Ope brief aan Zuma oor Oscar-“haatspraakartikel”

'n Skermskoot van die webtuiste waar die artikel verskyn

‘n Skermskoot van die webtuiste waar die artikel verskyn

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het Donderdag gesê die party het ʼn ope brief aan pres. Jacob Zuma gerig oor die “rassistiese haatspraak-opiniestuk” wat deur Sandile Memela, ‘n hoofdirekteur in die departement van kuns en kultuur, geskryf is.

“Die CDP doen dringend ‘n oproep op die president om in dié saak in te gryp,” het ds. Theunis Botha, leier van die CDP, gesê. “Die land kan nie oplaaiende rassespanning bekostig nie; nie nou in die aanloop tot die algemene verkiesing nie, en ook nooit nie. Ons veroordeel die stereotipering wat Memela gebruik het om rassespanning aan te hits.”

Die Vryheidsfront Plus het Woensdag bekend gemaak die party gaan die Menseregtekommissie (MRK) versoek om ondersoek in te stel oor aanmerkings deur Memela.

In ʼn artikel op die Mail&Guardian se Thought Leader-webtuiste vra Memela of Pistorius tans op verhoor sou wees indien hy ʼn swart man vermoor het. Die artikel is getiteld ‘Oscar would be a hero if Reeva was a black man’. “Daar bestaan geen twyfel, ten minste nie in my mening nie, dat Oscar vergewe sou word indien hy ʼn swart man, wat by sy huis ingebreek het, ongenadiglik doodgemaak het nie,” skryf Memela. “Jy sien, wanneer sommige wittes wapens koop en bymekaarmaak is dit om twee goed dood te maak, naamlik diere en swart mense.”

Mogomotsi Mogodiri, woordvoerder van die departement van kuns en kultuur, sê Memela het die artikel in sy persoonlike kapasiteit geskryf. “Sy uitsprake is nie dié van die departement nie.” Hy sê Memela het die artikel geskryf as deel van die openbare debat wat vryheid van uitdrukking en vryheid van spraak versterk. “Ons wil hê mense moet met Memela in gesprek tree oor sy idees sodat ons openbare debat kan verryk in die gees van nasiebou en nasionale samehorigheid.”

Lees ook:
Nuuskommentaar: “As Oscar ‘n swart man geskiet het was hy ‘n held” – Is erger rassisme as dit moontlik?
VF Plus gaan beampte by MRK aankla oor ‘rassistiese’ Oscar-artikel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daleen ·

Waarvan praat die man? Verstaan nie hoe hy ‘n onskuldige vrou kan vergelyk met ‘n (swart) man wat vir duistere redes by ‘n huis inbreek nie. En selfs al was dit ‘n (swart) man, sou Oscar ieg nou in die hof gesit het. Hy is nie en sou ook nie my hero gewees het nie.

wil net se ·

Niemand het gese die inbreker (wat oscar gedink het dit is nie), is swart nie… Hulle het self nou aangeneem dit sou ‘n swart inbreker gewees het. Wys jou nou net… Sy gedagtes is rasisties en hy ly aan ‘n rasistiese kompleks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.