Ope brief aan NG Kerkleiers: ‘Kom tot inkeer’

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Hoffie Hofmeyr, ʼn emeritus professor voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, waarsku NG Kerkleiers en -teoloë in ʼn ope brief dat hulle aandadig is aan die “huidige polarisasie” in die kerk.

“Ek was reeds sedert die vroeë 2000’s bewus daarvan dat die skroewe stadig begin loskom en dat fokus verloor word. Toe standpunte van medeteoloë die ronde begin doen dat die werklike opstanding van Christus betwyfel word, of dat die aanvaarding van die Bybel as Woord van God in die vroeë kerk as die gekonkel van mense beskou kan word, het die rooi ligte begin brand,” skryf Hofmeyr.

“Hierdie standpunte is nie deur die toesigliggame (kuratoriums) van die teologiese opleidingsentra gerepudieer nie, want dit was onder meer deel van die modegesprek, ook in die buiteland.”

Hofmeyr sê hoewel kerkleiers dikwels praat van diversiteit in eenheid, begryp hulle skynbaar nie dat ware eenheid slegs in die Bybelse waarheid en in die onderskrywing van die basiese waarhede – soos die Apostoliese Geloofsbelydenis – bestaan nie.

Prof. Hoffie Hofmeyr.

Hy sê heelwat misleidende standpunte is deur die jare uitgedra, terwyl die manier waarop dit gedoen is, ook kommer gewek het. “Ek het dit ook persoonlik beleef toe ek as kerkhistorikus standpunt begin inneem het teen sommige Bybelwetenskaplikes en praktiese teoloë se standpunte (want die meeste van ons dogmatici was maar doodstil).

“Die styl van doen (sonder om enige name te noem) het in dié tyd maar ook tot in ons tyd gewissel van arrogansie, selfvoldaanheid, boelietegnieke, manipulasie en gebrek aan gesonde oordeel. Dit het gegeld vir sommige teoloë maar ook verskillende senior funksionarisse of kerkleiers in die NG Kerk. Bepaalde agendas is gedryf, voorsitters van vergaderings (ook selfs van sinodes) het dikwels hul eie standpunte bevorder, en dít jammer genoeg dikwels in die naam van menseregte en gewaande humanistiese waardes,” skryf Hofmeyr.

Hofmeyr sê sommige kerkleiers luister nie na verskillende stemme of beswaarskrifte nie. Hy waarsku dat daar in baie kringe gevoel word dat die Wes-Kaapse streeksinode die kerk gekaap het.

“NG Kerkleiers neem ten slotte ook kennis daarvan dat NG dosente wat nie meer respek vir die Woord en basiese geloofskwessies het nie, tot orde geroep moet word, want ons kan nie alles vir almal wees en later niks meer vir niemand nie,” pleit Hofmeyr.

Hy sê ook aan kerkleiers hulle het nou een van die laaste geleenthede om ʼn skeuring in die NGK te vermy.

“Maar dit vra van julle om selfondersoek te doen oor julle teologiese standpunte, oor julle soort leierskap, oor julle saamspeel met die wêreld se modegrille, oor julle selfingenome styl wanneer julle met medegelowiges besig is, en bowenal oor julle verhouding met die lewende God. Mag julle met hierdie reguit, ernstige maar ook opregte oproep erns maak voordat dit te laat is.”

Groeiende ontevredenheid

Hofmeyr is ook nie die enigste een wat ongemaklik is met die NGK se omgaan met die Woord nie.

Al hoe meer lidmate en gemeen­te­­leiers is toenemend ongemaklik met Skrifgebruik in die NG Kerk en maak hul stemme daaroor dik.

(Foto: pixabay)

ʼn Spesiale drie dae lange beraad is die afgelope week by die Moreleta-gemeente in Pretoria gehou om ʼn weg vorentoe te vind nadat die “Algemene Sinode gaandeweg in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif be­vraag­teken word en waar daar groot verskille oor Skrif­in­ter­pretasie ontstaan het”.

