Opdraande stryd om Upington se ‘Arkie’ te red

(Foto: Facebook/Sakkie se Arkie)

Vir byna drie dekades bied Sakkie se Arkie aan inwoners van die “Groen Kalahari” en duisende toeriste die geleentheid om die Oranjerivier se waters eerstehands te ervaar.

Dié gewilde toeriste-attraksie is egter nou in gedrang aangesien die Dawid Kruiper-munisipaliteit die grond waar dit vasgemeer is, aan ʼn ander party wil verkoop en die arkie dus ʼn ander tuiste moet vind.

Sakkie Spangenberg, eienaar van die boot, is ongeveer twee maande gelede deur die munisipaliteit ingelig dat hy die grond by Olivierpark aan die oewer van die rivier teen 12 April moet verlaat. Dít, sê inwoners, sal ʼn enorme verlies vir Upington wees.

Sakkie se Arkie

Spangenberg se droom vir die Arkie het reeds op 13-jarige ouderdom begin, vertel hy.

“Ek was nog op skool gewees. Ek het aanhoudend planne beraam en prente geteken van hoe dit moet lyk.”

In 1997 is dié droom verwesenlik toe die vlot eindelik klaar gebou is, en vir die afgelope 26 jaar maak hy dit vir inwoners en besoekers moontlik om die breedste rivier in Suid-Afrika met die Kalahari-vlot te verken.

“Sakkie se Arkie kan tot 80 mense per vaart hanteer en ʼn rit duur sowat ʼn uur en ʼn half. Soms raak ek so besig dat ek parkeerplek vir 160 mense se voertuie nodig het,” sê Spangenberg.

Op Upington is daar nie veel om te doen nie, vertel Spangenberg; Sakkie se Arkie is boonop een van die min kindervriendelike aantreklikhede en gaste kan op ʼn snikhete dag in die Oranje se koue water duik om af te koel.

(Foto: Facebook/Sakkie se Arkie)

Sakkie se Arkie het aanvanklik by Die Eiland op Upington begin, maar weens logistieke redes het Spangenberg ʼn ander vasmeerplek gesoek.

“Die amfiteater by Olivierpark is ná 1988 se vloed nooit weer herstel nie. Die plek was toegegroei en verwaarloos, maar dit was die perfekte vasmeerpunt vir die arkie,” sê hy.

Stryd met munisipaliteit

Die Dawid Kruiper-munisipaliteit het Olivierpark in 1999 aan hom uitverhuur vir ʼn tydperk van drie jaar. Die kontrak is oor die jare verskeie kere verleng. Hy wou later die grond koop en ook besigheidsregte op die grond kry, maar die munisipaliteit het telkens geweier.

“Ek wil ’n kafeteria vir my klante kan bied. Mense wil koffie drink en roomys eet langs die Oranjerivier terwyl hulle vir die arkie wag, maar ek kan net soveel sonder sakeregte doen.

“Ek het soveel idees en die behoefte is daar. Al wat ek benodig, is toestemming.”

Die munisipaliteit het later wel besluit om die grond te verkoop, maar Spangenberg is nie by dié proses betrek nie. Olivierpark is van 16 Desember 2015 tot 3 Januarie 2016 vir openbare tender geadverteer.

“Dit is oor al die groot vakansiedae geadverteer. Ek vermoed die munisipaliteit wou nie regtig hê baie mense moes van die stuk grond weet nie,” sê Spangenberg. Die voorwaardes vir die tender was ook uiters straf.

“Die enigste persoon wat kan tender, is iemand met bykomende sekuriteit en wat finansieel sterk genoeg is om die kontant te kan neersit.”

(Foto: Facebook/Sakkie se Arkie)

Hy het nietemin die nodige dokumente ingevul en die aanbod vir Olivierpark by die munisipaliteit ingedien.

Spangenberg se aanbod is egter afgekeur en die tender is aan ʼn ander onderneming toegestaan.

Hy het die besluit in die hof betwis en dié het bevind die proses was foutief en moes van voor af begin.

