Opdrag kom glo uit tronk om advokaat te laat vermoor

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

ʼn Derde verdagte het Donderdag in die Kaapstad-landdroshof verskyn in verband met die moord op die strafregadvokaat Pete Mihalik.

Vuyile Maliti (35) het saam met sy medebeskuldigdes, Sizwe Biyela (26) en Nkosinathi Khumalo (31), verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en die onwettige besit van besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Maliti, wat homself Woensdag aan die polisie oorgegee het, is van Kuilsrivier terwyl die ander twee beskuldigdes van KwaZulu-Natal is. In die klagstaat word aangevoer dat Maliti vir homself werk. Volgens mediaberigte is hy ʼn taxibaas en het hy na bewering twee sluipmoordenaars gereël om Mihalik te vermoor.

Daar is sedert die moord wyd bespiegel oor die motief vir die moord, veral aangesien Mihalik gereeld berugte karakters uit die Kaapse misdaadonderwêreld verteenwoordig het. ʼn Mediahuis het selfs berig dat R1 miljoen na bewering betaal is vir Mihalik se huurmoord en dat dit vanuit ʼn tronksel gereël is.

Landdros Greg Jacobs het die staatsaanklaer Helene Booysen se versoek dat die drie beskuldigdes in verskillende gevangenisse aangehou word vir hul eie veiligheid “gegrond op inligting van die ondersoekbeampte”, toegestaan.

Biyela sal in die Malmesbury-gevangenis aangehou word, Khumalo in die Allendale-gevangenis en Maliti in die Drakenstein-gevangenis. Maliti is verteenwoordig deur Jannie Kruger, ʼn prokureur van Johannesburg, terwyl Biyela van regshulp voorsien is. Khumalo, wat aan die hof gesê het hy kon nog nie daarin slaag om ʼn regsverteenwoordiger te bekom nie, is nog ʼn week tyd gegee om ʼn regsverteenwoordiger aan te stel. Die saak is tot 15 November uitgestel.

Die motor waarin Mihalik doodgeskiet is. Foto: Armand Hough/ANA

Die eerste twee verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem kort nadat Mihalik (50) buite sy 8-jarige seun en 16-jarige dogter se private skool, Reddam House, in Cavalcadeweg, Groenpunt, doodgeskiet is. Mihalik se seun het ʼn skietwond in sy kaak opgedoen. Die advokaat se tienerdogter is ongedeerd.

Die skieter het deur die venster aan die bestuurderskant van Mihalik se Mercedes-Benz geskiet. Die staat beweer die moord is met voorbedagte rade gepleeg.

Luidens die klagstaat voer die staat aan die beskuldigdes het Mihalik met opset vermoor deur hom in die kop te skiet en dat die misdaad uitgevoer is “deur ʼn persoon, groep of persone of sindikaat wat opgetree het in die uitvoering of bevordering van ʼn gemeenskaplike doel of sameswering”.

Die staat beweer die beskuldigdes het ook met opset probeer om Mihalik se seun te vermoor deur hom in die gesig te skiet.

Mihalik se vrou het aan depressie gely en drie jaar terug haar eie lewe geneem. Volgens berigte het sy ma en suster ook hul eie lewe geneem. Mihalik was volgens berigte ten tyde van sy dood in ʼn verhouding met Tasmin Tobitt, eksvrou van die oud-Springbokrugbyspeler Percy Montgomery.

Lees alle vorige berigte oor Pete Mihalik op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hoe nou....... ·

Ja nee – hou die bende en sindikaat base lewendig in die tronk. Ek sal betaal vir hulle kos en verblyf terwyl hulle daar binne vakansie hou en beplannings doen?!

HPV ·

Opdragte kan ook van buite die tronke gegee word om iemand binne die tronk te vermoor… laat mens nogal dink in terme van iemand wat die doodstraf verdien…

Geweeg en te lig bevind ·

MM daar was gister 2 interessante berigte van Dawie Roodt in ander media maar nie hier te sien nie. Intussen is dit nou al die hoeveelste berig oor die man wat kriminele verteenwoordig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.