Operasie ʼn sukses ná baksteen hom tref

Caden Slabbert Foto: Krugersdorp Voice

Caden Slabbert Foto: Krugersdorp Voice

Die operasie waartydens ʼn spesiale titaan-metaalplaat in Caden Slabbert (9) se kop geplaas is, nadat hy met ʼn baksteen getref is, was suksesvol.

Die Krugersdorp Voice berig die operasie het in die Netcare Union-hospitaal in Alberton plaasgevind.

Caden is beseer toe hul motor verlede jaar op 30 April op die N12 naby die Glen-winkelsentrum deur ʼn baksteen getref is. Hy was saam met sy pa, Justin Slabbert, en sussie Eden in die motor op pad na hul huis in Benoni. Die persoon wat die baksteen gegooi het, is nooit vasgetrek nie. Die moontlikheid word egter tans ondersoek of ‘n man, wat Woensdag in hegtenis geneem is, verbind kan word met die voorval.

“Ek wil nou net van blydskap huil!” het Andriëtte Cooper, Caden se ma, aan die gemeenskapskoerant gesê oomblikke nadat hy uit die teatersaal gestoot is. “Die operasie was ʼn sukses! Ons wag nou net om van die neuroloog te hoor, maar als is reg.”

Caden het glo vroeër geskerts dat sy kop nou “so sterk soos staal” gaan wees wanneer die metaalplaat ingeplant is.

Sodra hy van die operasie herstel het, sal hy na die hoësorgeenheid oorgeplaas word. Die kans vir infeksie is egter groot, aangesien ʼn vreemde voorwerp nou in die plek van sy skedel geplaas is, en moontlik deur sy liggaam verwerp kan word.

Lees alle vorige berigte oor Caden Slabbert op Maroela Media.
Volg die Krugersdorp Voice se Facebook-blad vir opvolgberigte oor Caden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Connie Swartz ·

Aaagg het ook nou trane in my oe, Maar ons weet, ons glo en vertrou dat alles nou sal beter gaan, Ek bid dat die Here julle sal styf vashou, Baie sterkte vir julle almal x

Gessie ·

Baie dankie Jesus vir U genesing in hierdie seuntjie se lewe , ons dra die gesin verder op in ons gebede want Jesus kan alles doen ,sterkte vir die gesin verder e baie dankie Maroela dat julle ons op hoogte hou van top stories .

Marinda Smit ·

Ek spreek Jesus Bloed oor klein Caden dat geen infeksie sal intree of dat sy liggaam die vreemde voorwerp sal verwerp nie! Amen

Johann ·

Baie geluk Caden, ons hoop jy herstel gou en dat jou lewe vinnig na normaal sal terugkeer. Sterkte.

AmY ·

Wat gebeur het was so onnodig, maar ek is so dankbaar vir daai mense. God is goed!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.