#OpenOurUniversities: Só lyk DA se voorstel

DASO-studente (September 2016) Foto: @caralee017 via @DASOTuks, Twitter)

DASO-studente (September 2016) Foto: @caralee017 via @DASOTuks, Twitter)

Belinda Bozzoli, die Demokratiese Alliansie se skaduminister oor hoër onderwys en opleiding, het tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg dié party se voorstel bekend gemaak oor die krisis by universiteite.

Bozzoli het gewaarsku indien universiteite nie binne die volgende week hul deure oopmaak nie, is dit moontlik dat die akademiese jaar uitgestel moet word. “Die impak daarvan sal katastrofies wees. Belangrike bedrywe, soos gesondheid, sal van duisende nuwe rekrute ontneem word en tienduisende matrikulante wat in 2017 wou studeer, sal by die huis moet bly of ʼn werk moet kry,” het sy gesê.

Volgens haar het die krisis nie oornag gebeur nie. “Dit kom al ʼn lang pad. Dit is aangevuur deur ʼn ANC-regering wat nie omgee nie. Wat korrupsie geprioritiseer het, in plaas van die beste belange van jong Suid-Afrikaners. Ons universiteite is chronies onderbefonds en word gereeld swak bestuur en dit word as onbelangrik beskou in die toekomstige ontwikkeling van ons land.”

Bozzoli het verduidelik staatsubsidies as ʼn gedeelte van universiteite se inkomste het sedert 2000 van 49% na 40% in 2014 gedaal. “Dit maak universiteite al hoe meer afhanklik van studentegelde as ʼn bron van inkomste en moet gevolglik jaarliks verhogings toepas.”

Sy het gesê Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se “los en laat gaan”-houding nadat hy die aankondiging oor studentegeldeverhogings gemaak het, het daartoe gelei dat die krisis vinnig geëskaleer het. “Die parlement, ondanks talle versoeke van die DA, het geweier om ʼn spesialekomiteevergadering te belê en pres. Jacob Zuma gaan maar net soos gewoonlik voort met dieselfde ou notas. Dit is sonder twyfel dat Jacob Zuma en sy regering aanspreeklikheid moet aanvaar vir die krisis wat hierdie jaar ontvou het.”

Die DA se finansieringsmodel

Bozzoli het gesê die DA stel die volgende voor:

– Die armste studente moet omvattend ondersteun word;
– Die “vermiste middel”-studente moet ondersteuning ontvang, proporsioneel tot hul finansiële omstandighede;
– Gegoede studente moet nie finansiële hulp van die regering ontvang vir studentegelde of ander uitgawes nie;
– Universiteitsubsidies moet geleidelik tot ʼn vlak van 50% van koste styg om (a) gehalte onderrig te ondersteun en (b) die studentegeldeverhoging-kringloop te minimaliseer wat tans plaasvind.

Die DA stel die volgende finansiële ondersteuning voor:

Jaarlikse huishoudelike inkomsteBedrag
R0 – R200 000Volle studiegeld
R200 000 – R350 00066% van studiegeld
R350 000 – R500 00033% van studiegeld

“Hierdie benadering sal toegang bied tot universiteite vir arm studente, maar universiteite nog steeds in staat stel om ʼn hoë vlak van inkomste en gehalte te handhaaf,” het Bozzoli bygevoeg.

“Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) moet met oorleg bestuur word, sodat elke persoon wat vir NSFAS kwalifiseer, die finansiering ontvang. Daar is nog te veel gevalle van studente wat kwalifiseer, maar nie die finansiering ontvang nie – dit verhoog die getal studente wat opskop en toekomstige skuld,” het sy verduidelik.

“Om dit duidelik te stel, die DA ondersteun nie ʼn algemene gratis hoëronderrigstelsel nie. Dit sal bloot ʼn subsidie vir welgestelde studente wees en die finansiering, wat vir arm studente gebruik moes word, verminder. ʼn Algemene gratis hoëronderrigstelsel kan, om die waarheid te sê, ongelykheid in Suid-Afrika vererger.”

Sluiting van kampusse

Bozzoli het gesê die DA ondersteun die reg tot vreedsame betoging, demokratiese en rasionele gesprekvoering en die beginsel van die wet. “In ʼn grondwetlike demokrasie is dit egter noodsaaklik dat ander persone se regte nie geskend word wanneer jy jou regte uitoefen nie,” het sy verduidelik.

Die DA is gekant teen die volgende:
– Enige vorm van geweld, brandstigting, vandalisme of verwoesting
– Enige vorm van intimidasie van studente wat graag wil leer
– Weiering dat kampusse oopgemaak word
– Weiering dat ander persone van jou te verskil en vreedsaam mag betoog
– Universiteitstrukture soos VSR’e en rade wat omseil word

“Gegewe die ernstige kommer van soveel studente, moet die reg tot vreedsame betoging en ontevredenheid toegelaat en beskerm word,” het Bozzoli bygevoeg. “Hierdie reg mag egter nie ander se regte misken of op só manier uitgeoefen word dat dit teen die wet of Grondwet is nie. Persone wat gewelddadig betoog moet aanspreeklik gehou word deur die regstelsel.”

