Ophef van ramptoestand net ‘magsverskuiwing’

(Argieffoto: Unsplash)

Die ophef van die ramptoestand gister om middernag word wyd verwelkom, maar daar is groot kommer dat die regering deur die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies die “abnormale stand” van sake wil normaliseer en die magsbalans deur die “onnatuurlike regulasies” aan die minister van gesondheid oorgee.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand gesê die pandemie sal voortaan kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid bestuur word. Gesondheidsregulasies word aan die publiek voorgelê vir kommentaar tot 16 April. Daarna sal die publiek se terugvoer oorweeg word en die nuwe regulasies gefinaliseer en gepromulgeer word.

“Die kabinet het besluit die ramptoestand kom Maandag om middernag tot ʼn einde. Sekere regulasies kan van krag bly ná die ramptoestand en dié regulasies sal vir 30 dae geld as voorsorgmaatreël voordat die nuwe gesondheidsregulasies ingestel word,” het Ramaphosa gesê.

Cilliers Brink, die DA se nasionale woordvoerder, sê Suid-Afrika het 750 dae onder die ramptoestand gely, een van die langste inperkingstye ter wêreld, en die DA vra, nes talle ander instellings, al geruime tyd dat die ramptoestand opgehef word.

Klou aan mag

Die DA sê die voorgestelde regulasies is ʼn “deursigtige en opportunistiese poging om die eensydige mag wat die regering tydens die ramptoestand aan homself toegeëien het, te verleng”.

Die VF Plus het die ophef van die ramptoestand en die inwerkingstelling van die gesondheidsregulasies ook as ʼn “verskuiwing van politieke mag” bestempel.

Philip van Staden, die VF Plus woordvoerder oor gesondheid, sê dit beteken bloot dat die regering die Covid-19-pandemie nie meer onder die minister van samewerkende regering en tradisionele sake sal bestuur nie, maar deur die minister van gesondheid onder die Nasionale Gesondheidswet.

“Met die poging om die Nasionale Gesondheidswet se regulasies te wysig om die nuwe regulasies te rig, beteken dit dat die regering sal voortgaan met streng ekonomiese beperkings. Dit is duidelik dat hierdie voorgestelde regulasies nie goed deurdink is nie en dat die regering geen les uit die beperkings ingevolge die ramptoestand geleer het nie.”

Van Staden sê die minister van gesondheid kan ingevolge die regulasies enige tyd en sonder enige parlementêre oorsig verdere regulasies afkondig – ʼn stap waarteen die party maande gelede reeds gewaarsku het.

“Dit is onaanvaarbaar dat die regering op hierdie wyse aan sinnelose en beperkende regulasies vasklou wat die land soveel skade berokken het. Die vlak 5-inperkings is aanvanklik ingestel om die land se openbare gesondheidstelsel gereed te kry vir die pandemie se gevolge, maar tot vandag toe is dit steeds nie gereed vir enige pandemie nie.”

Net ‘simbolies’

Die burgerregtegroep AfriForum sê die ophef van die ramptoestand is blote simboliek en dat die nuwe regulasies neerkom op die permanente wetlike inwerkingtreding van die veronderstelde tydelike maatreëls wat ingevolge die Wet op Rampbestuur aan die regering verleen is.

Dit beteken dat die meerderheid van die Covid-19-maatreëls steeds sal bly geld en van die maatreëls wat in die hof geskrap is, soos gedwonge kwarantyn, sal weer in werking tree.

AfriForum berei reeds regskommentaar voor wat die nuwe regulasies teenstaan en waarin hy die “irrasionele en onwettige aard van hierdie regulasies uiteensit”.

“Die regering se beëindiging van die ramptoestand moet as bloot simbolies gesien word aangesien die regering beplan om die Covid-19-maatreëls permanent in die gesondheidsregulasies te vervat. Ons as AfriForum is sterk en onomwonde gekant teen die regering se slinkse en magsbehepte optrede. Ons is dit aan ons lede en ook die breër publiek verskuldig om hierdie verregaande misbruik van mag te verhoed,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die ophef van die ramptoestand verwelkom, maar sê die provinsie sal die voorgestelde gesondheidsregulasies fynkam en enige pogings “om onnodige maatreëls te laat inglip” ten sterkste teenstaan.

Agri SA het ook die ophef van die noodtoestand verwelkom. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het diegene bedank wat ondanks die moeilike omstandighede voortgegaan het om kos te produseer.

“Suid-Afrika se landbou-sektor was inderdaad Suid-Afrika se redding die afgelope twee jaar deur voedselsekerheid aan alle Suid-Afrikaners te kon verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Nicky ·

Die vra ek ook, hoop solidariteit vat hulle nog steeds hof toe more, maar ek dink hulle het klaar met die regter onderhandel.

