Openbare protesveldtog teen vergoedingskommissaris van stapel gestuur

Martin Badenhorst. Foto: Reint Dykema

Martin Badenhorst. Foto: Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag ʼn protesveldtog teen die vergoedingskommissaris van stapel gestuur nadat die kantoor van die vergoedingskommissaris glo in ʼn onlangse nuusberig gespog het met sy effektiewe stelsel terwyl talle werknemers al vir jare wag dat hul eise teen die vergoedingsfonds gefinaliseer word.

Solidariteit het Vrydag in ʼn brief aan die vergoedingskommissaris geëis dat die kommissaris dringend doeltreffende stappe moet neem om ’n behoorlike vergoedingsdiens aan werkers te lewer. Solidariteit meen dienslewering by die kantoor van die vergoedingskommissaris toon al vir sowat tien jaar ernstige tekens van verval.

Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid, het gesê die vakbond staan tans ongeveer 800 lede by met hul eise teen die vergoedingsfonds en is uiters besorg oor die gesloer om hierdie eise af te handel. “Die eisers is mense met gesinne wat die trauma van ernstige besering of siekte moes verduur en baie van hulle is nie in staat om met hul werk voort te gaan nie. Mediese rekeninge hoop op omdat medici nie bereid is om jare lank te wag om deur die vergoedingskantoor betaal te word nie.”

Martin Badenhorst is in Augustus 2010 aan diens beseer. Hy het tot en met 15 November 2011 betaling van sy werkgewer ontvang, waarna hy weens verlies aan inkomste ʼn eis by die Vergoedingskommissaris ingedien het. Hy het twee betalings ontvang, maar ʼn derde is steeds uitstaande. Mnr. Badenhorst is nog nie blywend arbeidsongeskik verklaar nie. Hy het sy huis en voertuig verloor omdat hy lank vir die betalings vanaf die Vergoedingskommissaris moes wag. Die nodige dokumente moes verskeie kere ingehandig word, maar die laaste keer wat navraag oor sy eis gedoen is, was daar geen rekord van die dokumente op die Vergoedingskommissaris se stelsel nie.

Koos Cronje is in 2007 aan diens beseer, waarna die nodige verslae by die Vergoedingskommissaris ingedien is. Die skandering van die verslae was ʼn groot probleem in daardie stadium en die dokumente moes verskeie kere weer ingehandig word. Mnr. Cronje se eis is heropen vir ʼn volledige knievervanging. Die finale verslag ná die heropening van die eis is op 3 Oktober 2013 per hand by die Vergoedingskommissaris ingedien. Solidariteit het eers op 29 Januarie 2015 die finale beslissing rakende mnr. Cronje se blywende arbeidsongeskiktheid ontvang. Laasgenoemde is genoteer maar is nog nie goedgekeur nie.

Mardon het gesê Solidariteit het al by verskeie geleenthede sy besorgdheid oor die swak dienslewering onder die kommissaris se aandag gebring. “Die kommissaris het tot dusver geen poging aangewend om dienslewering deur sy kantoor te verbeter nie. Sedert die instelling van die Umehluko-stelsel is min, indien enige, vergoedingsbetalings aan enige van die persone wat deur Solidariteit verteenwoordig word, gemaak – ten spyte daarvan dat die eise vir uitbetaling goedgekeur is.”

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.