Operaskool slyp Suid-Afrika se musiektalent

(Foto: Gianluigi Guercia /AFP)

Yonwaba Mbo, ʼn 31-jarige student van Kaapstad, sê sy toekoms het aanvanklik in landbou gelê, maar toe die opera-gogga eers byt, was dit neusie verby.

ʼn Paar jaar gelede het die lang, breedgeskouerde Suid-Afrikaner besluit om sy landboustudies te laat vaar en dit vir die studie van liriese opera te verruil.

Hy oefen nou vir die rol van Figaro in die Marriage of Figaro en berei hom voor om die eerste treë na sy droom as opera-solis te gee.

Mbo is ʼn student aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se musiekfakulteit, die tuiste van waarskynlik Afrika se gesogste operaskool.

Pretty Yende, die sopraan wat vanjaar by die kroning van Brittanje se koning Charles III gesing het, het haar vaardighede daar geslyp, net soos ander opkomende sterre in die operawêreld.

Soos Yende, wat in Mpumalanga grootgeword het, het baie van die skool se studente ietwat laat in hul lewe begin sing, dikwels toevallig.

“Voordat ek opera begin studeer het, het ek myself altyd gevra hoekom hierdie mense altyd so skree?” het Mbo laggend vertel.

“Maar toe die gogga my byt, het ek die tegniese kant daarvan begin hoor en verstaan ​​en hoeveel werk jy moet insit om so te kan klink. Ek het die kuns daarvan begin waardeer,” voeg hy by.

Omdat hy nie ʼn musiekpartituur kon lees nie, moes hy heel onder begin.

Vir ses jaar studeer hy nou al alles wat met opera te doen het, aangespoor deur die idee dat iemand soos hy ʼn storie deur musiek “in ʼn vreemde taal” kan vertel.

Hy oefen sy vertolking van Figaro saam met Siphosihle Letsoso op die universiteitskampus.

(Foto: Gianluigi Guercia /AFP)

Letsoso (23), wat van Kimberley af kom – en ook van ’n loopbaan as solis droom – speel Figaro se minnaar, Susanna.

“Daar is geen opera in Kimberley nie!” vertel sy laggend.

“Dit is wat my regtig aanmoedig om net goed te doen. Sodat ek eendag kan teruggaan en die teater daar ontwikkel – ek wil dit ʼn belewenis maak.”

Die operaskool van die Universiteit van Kaapstad is die enigste operaskool in die land met ʼn omvattende kurrikulum, wat musiek, sang, toneelspel en opera-tale insluit, onder meer Italiaans, Frans en Duits.

“Daar is baie talent in Suid-Afrika,” sê Jeremy Silver, die skool se direkteur, en voeg by dat die land besig is om hom stewig op die operaverhoog wêreldwyd te vestig.

Skool-, kerk- en gemeenskapskore is alomteenwoordig in Suid-Afrika, wat help om mense van ʼn baie jong ouderdom af aan “spontane, onbevange sang” bloot te stel, sê hy.

“Wat ons dan moet doen, is om daardie belangstelling te fokus, hul instinkte te fokus, en om hulle in al die ander vaardighede te onderrig.”

Die skool het vanjaar oudisies in ses stede reg oor Suid-Afrika gehou.

(Foto: Gianluigi Guercia /AFP)

Die skool bied musieklesse in minderbevoorregte gebiede in Kaapstad aan, wat deur sangonderwyser Paulina Malefane bestuur word. Sy hou haar oor op die grond vir belowende stemme.

In die township Khayelitsha oos van Kaapstad, een van die grootste en armstes in die land, leer sowat dertig skoolkinders om die C-toonleer te sing.

“Eendag as jy groot is, sal jy my werk oorneem!” sê Malefane bemoedigend aan ʼn meisie wat ’n diskantsleutel op ʼn wit bord teken.

“Dit is baie belangrik vir my. Ek moes alles van niks af leer. As en wanneer my leerlinge besluit om musiek of opera te neem… het hulle minstens iets waarmee hulle kan begin. Hulle het ʼn bietjie agtergrond van musiek,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.