Christine ·

Gaan kyk wat nou aangaan in China – presies wat die nuwe regulasies in die SA Gesondheidswet wil afdwing. Niks anders as kommunistiese wetgewing nie.

Boer ·

CR dink seker die mense is Dom in SA. Daar het niks verander nie al wat die heeltyd verander is die Petrol prys wat op gaan.

domheks ·

NDZ – seker nou bang vir nog hofsake, nou gaan dit na gesondheid toe. CancER kan maar net nie die mag laat gaan nie! Behandel ons soos graad R kindertjies….

Pieter ·

“Suid-Afrika se landbou-sektor was inderdaad Suid-Afrika se redding die afgelope twee jaar deur voedselsekerheid aan alle Suid-Afrikaners te kon verseker.” – Maar teen watse prys, baie produkte van die boere is onbekostigbaar!

Natasha ·

Besef die idiote dat indien hulle die wet permanent maak dat SA nooit weer enige wêreldbeker of groot sport byeenkomste sal kan aanbied nie? Nee! Want dis pynlik om verder as jou gatsak te dink… Die wet vat al ons mense regte weg, wat beteken ek sal nooit weer dokter toe gaan, want daar is geen konfidensialiteit nie en altyd ‘n bedreiging van konsentrasiekampe en proefpersoon word. Dis net nog ‘n stap om ‘n nasie dood te maak!

Janine ·

Ons sit met kwotaspanne in alle sport. Wie gee om? Ons kyk glad nie meer rugby nie. Dis ‘n absolute grap. Persoonlik het ek nie eens meer F1 gekyk nie, agv die BLM gemors van elke resies. Dis hoekom ons sit waar ons sit. Want die Afrikaner kan maar net nie sy sport los nie. TSK.

Swerwer ·

Die ANC besef hul is besig om hul “aansien” en mag te verloor soos tereg gesê deur die President die ANC Brand, dus probeer hul maar aan die grashelmpies vasklou. Die hele ou COVID van die Regering is in elk geval lagwekkend.

Jacobus ·

Die grootste klug denkbaar. Wat die twak nog meer bedenklik maak is dat die valsheid geen einde het nie. Klou nog naarstiglik aan mag – seker daarmee te doen dat geldlaaie uit hulle greep geneem word.
Skande!

Trotse Boervrou ·

Solidariteit, los julle alles nou net so of gaan julle dit nog steeds in die hof beveg? Julle glo seker nie dat hul na julle geluister het nie? Om die waarheid te sê speel hul kat en muis met julle. Wat is jul mening?

Trotse Boervrou ·

Beslis die moeite werd om te gaan luister. Dankie Solidariteit. Dit is ‘n reuse gerusstelling.

jeff ·

Geen regering in menseheid geskiedenis teruggee krag eens hulle dit geneem het.

Toy ·

Dit is belaglik die ramptoestand wat nou nog nie afgestel is nie, ons mense is nie so dom soos daar gedink word nie. Daar het net mooi niks verander nie.

Janine ·

Ek hoop van harte die hofsaak gaan voort. So kan geen mens lewe nie! Die enigstes wat gebaat het uit hierdie hele gemors, is anc/eff stemmers! Keelvol verby!

Johann ·

Wat verwag jy anders van n BANKROT MAGSMAL terroris ANC wat sy anargie in plek moet kry en HOU!

Manie ·

Die eenvoudigste manier om daarteen te veg, is om die regering te ignoreer en voort te gaan soos voorheen. Hoekom al die energie vermors? Staan net saam en daar is absoluut NIKS wat die regering daaraan kan doen nie.

Manie ·

Nie so haastig nie, ‘n ander koerant berig dat Phaahla en Kopdoek reken die ramptoestand kan terugkom indien hospitale weer vol word.

Deon ·

Hopelik n laaste hou wat sy wou inkry vanaf haar sigaret troontjie

Theo ·

Die nuwe konsepregulasies is in pas met wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (onder die VN) wêreldwyd wil uitrol. Die WGO gaan ‘n verdrag, wat waarskynlik deur al die nasies onderteken gaan word, aangaan waarin die nasies hul soewereiniteit insake gesondheidskwessies aan die WGO gaan afstaan. Die voorwendsel is “for the greater good”. SA is die wêreld een voor. Hierdie is tirannie in die ergste vorm denkbaar en moet met alle moontlike vreedsame en wettige middele teengestaan word, want ons vryheid is op die spel.

Alleen Wolf ·

En die gewone skapies gaan hulle pligsgetrou volg en ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.