Opknapping aan pas op tolpad kan 2 jaar duur

Argieffoto (Foto: memyselfaneye, Pixabay)

Die Van Reenenspas op die N3-tolpad word vanaf middel November ingrypend opgeknap en herbou.

Die opknappingswerk behels die herbou van al die verkeersbane in die noordelike sowel suidelike rigtings in dié pas, ʼn vername verbindingsroete tussen Suid-Afrika se binnelandse provinsies en KwaZulu-Natal.

Tydens die duur van die opknappingswerk sal al die vragmotorbane oorgebou word, terwyl die ander bane herstel en van nuwe teeroppervlakke voorsien sal word, sê Con Roux, handelsbestuurder van N3TC wat die pad tussen Heidelberg, Gauteng, en Cedara in KwaZulu-Natal bestuur.

“Die werk sal in segmente van sowat 2 km elk gedoen word,” sê hy. “Hoewel net een baan op ʼn keer vir verkeer gesluit sal word, kan opeenhopings en vertragings verwag word terwyl die werk aan die gang is.”

Hy sê N3TC is “terdeë bewus van die ontwrigting aan die vrye vloei van verkeer wat die padwerk kan veroorsaak en vra dat padgebruikers geduldig sal wees en hulle en die padwerkers se veiligheid in ag sal neem terwyl dié belangrike werk uitgevoer word. ʼn Omvattende verkeersbestuursplan is in werking om ontwrigting te keer en ongerief vir padgebruikers te beperk.”

Sorgvuldige oorweging is geskenk aan die tydsraamwerk van die padwerkprogram om te verseker dat alle bane tydens druk tye soos die Desembervakansie en Paasnaweek oop sal wees.

N3TC gee die versekering dat minstens een baan deurentyd vir verkeer oop sal wees. “Sorgvuldige oorweging is geskenk aan die tydsraamwerk van die padwerkprogram om te verseker dat alle bane tydens druk tye soos die Desembervakansie en Paasnaweek oop sal wees.”

Die bouwerk duur vanjaar tot 14 Desember, wanneer die bouaannemer vakansie neem tot die werk weer op 8 Januarie hervat sal word.

Roux herinner bestuurders daaraan dat verlaagde spoedperke geld vir dele van die pad waar bouwerk aan die gang is.

Hy verduidelik enige pad het ʼn beperkte leeftyd. “Deurgaande instandhouding, gereelde rehabilitasie en die herbou van gedeeltes van die N3-roete word vereis om veiligheidstandaarde te handhaaf. Daarom volg ons ʼn rehabilitasieprogram wat streng bestuur word op dié besige roete.”

Almal wat van plan is om die pad tydens die bouwerk te gebruik, word gevra om die N3-roete se hulplyn enige tyd by 0800 63 4357 te bel of hulle op Twitter by @N3Route te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Barries ·

Ek wonder of die mense besef hoeveel voorraad op groot trokke van nou tot voor Kersfees hul bestemmings moet bereik. Die padwerke gaan duisende rande se verlore verkope tot gevolg hê

Ouvrou ·

Hoekom kan hulle nie in Januarie, nadat die skole heropen het, met die werk begin nie? REGTIG! Die tolgeld sal seker ook nie minder wees om op te maak ver die vertragings op die pad nie. Weereens uitstekende beplanning!

Penellope Jones ·

Uiters “goeie tydsberekening” – so vlakvoor die besige Desember skoolvakansie …….

Chris Ws ·

Ek hoop net hulle gaan baie verkeersmanne daar ontplooi tydens die herstel werk aan die pad want mense steur hulle gladnie aan spoed perke by sulke padwerke nie en as jy as wetsgehoorsame motoris by die spoedperk hou dan wil iemand alewig jou van agter af van die pad af probeer intimideer deur amper teen jou voertuig te ry.

Mrs H ·

As die tyds berekening so beplan word, wil ek nie weet watse sinkplaat teerpad ons mee opgeskeep gaan sit na die tyd nie, nes die kastigge nuwe pad na Clarens wat nie eers baan merkers of geverfde lyne het nie! Moet net kort kort al die skroewe en moere weer vasdraai?. Neem aan daar MOET weer BE of nepotisme wees, in stede van wat reg sou wees in n eerste wereld.

Alida ·

Dit gaan baie langer as 2 jaar vat…mark my words…job creation.

wielie ·

Miskien moet hulle dalk teen n vinniger tempo werk en minder lunch vat van 2 – 5 ure!
In die 80’s het dinge baie vinniger gegaan want daar was dissipliene en trots

marous ·

In reentyd en vakansietyd en bou aannemer verloftyd ? Briljante beplanning … ploeters.

Mrs H ·

Hulle het seker gedink dat daar bitter min verkeer met vakansiegangers gaan wees, want brandstof is re duur en dus is alle vakansies gekanseleer. N mens moet bang raak as die spul “beplan”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.