‘Openbare gesondheid in gevaar weens nasionalisering’

Minister Aaron Motsoaledi. Foto: GCIS/Flickr

Die sakeregtewaghond AfriSake sê openbare gesondheid word in gevaar gestel met die toenemende nasionalisering van die gesondheidsorgbedryf.

Dit kom nadat Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, onlangs die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas vrygestel het.

Piet le Roux, hoof uitvoerende beampte van AfriSake, sê die NGV sal nie lede hê nie, maar eerder slagoffers.

“Met Motsoaledi se verbintenis tot ʼn nasionale gesondheidsversekeringskema skakel hy die gesondheidsorgbedryf om in ʼn staatsbeheerde onderneming, en mediese versekering in belasting,” sê Le Roux. “Dit stuur af op ʼn ramp. Motsoaledi laat slegs nominale ruimte vir die private sektor – in wese nasionaliseer hy die gesondheidsorgbedryf. Die gevolg sal dieselfde wees as met alle ander nasionaliserings: verlaging van gehalte, rantsoenering van dienste, korrupsie en burokratisering.”

Volgens hom onthul die NGV-wetsontwerp die struktuur van die befondsing van die NGV. Le Roux meen dit is ʼn stelsel met ʼn enkele betaler waarin die regering goedgekeurde private en openbare gesondheidsdiensverskaffers terugbetaal vir dienste wat aan NGV-lede gelewer is. Bydraes tot die NGV-fonds sal glo ook verpligtend wees.

“AfriSake is bekommerd dat die gedwonge betaling van alle gesondheidsorgfondse in een reuse-, burokratiese, staatsbeheerde stelsel net nog ʼn belasting gaan wees in ʼn land wat reeds onder korrupsie en staatskaping ly,” sê hy.

“Minister Motsoaledi hou aan om die goeie bedoelings met hierdie enorme en allesomvattende ingryping in die gesondheidsorgbedryf te beklemtoon – dit sal glo ‘goeie gehalte gesondheidsorg’ vir almal in Suid-Afrika verseker – maar hy beantwoord nie een van die moeiliker vrae oor die NGV nie. Die moeiliker vrae sluit in die enorme finansieringskoste van die NGV en die nadelige impak wat dit waarskynlik op die marklewering van mediese dienste sal hê.”

Le Roux sê die geprojekteerde befondsingskoste vir die 2026-boekjaar is ongeveer R256 miljard (bereken teen 2010-pryse); dit is ongeveer 6,2% van die geprojekteerde Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir die 2026-boekjaar.

“Die 2010-projeksies was egter gebaseer op ʼn ekonomiese groeikoers van minstens 3,5% per jaar, wat tans onbereikbaar lyk. Daarom sal die werklike befondsingskoste waarskynlik die projeksie van 6,2% BBP in die 2026-boekjaar ver oorskry. As gevolg van Suid-Afrika se byna stagnante ekonomiese groei en laer belastinginkomste is die NGV nou selfs minder bekostigbaar as voorheen.

“As ons groepe soos die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum se skattings van die koste om die NGV te befonds in ag neem, kan dié koste nader aan 12,5% van die BBP wees, wat naby aan die helfte van die regering se nasionale begroting is – iets wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig nie.”

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Hy sê die minister sê konstant dat rykes die armes moet subsidieer, en dat die gesonde die siekes moet subsidieer, en stedelinge die platteland, en hy steur hom glad nie aan die moontlike markverwringing en ontmoediging van so ʼn stelsel nie. Volgens Le Roux beteken dit dat die “klein en reeds oorbelaste poel belastingbetalers” ten volle verantwoordelik sal wees vir die finansiering van die NGV.