Bozzoli het gesê die polisie moet seker maak dat betogers wettig optree. “Die DA is besorg dat ons openbareordepolisiebeamptes nie die nodige vaardighede, opleiding of leierskap het om sulke voorvalle te hanteer nie, en die verskil tussen vreedsame betogings en dit wat die wet oortree, is nie duidelik nie. Dit skep ʼn geweldige groot risiko en kan die veiligheid van studente benadeel.”

Sy het gesê die DA stel voor dat die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, ʼn spesiale taakspan binne die SAPD saamstel om die huidige onwettige sluitings te bestuur.

Die rol van die parlement

Bozzoli het gesê die parlement moet die weg baan om die krisis te beëindig. “Dit het die mag, in terme van die begroting en uitvoerende oorsig, om seker te maak dat dit gebeur. Die ANC was egter tot dusver nog ongewillig om dit te doen en val terug op die ‘krisis, watter krisis’-benadering. Toe die DA wysigings aan die begroting voorgestel het, deur nie-noodsaaklike items te sny, kon ons meer as R9 miljard vind. Die voorstel was dat R2,2 miljard vir hoër onderwys aangewend moes word, om seker te maak dat dié krisis nie ontvou nie. Die ANC het skandalig teen dié voorstelle gestem.”

Sy het gesê dit spreek boekdele dat, gegewe die omvang van die krisis, die portefeuljekomitee van hoër onderwys, nog nie ʼn vergadering belê het nie. “Die tempo waarteen die ANC teen die SAUK kon optree, is ʼn bewys dat dit kan gebeur. Mens kan jou net voorstel dat die weiering om dit te doen, is weens ʼn algehele gebrek aan politieke wilskrag deur die ANC.”

DASO

Bozzoli het gesê die Demokratiese studente-organisasie (DASO) op kampusse landswyd, ondersteun kampusse om weer oop te maak. “Die oorgrote meerderheid van studente wat wil leer, se regte moet gerespekteer word. Ons sal ons stryd voortsit vir finansiering vir hoër onderwys, op ʼn wettige en vreedsame manier, en ons sal ons ontevredenheid met die behandeling van arm studente na die regte oortreders neem: die ANC en Jacob Zuma.

“Suid-Afrika kan nie agteroor sit en toelaat dat ons universiteite ineenstort en ons kollektiewe toekoms benadeel word nie. Ons universiteite moet toegelaat word om weer oop te maak, sodat lesings kan hervat en ʼn katastrofies vertraging van die akademiese jaar verhoed kan word. Die regering moet terselfdertyd die nodige stappe doen om seker te maak dat geen arm student ontneem word van opleiding weens finansiële omstandighede nie. Die DA is toegewyd om alle parlementêre meganismes te gebruik om seker te maak dat dit sonder vertraging plaasvind.”

Lees die DA se volledige voorstel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Willem ·

Hierdie voorstel wat die “DA mee vorendag gekom het” is eintlik al etlike honderde jare gelede reeds deur wyle Karl Marx verewig, in sy klassieke werk – Das Kapital. Ek is bly die DA is so welbelese dat hulle die voorstelle uit so ‘n ou boek kan heroep in so ‘n kort tydjie!

Johannes van Rooyen ·

Almal praat om die probleem DA inkluis as die skool standard weer op regte peil is sal baie minder kinders kan verder leer net soos voor 1994 die minder kinders kan dan baie makliker gehelp word en die slaagsyfer sal drasties hoër wees

Alida ·

Mooi DA! Druk hulle nou in n blik. Gulde geleentheid. Die ANC kan nie regeer nie! Klaar en uit.

Wil ·

Die studente wat so protesteer teen kostes: Wat is hulle slaag persentasie?

Nou sit jy met n situasie waar daar vry onderrig is, vir die volgende 50 jaar het hulle n job!

Dr. Ed ·

Alle mense oor die hele wereld het nie almal die motivering en intelligensie watnodig is vir universitere opleiding. My voorstel is dat akademiese disipline reeds op skole begin soos voorheen. Die skole se standaarde moet weer op n vaste grondslag wees. As n student op skool reeds sy akademiese vermoe wys dan is dit logies dat hy gehelp word.
Die universitere hulp het niks te doen met velkleur of regerings kontakte nie . dit is so eenvoudig en niks niets nie. Dan sal die keuse vir universitere toelating nie n probleem wees nie em kan hulp aangebied word. Onvanpaste studente moet nie gebruik word om stemme te wen nie. Dit is siek en premitief

Kaufman ·

Al wat gaan werk is om sekere rigting waarin vaardighede tekort is baie groot te subsidieer as ander rigtings waarin daar ooraanbod is of wat as luuksheid beskou word, klaar. Verder moet studente terugwerk deur gemeenskapswerk, of “service learning”.

