Opleiding bepaal steeds werksekerheid

Argieffoto (Foto: Tanja Mason/Pixabay)

Opleiding is steeds ‘n groot bepaler van werksekerheid.

Dit is bevestig uit die nasionale werkloosheidsyfer wat Dinsdag deur die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, bekend gemaak is. Die werkloosheidskoers staan tans op 29,1%, wat sowat twee persentasiepunte hoër is as dieselfde tydperk verlede jaar.

Werkloosheidskoers volgens opleiding:

Gegradueerdes se werkloosheidsyfer is 8,2%; diegene met ander naskoolse opleiding staan op ‘n syfer van 19,1%; Suid-Afrikaners met matriek het ‘n werkloosheidsyfer van 29,8%; en diegene met minder as matriek staan op 34,4% werkloosheid.

Werkloosheidskoers volgens ouderdom:

  • Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 55 en 64 jaar is 9,9% werkloos
  • Diegene tussen 45 en 54 jaar se werkloosheidsyfer is 17,2%
  • Diegene tussen 35 en 44 jaar se werkloosheidsyfer is 22,9%
  • Diegene tussen 25 en 34 jaar se werkloosheidsyfer is 47,5%
  • Persone tussen 15 en 24, wat nie op skool is of andersins besig is met opleiding nie, het ʼn skrikwekkende werkloosheidsyfer van 58,4%.

Werkloosheidskoers volgens provinsie:

Jeugwerkloosheid is die hoogste in die Noord-Kaap, gevolg deur die Oos-Kaap, Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Vrystaat en Limpopo. Die Wes-Kaap is verreweg die beste daaraan toe, gevolg deur Gauteng.

Werkloosheidskoers volgens bedryf:

Die dienstebedrywe bied die meeste werkgeleenthede, gevolg deur handel, finansies, vervaardiging, konstruksie en private huishoudings. Die meeste werkgeleenthede gaan tans verlore in die konstruksiebedryf.

In reaksie het die DA-LP Geordin Hill-Lewis gesê slegs ekonomiese groei kan werkloosheid verminder, nie verdere staatsdiensposte nie. Hy het verwys na die DA se gedetailleerde begrotingsbeleid wat gister aangekondig is en waaroor Maroela reeds in besonderhede berig het.

Namens die VF Plus het die LP Heloise Jordaan gesê die werkloosheidsyfer is die skuld van rampspoedige ANC-bestuur. Sy het uitgewys dat munisipaliteite byvoorbeeld besig is om in duie te stort oor oordadige salarisverpligtinge.

Hoewel 62 000 nuwe werkgeleenthede die afgelope kwartaal geskep is, het 78 000 mense hul werk verloor, 44 000 mense het in die afgelope drie maande ophou werk soek en 35 000 meer mense as drie maande gelede het hulself as “andersins onaktief” in die arbeidsmark geklassifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KaterinaKat ·

In hierdie land bepaal jou velkleur jou werksekerheid, of gebrek daaraan. Lets not fool ourselves.

Abe ·

Marie,
As jy dan moet veralgemeen: Meer mense met opleiding word gekeur en behou hulle werk as mense sonder opleiding. Dit is nog meer die geval by mense wat gegradueer is en opleiding het.

Outomatiseer ·

Die generasie jonger as 35 is verlore.
Daar kom Industrie 4 en Kunsmatige Intelligensie. Bitter min jong mense is gereed vir dit. Die demokratiese regering het die jeug gefaal.

Chrisjan ·

Die persepsie dat iemand anders vir my/jou moet werk gee is absoluut nie van toepassing in 2019 nie. Leer eerder jou kind(ers) entrepreneurskap ipv dat hulle soveel tyd aan onsinnige rekenaarspeletjies spandeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.