Dit het minstens tydelike verligting vir Spangenberg beteken en hy kon aanbly tot sy kontrak verstryk. Nou blyk dit die munisipaliteit het geen plan om dié kontrak te hernu nie en hy moet nou oor minder as ʼn week die grond ontruim.

Spangenberg sê hy steun nou op die publiek om stem dik te maak sodat Olivierpark deur private onderhandeling verkoop kan word.

Maroela Media het die munisipaliteit die afgelope week verskeie kere om kommentaar genader, maar geen terugvoer ontvang nie.

Op die vraag of Sakkie se Arkie nie van elders bedryf kan word nie, sê Spangenberg dat dit by talle plekke vasgemeer kan word, maar dat alternatiewe persele ontoeganklik is.

Verskeie inwoners, en die munisipaliteit self, het al voorgestel dat Spangenberg die onderneming by Upington se bootklub moet voortsit, maar hy sê dit is onmoontlik om die boot daar te kry en dat dit boonop ontoeganklik vir sy klante sal wees.

Wat sê inwoners?

Stephan Karstens, ʼn ou inwoner van Upington, sê die einde van Sakkie se Arkie veroorsaak “groot ongelukkigheid” onder inwoners.

“Ek woon my lewe lank al hier, my ouers vat my al van kinds af na Sakkie se Arkie toe, ek het met die arkie grootgeword en wil die jaar my 30ste op die arkie vier.”

Volgens Karstens sal dit ook nie net bloot verlies aan toerisme-aktiwiteite beteken nie.

“Sakkie word altyd eerste gekontak wanneer ʼn persoon vermis word of in gevaar is in die rivier. Die polisie, die nooddienste en selfs die munisipaliteit maak op Sakkie staat wanneer dit by die rivier kom.”

In 2011 het die Oranjerivier in Upington oorstroom, paaie en brûe was gesluit en kinders kon nie skool toe gaan nie, veral die wat naby aan die rivier gewoon het. “Sakkie het toe met sy rubberboot al die kinders by hul huise opgelaai om hulle by die skool te kry.”

ʼn Facebook-groep, Save Sakkie se Arkie, het ook sedertdien die lig gesien.

Vir Spangenberg is hierdie nog nie die einde van die pad nie.

“Dit voel nie vir my reg om op te hou veg vir iets waaroor ek so lank gedroom het nie.

“Daar is altyd ʼn moontlikheid. Ek is nou al vir byna agt jaar in dié stryd met die munisipaliteit gewikkel. Ek het alles gedoen wat ek kan, persoonlik, finansieel, en sover die reg my toelaat. Dit is nou nie meer in my hande nie. Die publiek moet nou opstaan vir wat reg is.”

(Foto: Facebook/Sakkie se Arkie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

4ntj13 ·

Ek ken Sakkie van kleins af. Sy ouer suster was my maatjie op skool.

Ek is bekommerd dat die hofsake verkeerd hanteer is en ʼn normale ooreenkoms tussen hom en DKM onmoontlik gemaak het.

Ook praat niemand van sy vaardigheid om die rivier onder die wateroppervlak soos die palm van sy hand te ken nie. Nie net red Sakkie (ook vroeër vanjaar) in vloede mens en dier kosteloos nie, hy stuur ook sy arkie-boot vol mense veilig as die watervlak baie laag is — geen ongelukke is ooit aangemeld nie. Niemand anders kan dus ʼn soortgelyke diens sommerso vir DKM lewer nie. Maar sonder hierdie inkomste kan Sakkie seker ook nie in die dorp aanbly nie.

4ntj13 ·

Upingtonners is waarskynlik moeg gekla en moet reeds verskeie ander vorms van verval maar “vat”. — Harry Surtie Hospitaal, lorries wat vasry die duikweg en rou riool wat rivier toe moet loop, is maar drie wat ek sommerso kan noem al bly ek jare nie neer daar nie. So ʼn groot aantrekking vir toeriste sal hartseer wees, maar fataal wanneer iemand verdrink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.