Openbare beskermer veg terug teen klagtes

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwabane, veg in ʼn brief aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste vuriglik terug teen ʼn poging van die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, om haar uit haar pos te verwyder.

Luidens ʼn omvattende regstegniese brief van 25 bladsye wat vanoggend in die portefeuljekomitee ter tafel gele is, meen Mkhwebane om verskeie redes dat die komitee nie ʼn verhoor kan hou oor of sy uit haar pos verwyder moet word nie.

Die brief sal eers volgende week deur die komitee bespreek word nadat dit eers gister ná 23:00 aan komiteelede gestuur is. Die DA en ACDP het beswaar gemaak dat dit van hulle weerhou is ten spyte daarvan dat Mkhwebane dit reeds op 5 Julie – ʼn maand en ʼn half gelede – aan die portefeuljekomitee gestuur het.

In ʼn vroeë aanduiding dat die ANC dalk vir Mkhwebane gaan beskerm het die ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee, adv. Mathole Motshekga, aangedring dat die bespreking nietemin voortgaan, wat tot ʼn warm stryery tussen hom en die DA-LP adv. Glynnis Breytenbach gelei het,

Daar is toe besluit om die bespreking tot volgende week uit te stel. In haar brief is Mkhwebane op die oorlogspad. Sy voer aan dat sy haar werk goed doen en dat haar kantoor oor die afgelope twee jaar meer as 21 000 van die sowat 25 000 sake wat na hulle verwys is, suksesvol afgehandel het.

Sy moet egter toegee dat sowat ʼn kwart van haar verslae reeds in die hof betwis is en dat aspekte van verskeie hiervan deur die hof tersyde gestel is, hoewel geen verslag in sy geheel deur ʼn hof tersyde gestel is nie.

Sy voer ook aan dat die regsproses vir die hofbevindings teen haar waarop Steenhuisen se argument berus, weens appèlle nog nie afgeloop is nie. Sy meen ook dat die kritiek wat die komitee as geheel al teen haar werk gelewer het, beteken sy kan nie ʼn regverdige verhoor van die komitee verwag nie.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Hoewel sy toegee dat die portefeuljekomitee die reg het om haar aanspreeklik te hou, meen sy nietemin Steenhuisen se klagtes in ongrondwetlik. Sy kom by die punt uit deur haarself gelyk te stel aan ʼn regter, van wie die opsy stel van ʼn bevinding nie beteken hy of sy is regtens aanspreeklik vir skade nie.

Mkhwebane meen voorts sy word gedek deur die parlementere reëls dat regters nie in die parlement gekritiseer mag word nie.

Sy is spesifiek die hoenders in omdat die portefeuljekomitee haar ondersoek na die Gupta-gekoppelde suiwelprojek by Vrede reeds gekritiseer het. Sy meen dus die komitee is haar vyandig gesind en kan haar dus nie verhoor nie.

Dan raak Mkhwebane polities. In klaarblyklike ignorering daarvan dat die EFF ook ten gunste van haar afdanking is, begin sy die DA aanval asof dié party haar nog altyd vyandig gesind was.

Sy meen ook die portefeuljekomitee skuld haar ʼn openbare verskoning vir wat sy “weersinswekkende aanvalle” op haar noem. Sy meen dus dat die komitee bevooroordeeld jeens haar staan en haar nie behoort te verhoor nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adam ·

As mens in n hoek gedryf word soek jy mos jou foute by ander mense behalwe jou self Sy is nou maar een maal nie oogewasse vir die take nie Miskien is Die standaarde te hoor vir haar

Theresa B ·

Nooit hulle nie – altyd ander. Maar sy het self al oor en oor bewys dat sy heeltemal onbevoeg is vir so belangrike pos.

Wondermaarnet ·

Sy is mos ‘n dik pel van Jacob Zuma. Kan hy haar nie nou te hulp snel nie?

Jerry ·

Sy het onder Zuma en buite haar mandaat probeer om ABSA te plunder en om die Reserwe Bank te nasionaliseer. Sy is deel van die Zuma faksie en hoe gouer sy haar ry kry, hoe beter sal dit vir SA en die DA wees.

Opreg ·

Ons soek vir Thuli terug. Sy is ‘n yster vrou en het vir niemand gebuig nie. Sy is ‘n vrou met moreles en waardes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.