“Die minister bly wegskram van ʼn ware debat oor die NGV deur byvoorbeeld kritiek op die disfunksionele openbare gesondheidsorgstelsel te misken. Hy weier om ag te slaan op versoeke dat die openbare gesondheidsorgstelsel eers dramaties verbeter moet word voordat die NGV geïmplementeer word. Die openbare gesondheidsorgstelsel is chaoties as gevolg van rompslomp en onbevoegdheid wat onlangs daartoe gelei het dat mediese poste vakant bly terwyl pas-afgestudeerde dokters wag om geplaas te word. Die Gautengse departement van gesondheid se hantering van die Life Esidimeni-tragedie wek ook ernstige kommer oor die wysheid daarvan om gesondheidsorg in ʼn reuse-, duur staatsburokrasie te sentraliseer,” sê Le Roux.

Le Roux sê dit is duidelik dat die minister “die hele gesondheidsorgsektor wil verander in ʼn reusestaatsbeheerde onderneming”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Sê maar net ·

Die mense gaan die oorsaak wees dat die mense wat hard werk vir ‘n beter lewe …nie gaan wil werk nie…en die wat nie wil werk nie gaan alhoe meer bakhand staan… Ek het die storie by ‘n sendeling gehoor…hy het sending werk in Afrika gedoen…daar was 2 bure…die een het gesorg dat hy self onderhoudend was…die ander een het niks gehad. Die sendeling het vir die een wat niks gehad het…geld gegee sodat hy selfonderhoudend kon word. Oppad huistoe het hy weer hy die 2buurmanne aangedien…met teleurstelling het hy gesien daar gaan nou by albei niks aan…hy vra toe wat gaan hieraan. Die een wat niks gehad het…het die geld op ander goed vermors. ..en die een wat selfonderhoudend was het gesê…die buurman het niks gedoen en geld gekry…hy het toe ook besluit om niks te doen…wat die sendeling sal hom dan ook jammer kry en vir hom geld gee…

Francois Le Cochon ·

Dit is presies wat kommunisme is. Die uiteinde is dat almal in die land arm gaan wees.

Koos de Meyer. ·

Wat het nou van ons demokrasie geword. Dit lyk vir my meer na soialisme, grond ondeining, nasionalisering en wat nie nog alles nie. Waar gaan alles eindig.

Marguerite ·

Nog elke depatement onder staatsbeheer is bankrot bestuur. Hierdie is nog ‘n ramp! Die huidige staats hospitale MOET eers herstel word!

John ·

Dis nou duidelik, ‘n reis na Mars en verblyf daar sal baie meer voorspoedig verloop as hier op deeske SA-aardbodem. Die staatskas loop leeg en die fondse van die private mediese dienste blink aanloklik vir die lang vingers van die delers en die stelers en… daai wit gejikte lakens… aai my broe…

Bob ·

Ag Bollie man! Die ANC wil net stemme werf vir die volgende verkiesing. Die staat kan nie eers die klinieke in die “townships” behoorlik bestuur nie. HY is in die sop oor die swak vertoning van die Hospitale en gooi nou net ‘n groter “spanner” in die wiele om die aandag af te lei. Goeie “Trick”

Nouja ·

Hier kom groot hofsake. Dis hoogs onwaarskynlik dat die private gesondheids diens en mediese fondse die NGV sonder teenstand sal aanvaar.
Terwyl die een deur toegemaak word, gaan ander oop. Oor die volgende paar jaar sal “mediese toerisme” ‘n groot ding word waar huidige privaat RSA mediese praktisyns eenvoudig ‘n domicillium elders sal vind binne bekostigbare afstand van die meerderheid van hul huidige pasiënte.
Internet “doktors” en mediese adviseurs is die volgende industrie wat hier plaaslik gaan groei.
Die polisie dink hul het ‘n probleem met dwelmhandel, wag tot hulle gekonfronteer gaan word met gewone wetsgehoorsame burgers wat met medisyne gaan begin smokkel.
Bring it on Motsoaledi. Jy het nie ‘n idee wat se probleme jy vir jouself gaan skep nie.

