Oplewing in pogings om Zim se laaste wit boere uit te sit

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Daar is ʼn oplewing in pogings om wit boere te dwing om hul plase in Zimbabwe op te gee, 15 jaar nadat die land se grondhervormingsprogram van stapel gestuur is.

Die Commercial Farmers’ Union (CFU) van Zimbabwe het Dinsdag gesê daar was ten minste 20 “voorvalle” op eiendom wat aan wit mense behoort oor die afgelope paar weke. In die meeste gevalle is boere aangesê is om hul plase te verlaat.

Sommige is so min as ʼn maand “kennis” gegee.

“Hulle lig die eienaar in dat hul tyd verstryk het,” het Hendrik Olivier, CFU se direkteur, aan Sapa gesê. “Sommige mense kry 90 dae, sommige kry 45 dae, en sommiges kry 30 dae om boerderybedrywighede klaar te maak en om die eiendom te ontruim.”

Olivier het gesê in sommige gevalle is die eise gemaak “sonder enige amptelike korrespondensie van die ministerie” en dat daar geen papierwerk is nie.

Hy het gesê die meeste voorvalle het in die suidelike deel van die Matabeleland-provinsie plaasgevind.

Daar word vermoed dat tussen 300 en 400 wit boere oor is van die aanvanklike 4 000 boere wat 15 jaar gelede daar was. Baie van die persone wat oorgebly het, het reeds dele van hul plase afgestaan.

ʼn Onbekende hoeveelheid wit boere het stilweg teruggekeer om grond van die nuwe eienaars te huur.

Adjunkpresident Emmerson Mnangagwa het verlede maand ʼn aanduiding gegee dat president Robert Mugabe se regering meer grond van wit boere gaan oorneem.

Mugabe se grondhervormingsprogram is in 2000 van stapel gestuur in wat beskryf is as ʼn poging om die wanbalans van grondeienaarskap van die koloniale era reg te stel.

Kritici het gesê die program het bygedra tot Zimbabwe se ekonomiese krisis wat veroorsaak is deur ʼn daling in beleggersvertroue en landbouproduksie.

Mugabe en sy ondersteuners het gesê Westerse sanksies is vir die krisis te blameer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bruno Stef ·

SA boere neem kennis dit is op pad ondanks skewe en vae versekerings van die regering en sy woordvoerders. Die eiendom sal aan die ANC rugkrappers toegeken word wat geen belang by boerdery het nie maar dit beskou as geregverdig omdat hulle as enkel persone namens die agtergeblewe massas daarop geregtig is.

Anton Smit ·

Jy kan reg wees Bruno Stef maar hierdie is nie Zimbabwe dit is nie net vir vat nie die Zim boere het darem Suid Afrika gehad om heen te gaan maar ons kan nerens heen nie

Grassie ·

Anton – ek weet nie of die boere, en saam met hulle die dorpenaars, in staat sal wees om teenstand te bied nie. Kom ons stel die hele boerderybedryf voor as ‘n baksteenmuur waarin elke boedery ‘n baksteen is. Mugabe het in Zim sy hele muur op een skoot stormgeloop en platgeslaan. Daar was te min boere om teenstand te bied. Die ANC se raadgewers is baie meer geslepe. Hulle beweeg stadig, stappie vir stappie, en verwyder net een baksteen op ‘n slag. Eers is grondeienaars wat hul grond moes prysgee teen markwaarde vergoed. Nou, met 36000 nuwe grondeise wat geregistreer is, is daar wetgewing in die pyplyn dat afgesien gaan word van markwaarde – die boere sal moet vat wat hulle kry en waai. Boere wat oorbly sal 50% van hulle plase sonder vergoeding moet afstaan. Alles sal oor ‘n lang tydperk geskied, baksteen vir baksteen, totdat daardie muur so ‘n veflenterde murasie is dat dit nie meer die moeite werd is om voor te baklei nie.
Ek weet ek klink pessimisties, en ek hoop ek is verkeerd, maar ons het ons reg om altyd self oor ons grond te beskik reeds in 1992 verloor.

Ivan ·

Grassie, ek het nou al met baie mense hieroor gesels en gedebateer, maar nog nooit het iemand dit so helder en duidelik gestel soos wat jou beskrywing hierbo dit weergee nie.
Dankie.

CHRISTA ·

Zimbabwe is ‘n uitstekende bewys vir ons grondeisers. Dit help nie jy het die grond en jy kan of wil dit nie bewerk nie. Niks groei of leef vanself nie. Grond kan jy nie eet nie!! Nie eers die minister in die parlement kan na haar varkboerdery omsien nie.

HEVW ·

Stem saam met Grassie. In die hele saak is daar nog die kondisioneringsproses wat eiendomlik is aan kommunistiese metodes.. Moet nie verbaas wees wie die eintlike inisieerders is nie, en die uiteidlike grondbesitters sal nie die swartes wees nie. Na dit uiteindelik verval het gelyk aan die standaarde van die genoemde varkboerdery sal die enkelgrondbesitter verdwyn en sal uit onbekende oorde n groot helpende hand vol van “simpatie” uitgesteek word en massagroot maatskappye sal verantwoordelik wees vir wereldproduksie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.