Moreleta, as gasheergemeente, het belangstellendes wat bekommerd is oor Skrifgebruik in die kerk – veral wat betref homoseksualiteit – genooi om daaroor te vergader. ʼn Dokument met riglyne vir die beraad lui dat die sinode die afgelope paar jaar op verskillende terreine al hoe verder wegbeweeg van die gereformeerde leer en belydenis. Dit is in 2016 op die spits gedryf met die sinode se omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudings. “Hierdie besluite was direk in stryd met die NG Kerk asook die meeste ander gereformeerde kerke se standpunt en prediking hieroor deur die eeue.”

Die beraad het ook die sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings verlede jaar in die geheel verwerp omdat dit volgens hom onwettig, ongeldig en direk in stryd met God se Woord is. (Die sinode het toe besluit gemeentes mag self besluit of hulle gay predikante gaan aanstel en of hulle selfdegeslagverhoudings ingevolge wetgewing gaan bekragtig.)

God se Woord vs. mense se woorde oor God

(Foto: pixabay)

Hofmeyr, ʼn kerkhistorikus wat ná sy aftrede aan twee universiteite in België en Engeland verbonde was en tot onlangs rektor van die Nkhoma-universiteit in Malawi, het by navraag aan Maroela Media gesê in wese gaan die gesprek oor of die Bybel God se Woord is, of eerder mense se woorde oor God.

“Ons mense voel baie sterk daaroor dat dit God se Woord bly. As dit net mense se woorde oor God sou word, kan ons maar die kerk se deure sluit. Dit gaan oor God se Woord in mensetaal, versus mense se woorde oor God.”

Hofmeyr sê vir hom is die kwessie oor homoseksualiteit ʼn sekondêre saak. “Die kerk, en veral die NGK, is die afgelope paar jaar met gays besig, pleks daarvan dat hulle met die kerk se werk besig is.

“Ons leefwêreld het verander, maar daar is oral grense.”

Hy sê dit is belangrik dat die kerk ʼn boodskap van liefde en hoop uitdra. “Hy moet hom nie heeltyd met issues besig hou nie. Die kerk het ʼn enorme taak om ʼn boodskap van hoop te versprei.”

Volgens hom het die kerk ʼn koninklike, priesterlike en profetiese plig. “Die kerk het steeds ʼn sleutelrol te speel en is een van die min ankers wat ons in moeilike tye het.”

Hy sê hy hoop kerkleiers neem sy brief ter harte en dat dit in die breë tot selfondersoek lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Snowball ·

Reeds in die 1800’s sê Charles Spurgeon die volgende :
” A time will come when instead of shepherds tending their sheep, the church will have clowns entertaining the goats ”
Daardie tyd blyk nou te wees.

Dankie vir Prof Hofmeyr wat nog maan dat God se Woord sentraal moet wees – daarin lê die vind van God se Waarheid vir alle sondaars en die Verlossingsboodskap vir alle mense.

Marietjie ·

Dankie Prof dat u opstaan vir die waarheid soos in die Bybel opgeteken. Predikante moet ophou preek oor liefde en bekering begin preek. Humanisme vier tans hoogty. Die mens moet tevrede gehou word maar God word nie tevrede gehou! Hoekom stig Wes Kaap sinode nie af en los ons ander sinodes om die waarheid te verkondig nie? Ons is geregtig om te staan by ons standpunt dat ons NIE in selfdegeslagverhoudinge glo nie.

Leeuwyfie ·

Ek kan nie eers indink hoe mense wat hulself Christene noem kan twyfel oor die opstanding nie. As daar nie so iets was nie sou al die apostels nie hul lewe gegee het vir die verkondiging van Jesus nie. Daar is geen twyfel aan Sy opstanding nie.