Ou Vlakvark ·

Alle studente moet gelyke regte hê om aansoek te doen vir staatslenings en alle studente moet verplig word om die lenings na studie of nie-voltooiing van studie, binne 10 jaar terug te betaal. Indien hulle nie die lening ten volle terugbetaal nie , moet hulle gesien vervolg te word. So, waarom dinge ingewikkeld maak? Waarom studentelenings koppel aan ouers se inkomstes? Dit is mos diskriminasie.

Alida ·

Hulle sit die pot mis as hulle dink blankes verdien baie geld. Daar is blanke kinders se ouers wst onder die broodlyn leef agv studiegeld. Die swart mense verdien deesdae astronomiese salarisse.

John ·

Hoekom moet vanjaar se matrikulante in 2017 by die huis sit? Dit is nie hulle wat gestraf moet word nie. Die moeilikheidsmakers kan tuisbly.

Henk Brand ·

Die Australiese model laat enigiemand toe om met staatshulp te studeer en dit is basies gewaarborg. Jou matrieuitslae bepaal natuurlik watter kursus jy kan volg, indien enige, en dit hoef ook nie net universiteit te wees nie. Aangesien die belastinggaarder dit hanteer, is die invordering van die studieskuld ook outomaties afhangende van jou inkomste. M.a.w. as jy belasting moet terugkry, trek hulle af en as jy belasting moet inbetaal vra hulle meer as jou werkgewer nie genoeg afgetrek het nie. Alle skuld word natuurlik nie ingevorder nie aangesien sommige mense die land verlaat of nie genoeg verdien nie, ens.

As die hoeveelheid belasting wat deur korrupsie, wanbesteding en vermorsing in SA verlore gaan beperk kan word, is dit nie onmoontlik om ‘n soortgelyke model te gebruik nie mits die keuring van studente streng gedoen word en die totale proses effektief bestuur word. As te veel studente kursusse volg waar die vooruitsigte vir werk redekik beperk is, gaan dit natuurlik nie help nie. “n Goeie begin kan gemaak word met studierigtings soos ingenieurswese, medies, onderwys, ens.

Louwrens ·

In hierdie plan van die DA sien ek nerens iets wat verwys na die teen-prestasie wat n student deur die jaar moet lewer om te kwalifiseer nie. Ons gaan dus met n oormaat 1 jaars sit wat na die jaar opskop wanneer hulle nie geslaag het nie. (N onnodige klomp vermorsing.)
Maak liewer vry tersiere opleiding moontlik vanaf die 2 de jaar gegrond op die prestasie gedurende die eerste jaar. Studie rigtings waar daar tans n tekort van is kan n effens verslapte kriteria he.
Om bloot subsidie op grond van ouers se inkomste te bepaal is regtig onsinnig. Nee wat DA. Kom weg van hierdie “alles verniet” benadering.

Kabousie ·

As hulle die toelatings vereistes weer verhoog na ‘n aanvaarbare vlak , sal ons van die oormaat eerstejaar studente wat nie die paal haal nie ontslae raak en so ook die kostes van universiteite baie besnoei. Dit sal ook sommer help dat ons meer studente in tegniese rigtings gaan kry waarvan ons land ‘n nypende tekort het.

Rupert Ashford ·

Twee vragies DA:

Julle se:
1.) Gegoede studente moet nie finansiele hulp van die regering ontvang nie. Beteken dit ook hulle mag in aanmerking kom vir merietebeurse by die universiteit nie (die ou stelsel van studiegelde wat terugbetaal word as jy cum)?
2.) Wat gebeur as hierdie ouens wat gratis studeer druip?

mel ·

Ek vrees vir di finale jaar students. Hul wil klaar maak en begin werk. Indien hul nie kan nie, agv al die drama, kan hul hulle nuwe werk verloor. Wat dan? Die wêreld buite gaan sê 2016 se graduates is “useless” en ons wil hul nie hê nie.
Indien di klasse ophou, gaan ek verseker di universiteit dagvaar, veral vir toekomstige verlies van geld.
Tukkies, kry ander plek vir di studente sodat hul toetse en eksamens kan skryf.

Basson ·

So DA – ‘gegoede’ studente (ouers) mag nie beloon word vir harde en pligsgetroue werk dmv (Meriete en ander) beurse?

hans ·

Daso het die afskafing van Afrikaans by universiteite gesteun,daarom steur ek my nie aan die DA stories nie

Rene ·

Hoe gaan die Universiteite akkuraat kan bepaal wat totale jaarlikse huishoudelike inkomste is, as daar mense is wat hoë posisies beklee in mediese beroepe en SASSA grants vir hulle minderjarige kinders eis? So sal daardie hoë huishoudelike inkomste ook verdoesel word om 100% voordeel te eis vir tersiere onderwys. En die wat dit eintlik verdien, die voordeel ontneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.