Ophef van ramptoestand wys regering ‘swig onder burgerlike druk’

(Argieffoto: Salam Habash/Unsplash)

“Die opheffing van die ramptoestand rakende die elektrisiteitskrisis is ’n bewys dat die regering onder burgerlike druk swig en hopelik besef dat ’n ramptoestand nie nodig is om die krisis op te los nie.”

Só het AfriForum gereageer nadat die ramptoestand oor die kragkrisis Woensdag na net twee maande beëindig is. Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie die ramptoestand in sy staatsrede aangekondig. Die rampregulasies het onder meer ingesluit dat sekere kritieke infrastruktuurdienste van beurtkrag vrygestel word.

Volgens die VF Plus het hy reeds met die afkondiging van die ramptoestand gesê dit is moeilik om in te sien hoe dit enige oplossing kan bring vir die Eskom-krisis.

“Hierdie siening is nou reg bewys,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê. “Daar kan tereg gevra word wat het aangaande die krisis verander en wat het weens die ramptoestand verbeter sedert die aankondiging daarvan op 9 Februarie.”

Dit is duidelik dat die regering ʼn hofsaak oor die geldigheid van die ramptoestand wil vermy omdat hy besef dit is onwettig, meen Groenewald.

Solidariteit en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het aangedui dat hulle die geldigheid van die ramptoestand in die hof sou betwis. Die regering het Woensdag in regskrywes die twee organisasies gevra om hul hofaansoeke vir die tersydestelling van die ramptoestand terug te trek.

“Die enigste ding wat sedert die ramptoestand oor die kragkrisis gebeur het, was die aankondiging van die minister van finansies, Enoch Godongwana, oor die vrystelling wat aan Eskom verleen is oor die rapportering van onreëlmatige besteding en alles wat daarmee gepaard gaan.

“Die minister kon die ramptoestand gebruik het om dit te regverdig en dit is daarom insiggewend dat hierdie vrystelling teruggetrek is samelopend met die opheffing van die ramptoestand.”

Die DA het gesê die opheffing van die ramptoestand is ’n oorwinning vir Suid-Afrikaners.

’n Nasionale ramptoestand onder die dekmantel van die hantering van die beurtkragkrisis wat die ANC geskep het, gaan die ANC net bemagtig om verkrygingsprosesse te misbruik en onsinnige regulasies uit te reik wat niks met die elektrisiteitskrisis te doen het nie.

“Die realiteit is dat die ANC nie die beurtkragkrisis wat hy geskep het, kan regstel nie.”

ActionSA het ook die opheffing van die ramtoestand verwelkom. “Dit dui daarop dat die ANC-regering erken dat hy nooit Suid-Afrika se voortslepende elektrisiteitskrisis gaan oplos nie,” het Herman Mashaba, leier van ActionSA, gesê.

“Twee maande sedert die ramptoestand ingestel is, het die elektrisiteitsituasie nie verander nie. Die enigste manier om die elektrisiteitskrisis op te los, is deur private maatskappye toe te laat om elektrisiteit in ’n oop mark op te wek en hernubare energiebronne aan te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Nou is die tydelike Minister van Elektriseteit ook nie meer nodig nie.

Strandloper ·

Van die begin af n hengse kortsluiting in die boonste vedieping gehad nes die res.

Kokerboom ·

Die “demokraties” verkose regering in SA is ‘n klug! Dis ‘n kwessie van “by the people against the people”!!

Theunis ·

Die Suid Afrikaner publiek word aan hulle eie lot oorgelaat, niemand kan meer op die regering staatmaak nie, baie dankie aan sekere publieke instansies soos Outa, Solidariteit en AfriForum wat nog omgee. Wees dus verseker, meng jou met die semels en die varke gaan jou ook opvreet.

Papsak ·

Ja nee kyk ons op ons eie vat weg daai burgermeester minister hy kan niks doen nie bravo vir Frankfort met julle goeie werk wat krag aan betref bou so voort ons kan

annie ·

Nee, die ANC doen niks sonder dat dit hulle bevoordeel nie. Die tzar is duidelik te lig in die broek en Eskom dryf in groot onnoembares, dis waarom en daarom. Die Marxistiese droom geld steeds.

Treurwilger ·

“Die ANC-regering swig onder burgerlike druk”.

Natuurlik swig hulle onder druk.
Dít is presies waarom dit so onverstáánbaar is dat die heersende toestande in SA sedert 1994 so gelate toegelaat en aanvaar is?
Plaasmoorde, ander swart op wit geweld en die onderdrukking van die Afrikaanse Taal die ernstigste, maar daar is vele ander.
Waar was die DA, ander politieke partye en die groot sakeleiers tot nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.