Operasie vir hart-kleuter vervroeg

Carli van Straten (Foto: Facebook)

Die opehartoperasie wat die vierjarige Carli van Straten noodgedwonge moet ontvang is na Maart vervroeg ná die terugslag wat sy aan die begin van die jaar beleef het. Sy is met vier verskillende hartdefekte gebore.

“Dit is nou net ʼn klipgooi weg,” sê Riaan van Straten, Carli se pa, Woensdag aan Maroela Media. Dié operasie sou aanvanklik eers in Junie of Julie vanjaar plaasgevind het.

Die operasie is egter deur dokters vevroeg nadat Carli endokarditis opgedoen het, ʼn infeksie in die hart wat lewensgevaarlik is. Carli moes gevolglik ʼn maand lank in ʼn Bloemfonteinse hospitaal behandel word waarna sy eers onlangs toegelaat is om huis toe te gaan.

“Die infeksie is darem opgeklaar. Ons het dit deur die genade van die Here goed gewen,” sê Van Straten. Dit beteken egter nié dat die gesin se bekommernisse iets van die verlede is nie.

Carli se operasie sal in die Kaap plaasvind. Van Straten beskryf dit as ʼn “instandhoudingsoperasie” om al die werk wat aan Carli se hart gedoen is toe sy ses maande oud was, aan te pas by haar hart wat sedertdien natuurlik aansienlik gegroei het.

“Ons senuwees is maar redelik op, soos dit maar is met elke opehartoperasie,” sê hy. Carli is ook nie opgewonde oor die operasie wat vroeër as verwag moet plaasvind nie. “Carli is nie meer ʼn baba nie en verstaan nou dat sy ʼn opehartoperasie moet ondergaan. Sy is nie onnosel nie,” sê hy.

Volgens Van Straten is daar egter nie meer geleentheid vir uitstel nie.

“Voorlopig moet Carli net by die huis wees en rus. Ons moet ook as gesin tyd saam deurbring. Dít is vir nou ons prioriteit.”

Hy vertel verder dat die besluit om Carli nie vanjaar skool toe te stuur nie, tog die regte besluit was ten spyte van Carli se ongelukkigheid daaroor. “Dit is beter so.”

Carli van Straten (Foto: Facebook)

Hy verduidelik dat Carli nog baie moeg raak, maar goed vaar onder die omstandighede. Sy is onlangs na ʼn speelterapeut geneem net om te ontspan en te speel. Sy is ook baie lief vir haar boetie, Benjamin, en dié twee speel graag wanneer hy van die skool af kom.

Die feit dat die operasie vervroeg is, dra egter by tot die gesin se bekommernisse oor finansies. “Ons het gedink ons het tyd tot later vanjaar om te spaar vir al die onkoste van die operasie. Nou gebeur dit volgende maand,” sê Van Straten.

“Dit gaan maar taai, maar ons kap aan. Dit is in die moeilike tye wat ons floreer. Wat ook al die uitkoms, ons gaan reg wees.”

Fondsinsamelingsinisiatiewe is druk aan die gang om geld in te samel voordat die gesin Kaap toe moet vertrek vir Carli se opehartoperasie.

Annalise Scholtz, ʼn vriendin van die gesin wie se dogter ook voorheen deur ʼn fondsinsameling deur die Van Stratens gebaat het, is ʼn bekende hardloper en sal eersdaags die Addo Elephant Trial Run doen ten bate van Carli se operasie.

Annalise sal 160 km binne 36 uur aflê en R1 000 kan vir elke kilometer geborg word om die gesin by te staan. Al die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om die koste verbonde aan die operasie, asook die gesin se reis-en-verblyfkoste in die Kaap te dek.

“Dit is omtrent nou ʼn resies vir tyd,” sê Van Straten.

Besoek die Facebook-blad iHeartCarli vir meer inligting oor Carli se vordering asook hoe om ʼn bydrae met die oog op haar opkomende operasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leon Pit ·

Carli ons bid vir jou en jou gesin sodat jy kan weet Jesus is baie baie lief vir sy kinders. Sy genade ken geen GRENSE.

Arno ·

Baie sterkte aan die familie, ons bid vir julle pragtige dogtertjie. Mag ons Vader SY hand van genesing oor haar hou.

Arno ·

Baie sterkte aan die Van Straten familie. Ons bid vir die pragtige klein Carli. Mag ons Vader SY hand van genesing oor haar hou.

Jasper ·

Ons oë is op Hom gerig wat gebede verhoor. Hy is in beheer.
Hy laat vaar nie die werke van Sy hande nie.

Elrou ·

Sy is so pragtige ou poppie. Ek hoop jy word sommer gou gesond en dat als goed gaan met jou operasie. Jy gaan n baie slim kind word…

anna ·

Ai is sy nie n pragtige ou dingetjie nie !!!!!! Here ek dra vanoggend hierdie familie aan u op hou U hand van genesing oor Carlie , en so dra ek ve papa en mamma ook aan U op vader gee ve hulle krag en sterkte in die moeilike tyd waardeur hulle gaan en dat hulle op Ukan vetrou dankie vir U liefde en genade wat on elke dag so milddelik uit U vader hand ontvang dankie daarvoor amen sterkte aan die familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.