Opknappings eers nodig voor HS Ellisras nog leerders inneem

Hoërskool Ellisras (Foto: ECJ Photography via Hoërskool Ellisras, Facebook)

Die hooggeregshof in Polokwane het vandeesweek bevind dat die provinsie se onderwysdepartement eers Hoërskool Ellisras se infrastruktuur moet opknap voordat verdere besluite oor die skool se kapasiteit geneem kan word.

Die hofbevel is die uitvloeisel van ʼn skikkingsooreenkoms wat vroeër vanjaar aangegaan is nadat die departement van onderwys in Limpopo Hoërskool Ellisras probeer dwing het om 44 bykomende leerders te akkommodeer.

“Dít terwyl die skool reeds feitlik dubbel soveel leerders het as wat hy veilig kan akkommodeer,” sê Juané van der Merwe, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Fedsas het die skool in die saak bygestaan en gehelp om die skikkingsooreenkoms in ʼn hofbevel te omskep.

Van der Merwe sê volgens ʼn ingenieursverslag is daar strukturele probleme met die skoolgebou wat vererger word deur oorvol klasse. Die leerdergetalle moes dus dringend verminder word, eerder as om nog leerders by die skool te plaas.

Ingevolge die oorspronklike skikkingsooreenkoms moes die provinsiale onderwysdepartement die strukturele en ander veiligheidskwessies voor Julie vanjaar hanteer het.

“Dit het egter nog nie gebeur nie. ʼn Minagtingsbevel is nou die departement se voorland indien die opknappingswerk nie gedoen word nie.”

Die hofbevel sê nou die departement en die skool moet ná die afhandeling van die opknappingswerk saam ʼn kapasiteitsbepaling doen.

“Geen bykomende leerders mag toegelaat word voordat die proses, soos uiteengesit in die hofbevel, afgehandel is nie,” sê Van der Merwe.

“Daarna moet nog ʼn onderwyspos aan die skool toegestaan word.”

Magsmisbruik

Die hof het Vrydag ook beslis dat die departement se oorspronklike besluit om nog leerders by die skool te plaas ongeldig was, en dit is tersyde gestel.

“Die hofbevel is ʼn bevestiging dat die provinsiale onderwyshoof en die betrokke bestuur hul mag hiermee misbruik het,” sê sy.

“Voorvalle van magsmisbruik deur provinsiale onderwysamptenare neem jaarliks toe en Fedsas huiwer nie om dit uit te wys of, waar nodig, op te tree nie.

“Fedsas volg ʼn benadering van samewerking en onderhandeling, maar soms is dit nodig om die hof te nader om amptenare te dwing om hul werk te doen soos bepaal deur die wet.”

Van der Merwe sê voorvalle soos hierdie onderstreep ook hoekom dit so belangrik is dat ouers en belanghebbendes aan openbare konsultasieprosesse oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) moet deelneem.

“Daar is gapings en tekortkominge in die wetsontwerp wat hierdie soort inmenging moontlik en wettig gaan maak.

“Daar is min tyd en geleenthede oor vir Suid-Afrikaners om openbare skole in hul huidige formaat teen staatsinmenging te beskerm.”

Fedsas en ander onderwysbelangegroepe beplan reeds om die grondwetlikheid van die Bela-wetsontwerp in die hof te toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Hulle wil net al hoe MEER KINDERS in klasse indruk! Begin eerder skole bou waar hierdie hordes BLY sodat hulle daar kan skoolgaan. Die aantal kinders wat daagliks gebore is, is ook kommerwekkend want NIKS word aangepas by die bevolkingsaanwas wat groei met die spoed van lig nie. Hospitale, klinieke, skole, krag verbruik en behuising word alles beinvloed hierdeur maar NIKS nuuts word gebou of in stand gehou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.