Openbare beskermer bevind teen Zille, Mbalula en DG van finansies

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwabane, het Woensdag ernstige bevindings oor etiese oortredings gemaak teen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, oudminister Fikile Mbalula en die direkteur-generaal van finansies, Dondo Mogajane.

Helen Zille

Oor Zille het sy bevind die premier het die Grondwet en die etiekkode vir uitvoerende ampsbekleërs oortree toe sy haar posisie as premier misbruik het om ‘n maatskappy waarby haar seun betrokke is, te bevoordeel.

Mkhwebane het benadruk dat hoewel nie Zille of haar seun finansieel voordeel getrek het uit die voorsiening van rekenaartablette aan haar seun Paul Maree se maatskappy, Paper Video, nie, het sy art. 136 (2) van die Grondwet oortree, wat onder meer bepaal “geen openbare ampsbekleër mag hulself blootstel aan enige situasie wat hulle blootstel aan die risiko van ‘n konflik tussen hul openbare verantwoordelikheid en hul private belange nie”.

Die regstoets is dus volgens Mkhwebane nie of daar bevoordeling was nie, maar of die risiko van bevoordeling geskep is.

Mkhwebane het bevind Zille het wel daardie risiko geskep deur haar betrokkenheid by e-posse aan senior Wes-Kaapse regeringsamptenare in haar eie departement en die Wes-Kaapse onderwysdepartement om haar seun se maatskappy te bevorder, al was dit nie vir winsbejag nie, want dit is die maatskappy se sagteware wat gebruik is.

Hoewel Mkhwebane bevind het dat die publiek voordeel getrek het uit die gebeure, is haar bevinding dat die premier se seun se maatskappy ook onregmatig voordeel getrek het – en dis waaroor die bevinding handel.

Mkhwebane het die Wes-Kaapse wetgewer en die Nasionale Raad van Provinsies dertig dae gegee om die kwessie te bespreek. Gepaste stappe moet teen Zille gedoen word.

In reaksie het Zille vanmiddag gesê dis onwaar dat die rekenaartablette spesifiek vir die projek aangekoop is – dit sou in elk geval vir ‘n e-leerprojek gebruik word. Sy is ook ontevrede dat die klag teen haar drie jaar ná die gebeure ingedien is deur die ANC-LP Cameron Dugmore, en gaan Mkhwebane se bevindings in die hof beveg.

In ‘n omvattende verklaring sê Zille haar seun was in 2014 ‘n wiskunde-onderwyser in Khayelitsha, wat gratis matriekhersieningsprogramme voorberei het om benadeelde leerlinge te help. Hy het die programme gratis in skole aangebied, maar sommige skole se digitale kapasiteit was ontoereikend. Hy het dit vir sy ma gesê, wat gemeen het dis ‘n jammerte, veral vir die leerders.

Sy het dit toe aan die direkteur-generaal van die provinsie, Brett Gerber, genoem, wat haar meegedeel het dat die onderwysdepartement rekenaartablette vir ‘n soortgelyke doel aangekoop het. Sy wou weet of dit beskikbaar is vir die gratis wiskunde-hersiening. In totaal het 150 rekenaartablette toe al by die onderwysdepartement aangekom.

Zille se seun het die rekenaartablette toe by die onderwysdepartement geleen, voer sy aan, asook dat dit nie ‘n konflik nie maar ‘n samevloeiing van belang is omdat almal voordeel getrek het.

Zille ontken voorts dat daar ‘n risiko van die persepsie van bevoordeling is omdat sy vir die LUR vir onderwys in haar kabinet, Debbie Schäfer, opdrag gegee het dat enigeen wat sulke dienste verskaf uit die tablette voordeel moet trek, en dus (so voer Zille aan) nie haar seun bevoordeel het nie.

Fikile Mbalula

Wat Mbalula betref het Mkhwebane bevind dat die betaling wat hy ontvang het vir ‘n familievakansie in Doebai onregmatig was en dat die Nasionale Vervolgingsgesag tot die gepaste optrede moet oorgaan. Lees meer hier.

Dondo Mogajane

In die geval van Mogajane het die openbare beskermer bevind dat sy aanstelling (deur die eertydse minister van finansies, Malusi Gigaba) onregmatig was omdat hy ‘n vorige wetsoortreding verswyg het.

Dit beteken ‘n nuwe direkteur-generaal van finansies sal aangestel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genieve ·

Dit wat sy moet doen dit doen sy nie..Essie suur druiwe ja haa hele gesigs uitdrukking se so

Dries ·

Houvas net mooi aan al di kante, dat hierdie haar behoorlik kan kloof…

Elvira ·

Wanneer gaan julle ophou om mekaar te BYT en begin om hierdie land vooruitstrewend te maak.? In 2018 is meer belastingbetalers se geld aan hofsake bestee as enige iets anders. Hoeveel mense kon nie met al daardie geld gehelp gewees het nie.

Paul ·

Sy mag reg wees, maar wie glo haar na sy tot dusver net aangejaag het, moet mens nie dalk ‘n ander ondersoek laat doen nie. Duidelik is sy onbevoeg. Dit sal beste wees as sy vervang word, want so kan mens nie aangaan nie. Ek sien Zille gaan al klaar dit op hersiening neem. CR glo seker sy doen net sulke goeie prysenswaardige werk soos wat Dramini doen.

Ouvrou ·

R100 bil plus verlore met staatskaping en sy hou haar hiermee besig? Net in Suid-Afrika!

ne ·

Helen, vat haar aan! Belastingbetalers sal maar weer moet opdok vir haar foutjie. Kan sy nie liewer haar bepaal by al die ander bedrog nie? Of is dit te veel gevra om die anc te ondersoek?

John ·

En wanneer gaan die ex-prez en die huidige een aangevat word oor hul seuntjies se saketransaksies met die pappies se glo medewete en samewerking?

Stripes ·

“As jy ‘n hond wil slaan sal jy ‘n stok kry; niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie; ens.” Gesegdes uit my kinderdae uit. Nie altyd verstaan nie, tot nou toe. Verkiesingstegniek, lei die aandag af. Dan is daar mos nou derduisende soortgelyke sake moet moet aandag geniet in al die sogenaamde “SOE’s” se bedrog en diefstalle wat plaasgevind het en maar sekerlik nogsteeds aan die gang is. Nuwe besem, sonder hare, wat die indruk probeer skep dat dit skoon vee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.