Arie ·

Dit gaan ‘n ramp wees die regering het nog niks reg gedoen vandat hulle in beheer is nie

Eish ·

Nog n spyker in die helhool se doodkis.
Hier word die grootste ramp in die geskiedenis aanmekaargetimmer.
Indien ons n vlekkelose rekord gehad het van uitmuntende staatsadministrasie, n groeikoers na aan 10%, geen diskriminasie, lae misdaadsyfer en onverbiddelike optrede teen korrupsie, kon n mens dalk die voorstel n kans gegee het. Maar helaas, nou is die klomp soos die perd wat sien die rykes dra Rolex horlosies. Toe verkoop hy alles wat hy het en skat een àan. Net om agter te kom hy is nou brandarm!

Michelle ·

Gaan lees bietjie sy brief op iol nuus. Apartheid word (weer/steeds) blameer. Hierdie is dus nog iets wat gevat moet word omdat ‘slegs blankes voordeel’ kry.

Elvira ·

Ramp na ramp na ramp. Alles stort in duie on hierdie land.

Michelle ·

Gaan lees bietjie sy brief in iol news, dit bevestig sy beweegrede.

Sus ·

Hier is die potensiaal vir ‘n lekker vet beursie wat gestroop kan word. Ek sal ook nie verbaas wees as al die goeie mediese dokters op ‘n streep die land gaan verlaat nie.

André Kruger ·

Ek het as dokter gewerk in Engeland.. een van die rykste lande op aarde. Met my ervaring van hulle NHS, toe ek daar siek word vlieg ek gou RSA toe vir behandeling. Probeer nou daardie mislukte stelsel afdwing op ons ekonomie? Sallie werkie.

Zirk ·

Die voorgenome Nasionale Gesondheids Versekering plan is ‘n idiale voorbeeld van die storie van DIE MIER EN DIE SPRINGKAAN.

Liamari ·

Daar is reeds spesialiste wat landuit is en vele het tekenne gegee dat hulle sal volg. Hospitale gaan geboue raak waar mense gaan om dood te gaan…

Alida ·

Leamari, die gaan nie gebeur nie dit het reeds gebeur dat 144 mense van honger doodgaan. Die hele gesondheidsdiens is ‘n risiko.

Casper Labuschagne ·

Ons plaaslike Boitumelo hospitaal in Moqhaka is ‘n doodsvonnis. As jy daar in ‘n bed lê, gaan jy dood. Wees eerder siek by die huis maar bly ten alle koste uit die hospitaal uit. Ek ken hoeveel mense wat tydens roetine behandeling daar gesterf het en ek is letterlik verbaas as mense lewendig daar uitstap.

Casper Labuschagne ·

Die voorreg van staatsgesondheid vir almal behalwe die heel, heel rykstes. Soveel as vier uit vyf mense wat huidiglik ‘n privaat mediese fonds het sal dit in die toekoms nie meer kan bekostig nie.

Ek woon reeds in ‘n dorp waar die gemiddelde wit dokter of tandarts se ouderdom anderkant sestig is want die jonges gaan almal elders. Binnekort sal die hele land so lyk en kort daarna sal daar ook nie meer ouer dokters oorbly nie.

Michell ·

Ek is baie lief vir SA maar as dit moet gebeur verkoop ek alles en gaan Aus of NZ toe. Ek is nie bereid om in ‘n staatshospitaal te lê en wag om dood te gaan so ook met my kind.
Dit is nie net die heel rykes wat medies het en ook nie meer net wittes.
Hy moet sy oog klappe af haal en wakker word. Ek is van kleins af geleer jy kan nog sonder ‘n kar klaar kom maar ‘n medies fonds is ‘n MOET.
Die regering moet eers al die staats hospitale se standaarde op die regte vlak kry. As mens sien hoe lyk seker staats hospitale se badkamers, kamers is disgusting en dit is hygiene nie so moeilik om dit skoon te hou.
Kan nie glo Cyril laat dit toe nie …… wys jou hulle almal is dieselfde …. mooi beloftes oor hoe hulle alles gaan verander …. hoe gaan die gesegde “Talk is cheap and money buys the wiskey”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.