Opknapping kom by Grootfontein

Foto: Verskaf.

Altesaam R10 miljoen is toegeken vir die opknapping van die Grootfontein Landboukollege in Middelburg in die Oos-Kaap.

Dit volg ná studente uit desperaatheid ʼn varkhok by die ingang van die kollege opgerig het om hul misnoeë oor die verblyf- en akademiese reëlings by die instansie uit te spreek.

Maroela Media het vroeër berig dié protesaksie het gevolg nadat herhaalde pleidooie deur AfriForum Jeug en studente aan Tino Herselman, direkteur van die kollege, op dowe ore geval het.

Die jeugorganisasie het ook versoek dat studente se griewe onder Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, se aandag gebring word tydens sy onlangse besoek aan die kollege. Hulle het onder meer gekla oor kamerdeure wat nie slotte het nie, verf wat afdop, gras wat nie gesny word nie en die finansiering van die sewe miniplase van die instelling wat tydelik opgehef is.

Foto: AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug meen die R10 miljoen wat nou toegeken is vir herstel- en ander opknappingswerk is te danke aan die druk wat hulle op die kollege geplaas het. “Die druk wat AfriForum Jeug op die Grootfontein Landboukollege weens die swak verblyftoestande en algemene geriewe by dié kollege toegepas het, het die kollegebestuur nou genoop om die geld vir herstelwerk en opknapping opsy te sit,” het AfriForum Jeug in ʼn verklaring gesê.

Volgens hulle is ʼn klagte ook by die Advertensiestandaarde-owerheid van Suid-Afrika (Asasa) ingedien oor “die wanvoorstelling op die kollege se webwerf van sommige aktiwiteite en geriewe wat die kollege aanbied”.

Maroela Media kon daarin slaag om kontak te maak met die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF). Steve Galane, kommunikasiehoof van die departement, het aan Maroela Media e-poskorrespondensie van Tino Herselman, direkteur van die kollege, aangestuur.

“Dit is ʼn algehele wanvoorstelling van die feite en ek het dit reeds so aan Afriforum Jeug gekommunikeer. Die sogenaamde druk van AfriForum het absoluut niks te make met die toekenning van die genoemde finansiering vir onderhoudswerk op Grootfontein nie. Beplanning van hierdie onderhoudswerk het reeds in 2016 begin en die finansiering daarvoor is reeds in Januarie 2017 deur die departement in oorleg met Nasionale Tesourie aan Grootfontein vir die 2017-’18-boekjaar toegeken. Dit is gedoen en voortgedryf deur Grootfontein se bestuurspan sonder enige druk van AfriForum,” het Herselman gesê.

Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Universiteit van die Vrystaat en Grootfontein Landboukollege, het egter gesê sy en Herselman korrespondeer al sedert Maart en sy het verskeie briewe aan hom gerig waarin sy spesifiek melding gemaak het van die probleme met die verblyf. “Ek kan dan net nie verstaan hoekom hy niks van die geldvoorraad gesê het nie, ons hou vol die geld wat opsy gesit is, is weens die druk wat ons op hulle geplaas het,” het Van As gesê.

Sy voeg by dat AfriForum Jeug aktief betrokke sal bly om toe te sien dat die geld wat nou beskikbaar gestel is wel reg aangewend word.

“Hoewel ons die vrystelling van dié geld verwelkom, is die studente steeds bereid om self in te spring, te herstel en skoon te maak met dít wat tot ons beskikking is. Ons wil ook van ons kant af ’n volhoubare bydrae lewer om ons kollege weer ’n plek te maak waarop ons trots kan wees,” het Jan-Hendrik Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak, gesê.

Van As het ook gesê dat hulle in die proses is om dié jeugtak van hul eie randsnyer en ander algemene gereedskap te voorsien om hulle in staat te stel om opkappingswerk te kan doen wanneer nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Ek bied my op regte verskoning aan dat ek Afriforum jeug se weergawe as geloofwaardig ag bo die van die hoof van die instelling sonder enige bewyse tot my oortuiging.

Griki ·

Mnr Herselman, ek dink jy skiet spek (of met hele varke). Volgens die paar foto’s op hierdie blad is die probleme nie net van verlede jaar af daar nie (walglik). Waarom nou skielik, nadat Afriforum Jeug druk begin uitoefen het, het julle vinger getrek? As ek die direkteur van die kollege was sou ek nooit toegelaat het dat die plek so verval nie – sies!

C op C ·

Hier is nie net opknapping wat geld kos ter sprake nie, Hoekom sal dokumente op die grond lê as daar rakke is. Die bestuur moet maar verantwoording doen-wanbestuur as jy my vra.

C op C ·

Hier is nie net opknapping ter sprake nie, Hoekom sal dokumente op die grond lê as daar rakke is. Die bestuur moet maar verantwoording doen-wanbestuur as jy my vra.

Skande ·

Die plek is in 2011 heeltemal oorgedoen. Kan nie glo dit lyk so nie. Kry n nuwe kollegehoof en als sal volg.

Johannes van Staden ·

Die hoof doen gladnie sy werk as n plek so lyk …!

Oudste ·

Mnr Herselman, ek wonder, is dit ‘n geval van:” Sometimes I sits and I thinks and other times I only sits?”

Neidra Knott ·

wonderlik dit word opgeknap. dan kan ek oom vra hoe het dit so gekom en hoe lank gaan dit goed gaan na opknapping. ons betaal en betaal vir Wat!!!!

Skande ·

Al raad is n nuwe hoof. Ek was self n paar jaar gelede daar en toe het als vlot geloop en als was netjies! So hartseer om die plek so te sien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.