Ons moet liewers gaan kyk hoekom is Jesus so gehaat. Hy is verafsku deur Sy “mede-jode”.
As mens daarna gaan kyk in die evangelie dan kan mens verstaan hoekom. Hy het met ‘n spieël reg voor elke een gestaan. ‘n Spieël wat al jou vrot plekke laat uitstaan.
En die wat so lief is vir hul sonde kon nie die waarheid daarvan vat nie. Redes is gekry om Hom tot ‘n val te bring. Die waarheid maak seer. En as jy nie die waarheid wil aanvaar nie, dan word jy verbitter teenoor als wat goed is.
Dis hoekom mense nie wil glo dat dit waarna hul vlees smag verkeerd kan wees nie. Die sonde is te lekker. Dus moet die waarheid verander word om ons sondige natuur te pas.
Ek is ‘n sondaar, maar ek is gered. Uit dankbaarheid vir my redding draai ek weg van my sonde

Leon ·

Christus waarsku ons teen die vals profete. Kerkreëls word vernder om die mense gelukkig te maak, nie om Christus te dien nie. Ek is nie teen gays, maar gay huwelike is uit en gay saambly is uit. Persoonlike voorkeur. Chistus het die self in die Nuwe Testament veroordeel.

Carel Johannes ·

Dankie prof. Hofmeyer, stem 100% saam met jou. Die nuwe sienings is ontbloot van alle waarheid. Dit is tyd dat die Algemene Sinode vaarwel geroep word, en dat die gemeentes en lidmate wat bely dat die Bybel die woord van ons God is bymekaar staan en ‘n teologiese skool sal begin getrou aan die Bybel en die beloftes van die Koning van alle konings.

Kerneels ·

Die woordtjie “humanisme” wat Homeyr noem is die kern van die probleem. Dis agv sogenaamde menseregte (humanisme) dat menslike begeertes nou voorrang geniet bo God se wette. Die onlangse hofgeding tussen Gaum & kie en die NGK het dit geilistreer.

Nou wil die sinode maak asof hulle die pous is en voorskryf aan gemeentes. Die NGK is nie die roomskatolieke kerk nie. Gemeentes self is die kerk. En die oorgrote meerderheid van gemeentes binne die NGK is gekant teen wat nou besig is om te gebeur binne die NGK. Kom ons dink mooi voor ons praat van “skeuring” en maak eerder die NGK van binne weer getrou aan God.

Stefan ·

Die Prof weet waarvan hy praat. Of die NG kerk skeur of nie gaan my nie aan nie, want ek is nie meer lidmaat daar nie juis om hierdie redes wat die Prof noem.

Kerneels ·

Prof Hofmeyr stel dit baie mooi dat humanisme nie bo God se wette gestel moet word nie. Die moderators van die NGK moet versigtig wees om nie voorskriftelik te wees vir NG gemeentes nie. Ek sê maar net…

Jakes ·

Ek steun prof Hofmeyr se standpunt. Ek wil egter ook beklemtoon dat die skrifgeleerdes self verantwoordelik was vir die kruisiging van Christus en nie die gepeupel of die sondaars nie. Die stellings wat van tyd tot tyd deur sommige grootkoppe in die sinode gemaak word word grens aan blote minagting en n gebrek aan respek vir God se Woord.

Abel ·

Daar is mense wat behae skep uit die moontlikheid van ‘n skeuring in die NGK. En daar is sekere [Sondag] koerante en individue wat dit hul missie maak om verdeeldheid in die NGK te saai. Oop debat en gespreksvoering is essensiële element van die gereformeerde tradisie; dit is hoekom ons is wat ons is. Ek sal bang word die dag as die NGK so dogmaties raak dat ons nie meer die kern en betekenis van Christis se liefde kan bedink en beredeneer nie. Die Christelike godsdiens is nie ‘n abstrakte godsdiens nie. God se liefde kom juis op ‘n diep persoonlike wyse tot openbaring vir elkeen van ons as individue en sondaars. Ons mag nie vandalisties en afbrekend omgaan met ander mense se geloof in Christus en die betekenis van hul geloof nie. Dit vul my ook met onverstaanbaarheid dat mense wat lank nie meer lede is van die NGK nie, nog steeds hul stemme verhef en gulsig meewerk aan die aftakeling van die NGK. Skaam julle! Dat julle aktief werk in die afbreking van ‘n Christelike kerk

Leeuwyfie ·

As die kerke nie bybelsgebaseerd is nie, dan is dit nie ‘n Christelike kerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.