Opgradering van Pta-waterpype suksesvol afgehandel

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die watertoevoer in Pretoria is Woensdag omstreeks 23:00 herstel, maar dit sal nog ʼn ruk duur voordat dit heeltemal terugkeer na normaal.

Jeannie du Plessis, skakelbeampte van die projek om instandhoudingswerk en opgradering aan die watertoevoernetwerk te doen, het Donderdag aan Maroela Media gesê hoewel die werk aan die waternetwerk suksesvol afgehandel is, sal dit ongeveer ʼn dag neem vir die reservoirs om vol te loop.

“Die water is weer aan, maar dit is ʼn stadige aansluiting. Ongeveer 20 reservoirs moet weer vol loop nadat dit nou heeltemal leeggeloop het oor die afgelope twee dae en dit sal ʼn tydjie neem. Inwoners gaan na verwagting ook nou baie water gebruik, wat die proses nog meer kan vertraag,” het sy verduidelik. “Almal se water is sedert gisteraand weer aan, maar sommige inwoners, veral dié in die hoërliggende gebiede, kan nog vandag sukkel met swak waterdruk.”

Maroela Media het vroeër berig die instandhoudingswerk is langs Rubensteinweg in Moreletapark gedoen. Die Tshwane-metro het vroeër kennis gegee dat talle buurte deur die waterafsluiting geraak kan word, onder meer La Montagne, Wilgers, Murrayfield, Garsfontein, Silverton, Villiera, Rietfontein, Kilner Park, Meyerspark, Lynnwood Glen, Faerie Glen, Queenswood, Waterkloof Glen, Moreletapark, Menlyn en Alphenpark.

Volgens Du Plessis het die projek suksesvol afgeloop en sal werkers nou begin om die sypaadjies te herstel waar die werk gedoen is. Sy het bygevoeg dat ʼn soortgelyke projek binne die volgende paar weke in Waverley gedoen moet word, wat weer waterafsluitings tot gevolg sal hê. Die Tshwane-metro sal egter tien dae kennis gee voordat die projek begin.

“Ek wil graag ʼn beroep op mense doen om die water wat hulle geberg het wel te gebruik, al is die watertoevoer nou weer aan. Water is steeds skaars en daarom is dit noodsaaklik dat ons almal waterslim is en dit nie onnodig mors nie,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oosie ·

Ons opregte dank aan Maroela Media wat verbruikers so getrou en breedvoerig op die hoogte gehou het! Julle is YSTERS!!!

jaco ·

As die Munisipaliteit se amptenare hierdie groot werk so goed kon doen sonder dat dit duidelijk is of die ANC of die DA die raad gaan beheer, dan kan ons mos maar sonder n verkose raad klaarkom. Dit gaan tog nie regtig oor dienslewering nie. Dit gaan net oor politiek speel en NATUURLIK geld. ‘n Raadslid se aanvangsalaris is R450 000 PLUS n lekker luukse motor PLUS ‘n onthaaltoelae. Met so ‘n vet vergoeding sal stukkende waterpype my nie pla nie, maak nie saak of dit in Mamelodi of Waterkloof is nie.

Koos1 ·

jaco ek kan nogal saam stem, maar dit sal nie altyd net goed en vlot verloop nie, en dan is daar iemand nodig om dinge te beheer en oplossings te vind. Dit is so goed om te se dat daar dan ook nie ‘n bestuurder by die waterraad nodig is nie want die werkers het die pype herstel, en hulle weet wat hulle doen. Die prentjie is egter groter, die beplannig moet gedoen word die werkers moet opdragte kry, die material moet gekoop word, die skakeling met die betrokke woonbuurte moet gedoen word, ens. Dit is ‘n monster taak en daarvoor is die hoofde en raadslede nodig. Of hulle egter hulle werk goed doen, dit bly ‘n ope vraag.

Grap ·

Jaco die mense wat die instandhouding gedoen het is onder leiding van die VF+ se setels???

Yolande Hattingh ·

Baie dankie aan almal betrokke wat die projek ‘n sukses gemaak het.

André ·

Ons was glad nie geaffekteer nie en ons bly in daardie gebied. Daarom moet ek seker getuig dat die werk goed gedoen was… Dankie daarvoor stadsraad. As alles net so vlot verloop het.

Joann ·

Die waterpyp storie raak nou vervelig. As die hele land nou kommentaar lewer oor hul pype,riole ens.wat n chaos sal dit wees?

Edward ·

Niemand noem dat hierdie projek al vir 8 jaar plus aan drentel nie. Dit sal interessant wees om te hoor die hoeveelste kontrakteur die huidige een is. Ek ry nou al hierdie pad jare en die pype lê nou al 2 jaar netso bo die grond met oop gate wat afgesper is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.