‘Opkikkerfabriek’ in Pta oopgevlek

pille

Argieffoto

Die Valke het Dinsdag op miljoene rande se onwettige skedule 6-middels by ʼn perseel in die ooste van Pretoria afgekom.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het gesê die Valke het op ʼn wenk reageer en Dinsdagmiddag op ʼn perseel in Domkragstraat in Silverton toegeslaan.

“Drie mans en ʼn vrou is tydens die klopjag in hegtenis geneem vir die onwettige vervaardiging van opkikkers om sportmanne se prestasie te verbeter. Die polisie het ook steroïde, tablette, vloeistowwe en toerusting om tablette te vervaardig, gekry en daarop beslag gelê,” het Mulamu gesê.

Die toerusting en opkikkers het ʼn geskatte straatwaarde van R50 miljoen.

Die verdagtes, Hennie Jordan (46), Brentwood Luiters (31), Merrium Twala (37) en Frans Dikgale (31), het Woensdag vlugtig in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelms, dwelmhandel en die onwettige vervaardiging van medisyne.

Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer die verdagtes na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hulle bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.