Opgraderingsprojek skop af by Sir Lowryspas

Foto: Verskaf

ʼn Multimiljoenrandprojek om sekere Sir Lowryspas-padgedeeltes in die Wes-Kaap op te gradeer en nuwe paaie, geriewe, verkeersbeheermaatreëls en ʼn nuwe brug oor die Sir Lowrysrivier te bou, het Maandag afgeskop.

Die Stad Kaapstad het in ʼn verklaring gesê die R55 miljoen-projek sal oor die volgende 24 maande plaasvind en tot voordeel en ter wille van die veiligheid van inwoners van die Sun City- informele nedersetting, die Sir Lowry’s Pass-nedersetting en die Mission Grounds in die Helderberg-gebied wees.

Tydens die projek sal die Sir Lowryspas-pad vanaf die N2, regdeur die nedersetting, tot by die T-aansluiting opgegradeer word, asook die ou Sir Lowryspas-pad vanaf die Knorhoek-afrit tot verby William Sergeant-straat. Daar sal ook nuwe sypaadjies op die Sir Lowryspas-pad, die ou Sir Lowryspas-pad en in die nedersetting aangebring word.

Foto: Verskaf

Afgesien van ʼn nuwe brug oor die Sir Lowrysrivier sal nuwe ondergrondse stormwater-infrastruktuur, ʼn nuwe verkeersirkel en twee verhoogde spoedhobbels ook aangebring word om verkeersvloei te verbeter en voetgangers se veiligheid te verseker.

“Meer motoriste gebruik die Sir Lowryspas-pad van die N2 tot by die T-aansluiting en die ou Sir Lowryspas-pad as alternatiewe roetes om by Somerset-Wes te kom eerder as om die N2 te gebruik. Derhalwe is hierdie paaie in ʼn swak toestand en dus geïdentifiseer as deel van die rehabilitasieprojek,” lui die Stad Kaapstad-verklaring.

“Nog ʼn aspek wat deur die projek geïdentifiseer is, is die brug oor die Sir Lowrysrivier wat in ʼn swak toestand is en nie geskik is om groot oorstromings te hanteer nie. Die nuwe brug is daarom ontwerp om hoër watervlakke te hanteer. Die stormwater-infrastruktuur wat tot nou toe in ʼn oop kanaal deur gedeeltes van die nedersetting was, sal nou ondergronds geplaas word.”

Foto: Verskaf

Die Stad Kaapstad het gesê die verkeersbeheermaatreëls is ook as deel van die projek goedgekeur om te verseker dat motoriste stadig deur die bewoonde gebied beweeg, wat tot die veiligheid van die inwoners sal bydra.

Raadslid Anda Ntsodo, burgemeesterskomiteelid vir Area East, het gesê die projek sal 24 maande neem om afgehandel te word en motoriste kan in hierdie tyd vertragings in die gebied verwag. “Alle bouwerk sal met stop-en-ry-beheerpunte gedoen word. Ons spanne sal egter alles in hul vermoë doen om die uitwerking op die verkeer so min moontlik te hou,” het Ntsodo gesê.

“Die projek sal daartoe bydra om ondoeltreffende vervoeraspekte in die gebied aan te raak en dit is ʼn voorbeeld van beleggings wat geprioritiseer word vir infrastruktuur wat tot voordeel van motoriste en inwoners sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaques ·

Mooi so, bou nuwe paaie sodat dit net weer verniel kan word met brandende bande gedurende die alewige protestes teen die, daai en wat ookal die bee in die bonnet is die dag.

Naampie ·

Snaaks dat ek nêrens lees van ook ‘n naamsverandering vir die pas. Seer sekerlik is daar iewers nog strugglers wat vereer moet word?
Darem is De Waalweg nou hernoem, dalk na iemand wat ontsettend baie vir Skaapstad beteken het?

snoefie ·

neem kennis, dis net R55miljoen rand sover. as dut n anc projek was, was dit seje R550miljoen rand. ons moet boekhou, dit gaan nie daar bly nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.