Openlike aanslag teen Ramaphosa; Duduzane mik na parlement

Duduzane Zuma. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency(ANA)

Die openlike ontplooiing van die Zuma-faksie in die ANC se stryd teen pres. Cyril Ramaphosa het begin.

Die ontplooiing van hierdie aanslag teen Ramaphosa is lankal beplan en verwag. Dit manifesteer kort voor die party se nasionale algemene raadsvergadering (waar die Zuma-groep ‘n mosie van wantroue teen Ramaphosa beplan as die klimaat daarvoor gunstig blyk te wees) en sowat 21 maande voor die party se volgende leiersverkiesing (waar die Zuma-groep gaan poog om met hul eie kandidaat vir Ramaphosa te ontsetel).

Vier verwikkelinge die afgelope week het daardie aanduiding duidelik gemaak, naamlik die aankondiging deur oudpres. Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma, dat hy Ramaphosa wil teenstaan in volgende jaar se ANC-leiersverkiesing, die openlike en uitgelekte tweespalt in die ANC-koukus oor die lot van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, die stigting van ‘n leierskorps vir die Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-groepering in die ANC, en die nuutste opportunistiese optrede deur die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Duduzane Zuma het in ‘n onderhoud met die Sondagkoerant Rapport aangekondig dat hy homself volgende jaar vir die ANC-presidentskap verkiesbaar gaan stel. Sy doelwit is om, wat hy as sy pa se goeie werk beskou, voort te sit deur RET en die stryd teen sogenaamde wit monopliekapitaal met groter ywer deur te voer.

Boonop het die RET-groepering, wat Zuma meer goedgesind is as vir Ramaphosa, luidens ‘n rubriek deur die City Press-redakteur Mondli Makhanya nou ‘n bestuurspan verkies wat daarop uit is om die ANC oor te neem deur die meeste takke se besture te infiltreer.

Derdens het Magashule hom verlede week aangesluit by studenteprotes teen die regering se hantering van studenteskuld. Magashule het ook gesê die ANC moet nie instem tot ‘n DA-voorstel dat Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos deur die parlement heroorweeg word nie.

Dit het gelei tot die vierde punt, naamlik dat die ANC-koukus die kwessie oor die openbare beskermer verlede week bespreek het. Daar het die RET/Zuma/Magashule-faksie ‘n stewige nederlaag gely, soos Maroela Media reeds berig het.

Dit is die tweede groot nederlaag wat hulle daar ly – sowat agtien maande gelede het hulle ook misluk in ‘n poging om ‘n mosie van wantroue te stel in Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings.

Dit is egter ook ‘n aanduiding dat hulle sal aanhou probeer, en dat hulle nie sal moed opgee in hul pogings om Ramaphosa te verswak en uiteindelik te verslaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Enigste rede hier is om die RET faksie toe te laat om verder te plunder.

Hannes

Skaamteloos en Gewentenloos word Suid Afrika deur die ZUMA’S gevange gehou.
Liewe Vader is daar geen einde aan die ANC se mag oor ons land en mense nie????

Chris dupreez

Ek kan nie help om te wonder of eerlike mense vir Duduzani Zuma gaan stem nie

Dup

Sommige mense sal vir enigiemand stem….t hemp…..pet en boereworsrol verrig wondere…..

Michal

Zuma seun “pupet”