Operasie ʼn ‘groot sukses’ ná gru-aanval op atleet

Mhlengi Gwala (Foto: Facebook)

Die ure lange operasie om die Suid-Afrikaanse driekampatleet Mhlengi Gwala se been te red was ʼn sukses.

Maroela Media het vroeër berig Gwala was Dinsdag omstreeks 15:00 besig om naby die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban te oefen toe hy deur drie verdagtes genader is. Die groep het hom glo in die bosse ingetrek en probeer om sy been af te saag. Gwala is ernstig beseer in die voorval en na ʼn hospitaal gehaas. Net sy selfoon en kontant is gesteel.

Dennis Jackson, direkteur van die Prime Human Performance Institute waar Gwala verpleeg word, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit “gaan baie goed” met Gwala. “Die operasie was ʼn groot sukses en alles het volgens plan verloop,” sê hy. “[Gwala] het weer gevoel in sy voete en tone nadat hy ná die aanval alle gevoel in sy voete en tone verloor het. Ons is baie dankbaar,” het hy gesê.

Volgens Jackson staar ʼn lang herstelproses Gwala nou in die gesig. “Die dokters is nie in dié stadium seker hoe lank dit hom sal neem om ten volle te herstel nie omdat elke persoon se herstelproses verskillend is. Ons weet egter dat hy  ‘n rehabilitasieproses sal moet deurgaan wanneer hy sterk genoeg is om te loop en uiteindelik om weer te begin oefen.”

Hy sê Gwala is opgeruimd en dankbaar dat hy die aanval oorleef het.

ʼn Skarefinansieringsveldtog is intussen vir Gwala van stapel gestuur. Die mikpunt was aanvanklik R500 000, maar is Donderdagmiddag na R750 000 aangepas nadat skenkings wêreldwyd begin instroom het.

Dié geld sal glo aangewend word om aan Gwala ʼn salaris te betaal terwyl hy aansterk en om ander verskuilde kostes van die herstelproses te dek.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Die polisie het nog geen leidrade in verband met die aanval op Gwala nie. Ons doen egter ʼn beroep op enigeen wat die polisie in die ondersoek kan bystaan om onmiddellik met die polisie in verbinding te tree,” het hy gesê.

Enigeen met meer inligting word versoek om die misdaadnoodlyn by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Robert ·

Nou weet ek nie meer nie. Sommige media berig dit was ‘n ketting saag en hier word berig dit was ‘n hand saag?

Stokkies ·

Maak nie regtig saak nie, doen dit? Albei is verskriklik wreed

Cherokee ·

Logika behoort jou te vertel dat dit dit nie ‘n kettingsaag kon wees nie want hy het sy been behou.

Cathy Kotze ·

Wonderlike nuus! Kom ons almal hoop vir suksesvolle rehabilitasie.

M ·

Ekt gesien dat ander media van die begin af berig het dat die aanval vroeg in die oggend naamlik 3:15 gebeur het…en dat n sekuriteitswag met n flits aangekom het en toe het die boosdoeners gevlug. Dit was dus nie 15:00 soos jul berig nie. Alle sterkte aan Mnr. Gwala !

Aasvoels ·

Ek wonder nou of die skurke wat hierdie atleet soveel skade berokken het – ook elkeen ‘n stukkie grond gaan kry? Die helfte van iemand se plaas of kleinhoewe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.