Opgraderings aan premiershuis verdedig

Willies Mchunu

Die KwaZulu-Natalse departement van openbare werke het teruggekap ná mediaberigte dat R32 miljoen gebruik is om opgraderings te doen aan Willies Mchunu, die provinsiale premier, se huis in Pietermaritzburg.

Kiru Naidu, woordvoerder van die departement, het gesê in teenstelling met die mediaberigte is daar “tot dusver nog net R821 000 aan opgraderings by die huis bestee”. Volgens Naidu is daar nog geen ander tenders wat met die voltooiing van die projek verband hou toegeken of geadverteer nie.

Maroela Media het vroeër berig die DA in KwaZulu-Natal het gesê hy eis antwoorde nadat Mchunu se kantoor op ʼn navraag van die DA glo bevestig het dat die opgraderings aan Mchunu se huis in Parkside altesaam R32 650 330 beloop.

Dié koste is onder meer vir opgraderings aan die swembad en die omliggende terrein, insluitend plaveisel en braaiplek, wat sowat R1 010 000 sal kos, die opgradering van drie badkamers vir R540 000 en herstelwerk aan elektriese ligte en toebehore vir R180 000.

Die eiendom in Parkside is 137 jaar oud en bestaan uit ʼn hoofhuis, twee konferensiefasiliteite, werkers se woonkwartiere en kantoorfasiliteite. Dit is een van KwaZulu-Natal se vele strukture wat vir sy erfeniswaarde beskerm word. Enige verandering aan die strukture moet deur die Amafa-erfenisraad goedgekeur en geadministreer word.

Naidu het gesê hierdie aspek gaan met “aansienlike koste-implikasies” gepaard. “Die geprojekteerde koste van die opgraderings van die Parkside-woning is verspreid oor ʼn tydperk van sewe jaar en word gedoen in ooreenstemming met die bepalings van die Amafa-erfenisraad rakende geboue wat ouer as 60 jaar is,” het hy gesê.

Die Parkside-woning dien as die amptelike woning vir die premier wanneer nodig en word ook gebruik om gaste en afgevaardigdes te huisves en as ʼn konferensiefasiliteit vir mediakonferensies en amptelike vergaderings. “Die premier het sy persoonlike huis in Durban waar hy woon,” het Naidu gesê.

“In al die projekte wat tot dusver op hierdie perseel gedoen is, insluitend die opgraderings en opknapping van die drie badkamers, is ʼn kompeterende bodproses ten volle gevolg. Parkside is ʼn unieke fasiliteit wat die moeite werd is om die onderhou vir gebruik en vir die nageslag. Soos altyd is dit onderhewig aan bekostigbaarheid en prioritisering. Dit is juis omdat ons baie kompeterende prioriteite het dat die projek nie finaal is nie,” het Naidu gesê.

Die R32 miljoen-meesterplan sluit in die opgraderings van die eksterne water- en grondnetwerk in, herstelwerk en opgradering van ongeveer 1,8 km se paaie binne die kompleks, die opgradering van die twee bestaande konferensiefasiliteite, die vervanging van die voorafvervaardigde beton-grensmuur en sluit ook in veiligheidsinstallasies en aanbouings aan die bestaande akkommodasie vir veiligheidswagte om veiligheid by die eiendom te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vermeende ·

Hierdie een maak hoegenaamt nie vir my sin nie, van wanneer af gaan die ANC so uit sy pad om die historiese kolonialistiese geboue te bewaar vir die nageslag en dan so n hoop geld daarvoor te begroot.

Ek ruik n rot.

Johann ·

En wats.die probleem? Seker n oornag plekkie vir ZUMA en sy ZUMAIKIES?

Hanna ·

Nee wat, as dit Miskien R1.5 mil was vir opgraderings kon ek verstaan.
Luislang in die gras…… hier moet nood maatreels getref word om dit stop te sit.

CHRISTA ·

As daardie huis al 137 jaar oud is dan is dit mos maar weer die “kolonialiste” wat dit gebou het. Hoekom het dit NOU SKIELIK vir die ANC soveel waarde dat meer as R32 miljoen daaraan spandeer word? Hulle brand en breek dan als af wat deur die “kolonialiste” gebou of ontwikkel is.

Pierre ·

En steeds leef hulle kiesers in haglikke omstandighede, wonder net hoeveel huise, kragaanlegte, water en sanitasie hulp kon aan minder gegoede buurte gelewer word met so baie geld. Maar nou ja in 2019 dan kry die ANC weer die stem met vals beloftes, dan gebeur niks en gaan ons maar weer deur die bose kringloop van stakings en vernietiging.

H. Stoltz ·

‘n Luukse huis in ‘n gegoede omgewing kos in die omgewing van R5-8m. as die Premioer van Kwazulu-Natal argimentsonthalwe in R15m huis bly , wil ek graag weet van wanneer af bevorder die opknapping van die swembad en omliggende area, die badkamers en binnenshuise ligte die veiligheid van die huis. Gaste wat daar oornag wat nie onder die regering se beveiligingsplan val nie, het nie spesiale maatreels nodig om beskerm te word nie. Indien die Premier in sy eie huis in Durban woon het hierdie huis nie sulke drastiese beveiligingsmaatreels nodig nie en moet die huis in Durban beveilig word ooreenkomstig die beleid soos deur die SAPS neergele. Indien die Premier per geleentheid in hierdie huis bly kan dit nie dieselfde veiligheidsopgraderingsmaatreels kry as sy permanente huis nie. Na my mening het die Werkedepartement van Kwazulu-Natal ‘n lamsakkige boo boo gemaak deur die opgraderings aan die huis onder die vaandel van “veiligheid” vir die inwoners te probeer plaas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.