Operasie vir kleuter met 15 tone

Argieffoto

Argieffoto

Die driejarige Zwakele Dlamini sal ʼn operasie ondergaan om ʼn paar van sy 15 tone aan sy voete te verwyder.

“Die kind kan nie skoene dra nie weens die ekstra tone en moet kaalvoet loop,” het Joseph Ngala, woordvoerder van die Mbombela-munisipaliteit, aan ʼn Sapa-korrespondent gesê.

ʼn Dokter, wat anoniem wou bly, het gereël dat die operasie gratis uitgevoer sal word kragtens die Umsebe-verdrag, ʼn vennootskap tussen die munisipaliteite van Matola in Mosambiek, Mbabane in Swaziland en Mbombela (Nelspruit) en Nkomazi (Malelane) in Mpumalanga om samewerking en begrip tussen die inwoners te ontwikkel en te bevorder.

ʼn Verdere R320 000 is ingesamel om die kind se gesin te help, wat insluit dat hulle ʼn nuwe huis kan bou.

Ngala het gesê die seuntjie bly saam met sy ouma wat slegs R500 per maand verdien as ʼn huishulp. Sy ondersteun drie ander kinders, waarvan een gestremd is. Hulle bly almal in ʼn eenslaapkamerhuis in Hilltop in Swaziland.

Zwakele Dlamini Foto: mylowveld.com

Zwakele Dlamini Foto: mylowveld.com

Zwakele se ma het hom verlaat toe hy 18 maande oud was. Hy is gebore met sindaktilie (aaneengegroeide vingers) en polidaktilisme (ekstra vingers of tone). Al sy vingers, buiten sy duime, is aaneengegroei. Hy het sewe tone aan sy linkervoet en agt tone aan sy regtervoet. Hy is in staat om te loop.

Ngala sê Dlamini is kwesbaar vir mensehandel. “Anonieme mense is op soek na hom,” het hy verduidelik. “Talle van hulle wil hom hê om rituele uit te voer en hulle sê ‘sifuna lomntfwana lonetinyawo letiningi’ [ons soek die kind met baie bene]. Hy moet soms wegdwaal van die huis af op soek na kos.”

Sibusiso Mathonsi, burgemeester van Nelspruit, het alle skenkers bedank, insluitend die regering en ondernemings.

Daar is aanvanklik verwag dat R140 000 ingesamel sal word om ʼn nuwe huis vir die gesin te bou, maar Mathonsi sê met die ekstra geld kan nog iets ekstra vir die kind gedoen word. Hy sal ook geestelike en sielkundige behandeling ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.