binne 25 dae te voltooi en daagliks sowat 30 km wil aflê.

“Die grootste deel van die pad wat ons gaan ry tussen Hopetown en Ceres is grondpad, so ons maak ons gereed vir ʼn paar harde dae.”

Die span sal Maandag oor die historiese ossewabrug oor die Oranjerivier by Hopetown ry en daarna amptelik vanaf die Hopetown-skouterrein vertrek. Hulle sal ʼn pad verby Strydenburg, Vosburg, Loxton en Fraserburg aanpak, waarna die pad hulle deur Sutherland, Verlatenkloof, die Tankwa-Karoo en Karoopoort tot in Ceres sal kry waar hul reis tot ʼn einde kom.

“Ons gaan dit dag-vir-dag vat en die perde sal vir ons sê hoe ver vir hoe lank. Die perde het ter voorbereiding van die reis gereeld geoefen en is baie fiks.

“Ons aan die anderkant het elke aand met ʼn stywe dop in die hand geoefen,” lag Coetzer.

Die vier brawe manne beplan om ná elke 30 km langs die pad stil te hou, ʼn seil oor die wa te gooi en net daar te oornag.

Coetzer meen dat die ekspedisie ʼn groot uitdaging vir hulle en die perde gaan wees.

“Dit gaan wel makliker wees as destyds toe diamantdelwers byna 800 km in sewe dae afgelê het. Ons beplan net om die reis te geniet.”

Die groot vraag op almal se lippe is egter waarom die vier mans besluit het om die roete aan te pak?

“Die antwoord is net ja,” sê Coetzer. “Ons het nie rêrig ʼn rede nie, maar niemand anders het dit al gedoen nie, so waarom nie ons nie?!”

Die ses perde oefen al lank en is glo topfiks. (Foto: Vergete Grootpad 2021/Facebook)

Geskiedenis van die Vergete Grootpad

Tydens die diamantstormloop in Suid-Afrika het derduisende waens en koetse tussen die Wes-Kaap en Kimberley gery in die hoop om ʼn fortuin los te slaan.

Gedurende hierdie tyd is ʼn spoorlyn van Wellington tot in Kimberley gebou om die reis na Kimberley se gat te vergemaklik, tog het talle mense eerder verkies om hul wa te pak en self die roete aan te durf.

Die bekende Gibson-broers, John en James, het in die 1870’s in Suid-Afrika aangekom en saam die Red Star Line-skeepvaartmaatskappy tot stand gebring waarmee duisende mense reg oor die wêreld nuwe lande verken het. Die broers het later die pontboot gebou waarmee waens oor die Oranjerivier geneem is.

Die Gibsons het ook die roete na Kimberley merkwaardig vergemaklik deur onder meer stalle vir voer en water vir die trekdiere op te rig, terwyl vars trekdiere ook daar gewag het.

Die roete het vinnig bekend geraak, en Dene Smuts en Paul Alberts het jare late ʼn boek, Die Vergete Grootpad deur Ceres en die Bokkeveld, geskryf wat na die natuurskoon op dié roete verwys.

  • Volg die span se reis hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prikkie ·

Ek sou vir Prof Erik Holm saamnooi dat Hy die wa kan onderhou.

Ek glo die manne sal mooi na die perde kyk. Daar is nie meer vars perde langs die pad nie.

Sarel ·

Dit is harde pad wat die manne en Perde vat…sterkte
En vertrou die mense langs die pad sal.ondersteun veral
Vir die Perde..

Misky ·

Lyk so lekker en opwindend!!!! Hoop julle kyk maar mooi die area uit voor julle uitspan vir die aand en iemand hou wag met gelaaide wapen. SA nie wat dit 100 jaar gelede was nie.

Geniet die reis!!!

TRP ·

Dit is nou die tipe reis wat ek glad nie sal omgee om te onderneem. Ek volg beslis hulle reis. Geniet dit en wees asb veilig, soos Misky se, SA is nie die SA van 100 jaar gelede.

Karina ·

Sjoe maar dit is mooi perde. Sterkte vir die lang pad en reis veilig. Ek hoop Maroela Meadia gaan ons daagliks van hul vordering vertel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.