Openbare kommentaar oor Onteieningswetsontwerp aangevra

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die parlement het die publiek gevra om kommentaar te lewer op die Onteieningswetsontwerp wat vroeër vanjaar by die parlement ingedien is.

Dit is ’n baie omvattende wetsontwerp wat, in welke vorm die parlement dit ook al sal aanvaar, die huidige Onteieningswet, wat dateer uit 1975, sal vervang. Dit plaas baie minder lukrake mag in die staat se hande, want onteieningsprosesse en die regte van alle betrokkenes word verstewig en omvattender omskryf, maar die spesifieke gevalle ingevolge waarvan onteiening kan plaasvind, het vermeerder, so die wetsontwerp sal omstrede wees.

Maroela Media het reeds hier omvattend verslag gelewer oor die inhoud van die wetsontwerp, waarvan die jongste weergawe klaarblyklik nie juis verskil nie.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie wetsontwerp nie deel is van die proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig ten einde onteiening sonder vergoeding te vergemaklik nie. Hierdie wetsontwerp is ’n ander proses en het ’n ander strekking.

Die DA-LP Annette Steyn het alle eiendomsbesitters – insluitend die boerderygemeenskap, maar nie beperk tot die boerderygemeenskap nie – gemaan om die wetsontwerp baie versigtig te bestudeer en die kans te gebruik om hul stemme te laat hoor, want dit is vir die land belangrik dat spesifiek hierdie stuk sleutelwetgewing so goed moontlik geskryf word.

Die wetsontwerp soos nou gepubliseer, is volledig beskikbaar op die parlement se webblad by www.parliament.gov.za.

Die publiek kan nou tot 10 Februarie 2021 skriftelik kommentaar lewer op die inhoud van die wetsontwerp.

Om kommentaar te lewer moet ’n insetvorm voltooi word, wat by https://forms.gle/UqG2TXTBNzhsy45i8 beskikbaar is. Kommentaar kan saam met die vorm per e-pos ingedien word by [email protected] Kommentaar kan ook per WhatsApp gestuur word aan 060 550 9848.

Lede van die publiek wat graag ’n mondelinge voorlegging oor die wetgewing in die parlement wil doen, moet dié versoek  by hul skriftelike voorlegging insluit.

Sodanige mondelinge voorleggings sal hanteer word deur en gemaak word aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur.

Vir enige verdere navrae kan me. Nola Matinese gebel word op 083 709 8397.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jeff

Hoekom mors ons tyd met kommentaar. Hulle en
” hour peeple” ( uitdrukking spelling) GAAN dit doen in elk geval. Hulle gaan dit nie EERS LEES NIE.

Elmarie

Mense kerm en kla gou maar dóén nooit iets. Hopelik sal mense asb tog insette lewer

Maria

Die feit dat hulle eensydig kan besluit om jou glad nie te betaal vir jou grond nie, en ook dat hulle jou kan beboet as jy nie die grond en eiendom in stand hou tot hulle dit verkry deur onteiening is die grootste probleem volgens my. Hulle kan en sal dus besluit om jou nie te vergoed nie en jou te beboet as jy die eiendom laat agteruitgaan. Malligheid

Maria

Ek stel voor mense maak werk van hierdie. Om die vorm aanlyn in te vul was maklik