Opgeskorte vonnis vir ma wat R4 miljoen by POF geëis het

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Ma, wat tot 10 jaar tronkstraf gevonnis is in verband met bedrog van meer as R4 miljoen, se vonnis is Vrydag opgeskort in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville.

Ncebakazi Makhebesana (44) het skuld bely dat sy ʼn valse eis van R4 885 000 by die Padongelukkefonds (POF) ingedien het.

Sy het voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. “Die Padongelukkefonds is daar om onskuldige slagoffers by te staan wat ernstig beseer is in motorongelukke. Die fonds is nie daar vir mense soos jy nie,” het Sonnenberg aan Makhebesana gesê.

Zamikaya Mbalo, vir Makhebesana, het ʼn pleitooreenkoms met staatsaanklaer Jacques Smith onderhandel.

Makhebesana, ʼn ma van drie kinders, tussen sewe en 15 jaar oud, is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis wat in sy geheel vir vyf jaar opgeskort is, nadat die hof beslis het daar is wesenlike en dwingende redes wat ʼn ligter vonnis regverdig.

“Dit is jou eerste oortreding. As jy weer skuldig bevind word op ʼn aanklag wat met oneerlikheid verband hou, binne die vyf jaar opgeskorte periode, sal jy nie meer as ʼn eerste oortreder beskou word nie,” het Sonnenberg gewaarsku. “As dit weer gebeur, sal die vonnis in werking tree en jy sal ook vir die nuwe oortreding gevonnis word. Jy is vandag gelukkig, maar jy sal nie volgende keer gelukkig wees nie.”

Volgens die hofdokumente het Makhebesana valslik beweer dat sy die voog is van haar afgestorwe broer se drie klein kinders. Haar broer het egter nie kinders gehad nie, en die kinders waarna sy verwys het, is haar eie.

Die POF het die bedrog oopgevlek en haar eis is afgekeur. Bedrog bly egter bedrog, of dit suksesvol uitgevoer is of nie, en ʼn poging tot bedrog is ook strafbaar.

Buiten die opgeskorte vonnis, is sy tot ʼn verdere drie jaar huisarres gevonnis waartydens sy gemeenskapsdiens moet doen. Sy moet skoonmaakwerk en instandhouding by die Khayelitsha-polisiestasie doen.

“Selfs al vergeet jy wat ek vandag gesê het, moet jy onthou dat jou kinders sal ly as jy jou loopbaan in misdaad voortsit. Ons kinders luister selde na ons, maar hulle kyk wat ons doen en dan doen hulle dit ook,” het Sonnenberg bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

En weereens n voorbeel van en vir die wat wil vat wat hulle demand…solank dit net jou eerste keer is? Pateties

Raymond Bastone ·

Sy is n mooi voorbeeld vir haar kinders ensoos ons president

Jacobus Krynauw ·

Asemrowende geregtigheid in die huidige Suid Afrika. Ek vertrou dat die nuwe Suid Afrika n beter plek sal wees…

Carel ·

. . . en daar gaan sy, nice try maar “gaan maar huistoe!” Geen wonder dit gaan so in ons land nie.

Doris ·

Ouens ek wil net vir julle sê hierdie is n lekker land hier doen hulle net wat hulle wil en kom met moord weg as jy elke dag koerant lees en nuus luister kan jy maar net lag vir al die leuens en skelms streke waarmee mense weg kom een groot sirkus.hierdie land en sy trawante.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.