Openbaarmaking van seksregister verwelkom, maar…

(Foto: pixabay)

Die drukgroep Action Society het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die nasionale register van seksoortreders voortaan vir die publiek toeganklik gaan wees, verwelkom en sê die organisasie stry reeds ʼn jarelange stryd hiervoor.

Benewens die aankondiging dat die register nou meer toeganklik gaan wees, het Ramaphosa ook gesê seksoortreders se name gaan voortaan langer as tevore in die register opgeteken bly.

Die president het ook aangekondig dat veranderings aan die Wet op Seksuele Misdrywe gaan insluit dat seksuele teistering voortaan ʼn oortreding is. Die internasionale definisie hiervoor sou die publikasie of aanstuur van seksueel intimiderende grappe of seksueel eksplisiete foto’s en prente insluit.

ʼn Verdere ingrypende stap is die plaas van ʼn verpligting op enigeen wat redelikerwys kon vermoed ʼn misdaad word teen ʼn kind gepleeg, om so ʼn vermoede aan te meld by die owerhede. Versuim om dit te doen, word nou ʼn misdaad.

“Die besluit, tesame met die vooruitsig dat die name van seksoortreders teen vroue nou in die databasis ingesluit gaan word, is uitstekende nuus. Ons is egter steeds bekommerd oor die suksesvolle inwerkingstelling van die register en stel voor dat die bestuur daarvan geprivatiseer word,” het Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society, gesê.

Die privatisering van die register is iets waarvoor die drukgroep al vantevore gevra het.

Maroela het verlede maand berig die drukgroep het ʼn geskrewe antwoord van die registrateur van die register, Ntombizodwa Matjila, gekry dat die register sedert 2009 nie bygewerk is nie. Die getal aktiewe en hangende skuldigbevinding op die register was verlede jaar 19 668.

“Gegewe die statistieke dat 50 980 kinders tussen 2014 en 2017 verkrag en 2 600 vermoor is, dui hierdie syfer daarop dat duisende verkragters tussen ons vroue en kinders ronddwaal,” het Gouws gesê.

“Afgesien van die feit dat die register onbetroubaar is, is dit ook nutteloos.”

Die drukgroep sê deur middel van vennootskappe tussen verskillende organisasies kan die regering bygestaan word om die register in ʼn doeltreffend bestuurde databasis te verander wat kwesbare partye suksesvol help beskerm. Die organisasie sê ook dat die wantroue wat talle Suid-Afrikaners in die strafregstelsel het, moet herstel word.

Action Society sê hoewel talle versoeke vir klaringsertifikate al ingedien is, kan die register werkgewers steeds nie met akkurate inligting help nie. Daar is dus weinig beheer oor of ʼn onderwyser of versorger in byvoorbeeld ʼn kind se klaskamer ʼn seksoortreder is of nie. Die status van aanneem- of pleegouers kan ook nie nagegaan word nie.

“Deur saam met die regering te werk kan ons die talle hindernisse uit die weg ruim wat verhoed dat  die register doeltreffend bestuur word. As die korrekte protokol gevolg word, kan die register die doel bereik wat in 2007 daarvoor gestel is: die vermindering van die voorkoms van seksuele oortredings in Suid-Afrika.”

Die drukgroep sê hy ondersteun Ramaphosa se besluit om die wetsontwerpe – wat mense se lewe kan verander – te wysig.

“ʼn Burokratiese staat rig meer skade aan as wat dit goed doen. Ons hoop dus dat die regering die hulp van private instellings gaan gebruik om die uiters belangrike register doeltreffend en bekwaam te bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fedup ·

Let’s see if the cup cakes will get icing?
I personally think that all this talking and blabbing us a waste of time.
Decide and do.
Nothing to it really.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.