Opgraderings by Mahlangu se huis bevraagteken

Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid in Gauteng.

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng wat geblameer word vir die Esidimeni-tragedie waarin 141 psigiatriese pasiënte gesterf het nadat hulle na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is, het glo meer as R50 000 se uitstaande skuld vir veiligheidsopgraderings by haar huis in Bedfordview.

DA-LPW Jack Bloom het gesê veiligheidsopgraderings by Mahlangu se huis het altesaam R356 558 gekos en sy het nog nie die R52 558 betaal wat sy oor die R200 000-bestedingsperk spandeer het nie. Bloom, wat die skadu-LUR van die Gautengse departement van gesondheid is, het gesê dié bedrae het aan die lig gekom in ʼn geskrewe reaksie van premier David Makhura op Bloom se vrae in die Gautengse wetgewer.

Makhura het glo gesê R104 000 is aan veiligheidsopgraderings by Mahlangu se private woning van 2009 tot 2014 bestee en nog R252 558 daarna.

Bloom het gesê LUR’e en voormalige LUR’e wie se veiligheidsopgraderings die R200 000-limiet oorskry, is skriftelik deur die premier in kennis gesteel hoeveel hulle binne ʼn vasgestelde tydperk moet terugbetaal. Persone wat in kennis gestel is dat hulle die bestedingslimiet vir veiligheidsopgraderings oorskry het, sluit in Mahlangu Molebatsi Bopape en Nandi Mayathula-Khoza.

“Sommige van hulle het die bedrae bevraagteken en dit word tans deur ouditeurs geverifieer,” het Bloom gesê. Hy het gesê dit is onduidelik hoekom Mahlangu steeds die heel meeste op veiligheid by haar huis bestee het, terwyl sy reeds tydens haar vorige termyn soveel aan veiligheidsopgraderings bestee het.

Bloom het gesê hy sal “die situasie monitor” om te verseker dat die geld wat oorbestee is terugbetaal word.

Mahlangu is vroeër deur die Bedfordshire-universiteit in Engeland geskors nadat dié instansie bewus geword het van die ernstige bewerings teen haar. Dit volg nadat sy ook gedagvaar is om in Desember voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

charmaine ·

So baie geld aan veiligheid? Waarvoor en vir wie is sy bang? En is die geld regtig betaal vir opgradering. Die boere kan doen so bietjie van daardie veiligheid?

Eish ·

Soos ons op skool geleer is, is die idiome steeds met waarheid gevul.
It never rains, but it pours.
Met die hele sak patats vorendag kom.
Die hele blik wurms.
Die oortjies van die seekoei.

Alles aanduidend dat wanneer verrotting sigbaar begin word, impliseer dit noodwendig n groter probleem.

Johan ·

Indien haar veiligheid so belangrik is, wat dat van die uitgebreide tyd wat sy haarself oorsee bevind het om kwansuis daar te studeer? Waar bly sy tydens haar oorsese studies? Is haar blyplek daar ook ten duurste beveilig?

Alida ·

141 dooie mense se kosgeld het daarvoor betaal. God slaap nie.

Frikkie Geld en huis ·

“skriftelik deur die premier in kennis gesteel”. Puik gestel MM !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.