Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het nogmaals geen bevinding van wandade teen die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, of oudminister Tina Joemat-Pettersson gemaak nie, en het ‘n nuwe poging op belastingbetalersonkoste begin om te keer dat die parlement haar afdank.
In ‘n verslag oor die Vrede-suiwelprojek na ‘n klagte van die leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, dr. Roy Jankielsohn, het Mkhwebane bevind Magashule het verkeerde inligting verskaf in antwoord op ‘n vraag deur Jankielsohn in die provinsiale wetgewer terwyl Magashule Vrystaatse premier was, maar dat hy dit nie aspris gedoen het nie, so hy is skotvry.
Die verslag is deur die DA verwerp.
Sy het wel bevind ‘n Vrystaatse LUR, Sam Mashinini, is skuldig.
In ‘n verslag wat handel met die verkoop van Suid-Afrika se strategiese oliereserwes toe Joemat-Pettersson minister van energie was, het Mkhwebane skaars na die oudminister verwys en geen bevindings teen haar gemaak nie.
Die VF Plus het hierdie verslag van die openbare beskermer verwerp.
Mkhwebane het ook onlangs op belastingbetalerskoste ‘n verdere hofgeding in die Kaapse hooggeregshof begin om te probeer om die parlement se ondersoek na haar geskiktheid vir haar amp te vertraag of te verhoed. As die parlement bevind sy is ongeskik vir haar amp, verloor sy haar werk en haar inkomste.
Die DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, het gesê Mkhwebane gebruik bloot die geld van die belastingbetaler om in ‘n pos te bly waarvoor sy nie opgewasse is nie.
Uitspraak in hierdie verband is deur ‘n volbank van die Kaapse hooggeregshof voorbehou.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Waar koop ons die papiere vir die titel? Ag asb tog help my ook
Die verslag lyk nie vir my geloofwaardig nie.
Het die een al ‘n kopdoek probeer? Verstaan dit gee wysheid en brein krag! Die geel en oranje kopdoeke kom veral sterk deur. ‘n Hoed is ook goed!
Hoekom sloer die parlement só met dié slang? Én laat toe dat sy meer en meer geld mors? Én haar trawante bly beskerm? Daai Ace moet nou in boeie kom.
Wanneer gaan die regering besluit om haar te vervang? Sy is ‘ n verleentheid vir Suid-Afrika! Vervang haar asseblief met iemand wat weet hoe om die wet reg te vertolk!