Operasie ná duikongeluk: ‘Dit lyk goed’

Rudi Kunz. Foto: Facebook

Rudi Kunz (30), die man wat verlam is nadat hy in ’n duikongeluk was met die viering van sy 30ste verjaardag, het ʼn operasie ondergaan en sy dokters is stadig besig om hom uit verdowing te bring.

Melissa Swan, een van Kunz se vriendinne, het gesê die operasie op sy nekwerwels het “goed gegaan”. Maroela Media het vroeër berig Kunz was saam met ʼn groep vriende by die Klaseriedam om sy verjaardag te vier toe die ongeluk gebeur het.

Kunz, ʼn inwoner van Hoedspruit in Limpopo, het van die oewer af in die dam ingeduik. “Hy het nie dadelik opgekom nie en ons het gedink hy maak seker ʼn grap en gaan uitspring en ons probeer skrikmaak. Die volgende oomblik het hy bo-op die water gedryf en sy kop geskud. Sy broer het dadelik ingeduik om hom uit die water te haal,” het Swan gesê.

“Ons het hom op die gras neergesit en hy het vir ons gesê hy kan niks voel nie. Ons almal was maar paniekerig en iemand het die ambulans gebel terwyl ons ander by hom gesit het en sy bene en arms gevryf het om die bloedsomloop aan die gang te kry. Hy het vrae gevra soos ‘Is ek nog in die water?’ en ‘Vat julle aan my?’ Hy kon niks aan sy lyf voel nie.”

Kunz is per ambulans na ʼn hospitaal in Nelspruit geneem waar ʼn skandering getoon het dat van sy boonste werwels geskuif het. Kunz is op pad na die hospitaal op ʼn ventilator geplaas aangesien hy gesukkel het om self asem te haal.

Sondag is hy per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Volgens Swan is dokters besig om Kunz ook stadig van die ventilator af te haal. “Ons sal nog nie weet oor beweging nie totdat hy self asem haal en behoorlik wakker is. So dinge is nog bietjie onduidelik, maar dit lyk goed.”

Hanlie Botha, Kunz se tannie, het vroeër aan Maroela Media gesê die dokters in Johannesburg het besluit op ʼn operasie om sy werwels weer terug te skuif, maar het gesê daar is ʼn baie skraal kans dat hy ooit heeltemal van die besering sal herstel.

Sy het gesê Kunz se hele familie, maar veral sy ouers, vat die nuus oor sy besering baie swaar. “Sy ouers en een van sy boeties is daar by hom in Johannesburg. Dit is so ’n ongelooflike emosionele tyd, dit voel heeltemal onwerklik. Amper asof ʼn mens nie in jou eie liggaam is nie. Ons almal is in skok.”

Vriende en familielede van Kunz het intussen Woensdag teen 18:00 in Hoedspruit bymekaar gekom om ʼn uur lank vir hom te bid. Talle ander gebedsgroepe van selfs so ver as die VSA is ook vir hom begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

pieter ·

ALLES IS MOONTLIK WAAR ONS HEMELSE VADER SE NAAM GEROEP WORD.

Hendrik van George ·

Sal nooit verstaan hoe enigiemand kop eerste in dam / see induik nie… nie die eerste nie en ook nie die laaste nie!

Adam ·

Absoluut-red die medici hom is dit god se wil. Indien nie begin die debat. Is dit sy wil, die duiwel of sy eie verantwoordelikheid?

rita ·

Ek was in rehab en daar was n swart man waarvoor hulle gese het hy Sal nooit weer loop nie. Hy het vir die fisio gese” don’t tell me what my God can do”. Hy het by die hek uitgeloop en op n taxi geklim na hy ontslaan is. Dit is n moeilike pad maar God Sal jou krag gee.

Valerie ·

Ek verstaan jou storie, en ek weet dat vir God niks onmoontlik is nie, maar hoekom juis verwys na ‘n “swart” man? Maak dit die storie meer geloofwaardig? Maak dit die man minderwaardig? Maak dit God groter? Is ‘n man nie maar net ‘n man nie? Ek verstaan net nie hoekom jy ras betrek nie. God sien nie ras nie, en is nie ‘n liefhebber van perssonlikhede nie. Hy het nie “favourites” nie. Hy het ‘n wonderwerk gedoen, finish en klaar. Swart man, Chinees, of ‘n wit man soos Kunz waarvoor ons maar net kan bid.
Rita, ek baklei nie; wonder maar net. Wees rustig en geseënd, hoor?

*** ·

Ná ‘n ernstige motorongeluk jare terug het dokters dit duidelik gemaak dat nie eens ‘n wonderwerk my weer sou laat loop nie.
Ek loop vandag.
God is getrou en Hy gryp in wanneer Sy kinders na Hom roep. Daar ís krag in gebed. God doen die onmoontlike. Ons moet nie net glo dat Hy dit wat ons van Hom vra kán doen nie, maar vertrou op Hom dat Hy dit sál doen. Al neem dit soms langer as wat ons sou wou hê.

Baie sterkte, Rudi en gesin, jul lewens is veilig in God se hande – wéét dit.

johnny ·

Dankie maroela vir jul gratis nuus ek waardeer wat jul doen met al die negatiewe terugvoering wat jul kry jul bly tops

anton ·

Ja Valerie, dit is ook die eerste gedagte wat by my opgekom het oor rita se kommentaar!
Waarom nou dit juis noem dat dit n swart man is? Regtig? Wat probeer sy nou eintelik vir almal sê?
As dit nou n blanke was, sou sy seker net gesê het n ”man” of dit dalk nie eers genoem het nie.!!!
Sulke kommentaar laat my maar altyd wonder of dit die waarheid is.

Daisy ·

Dalk oor hy n swart man is… jy is wat jy is.. woorde of die uitlating daarvan verander dit nie..

Liza ·

Wil net aan Rudi se, sterkte seun en ek sal jou elke dag opdra aan ons Hemelse Vader vir krag en genade asook gesondheid, hou moet Rudi by God is niks onmoontlik nie…..

Francois van zijl ·

My verloofde lucrizia nel ken hom en die friende kring baie goed. Wil maar net sê ons bid vir hom. Alle sterkte. Julle is in ons gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.