Oplossing gesoek vir geldtekort by Stats SA

(Grafiek: StatsSA)

Die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, en die voorsitter van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se raad, prof. David Everatt, sal met die minister van finansies, Tito Mboweni, asook die tesourie vergader om ʼn oplossing te probeer vind vir die nypende geldtekort by die instelling.

Maroela Media het verlede week berig die hele raad van Stats SA dreig om te bedank as daar nie binnekort ʼn oplossing vir die organisasie se krimpende begroting gevind word nie. Everatt het vroeër gesê Stats SA is op ʼn kantelpunt en as die land dié “robuuste en innoverende” instelling wil behou, sal die regering sy sokkies moet optrek.

In 2015 het die regering die instelling se begroting met R160 miljoen gesny en alle poste gevries.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Everatt het toe gesê die instelling is nie ʼn “staatskaping-reddingsboeikandidaat” nie. Stats SA kry normaalweg skoon oudits en word wyd vertrou. “Dit is bitter moeilik om te verstaan waarom ʼn gerespekteerde, betroubare en belangrike instelling, wat by die reëls hou en deur die ouditeur-generaal geloof word, wesenlik deur die regering gestraf word terwyl diegene wat by staatskaping betrek word massiewe reddingsboeie kry.”

Hy het gesê die regering is besig om die hart van die instelling uit te ruk en die R200 miljoen wat Stats SA benodig, is maar ʼn druppel aan die emmer van die regeringhulp wat aan ander staatsinstellings uitgedeel word. Sensus 2021 is boonop om die draai.

Mthembu en Maluleke het Sondag met die raadslede vergader om die situasie te probeer beredder.

Die statistikus-generaal, Risenga Maluleke. (Argieffoto: ANA)

“Die gees van die vergadering was om ʼn gemeenskaplike oplossing te vind om die kontinuïteit en integriteit van die stelsel te verseker. Die vergadering was produktief en aangenaam. Die uitslag was dat die minister, die statistikus-generaal en die voorsitter van die raad verder met die minister van finansies en die tesourie sal vergader oor die dreigende risiko’s in die statistiese stelsel as ons nie vinnig iets aan die probleme doen nie,” het die groep in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die minister, die raad en die statistikus-generaal was dit eens dat daar dringend ʼn oplossing vir die geldtekorte by Stats SA gevind moet word, terwyl die taai ekonomiese tye waarin Suid-Afrika hom bevind, nie uit die oog verloor word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Scalla ·

Die nypende geld tekort is agv te veel en bogemiddelde besoldigde amptenare en daar word te veel spandeer.

henndrik ·

Scalla, jy is deels reg maar die regering het waarskynlik daar gesnoei omdat hulle nie daar iets kon skep nie

Nie Verbaas ·

Verhaal die geld van die mense wat geplunder het en gooi hulle in die tronk vir die res van hul lewens. Gaan die belasting betaler nou weer opgesaal word om skuld te delg vir ongerymdhede wat hoe amptenare voor verantwoordelik is? Is plundery al gestop? Is skuldiges agter tralies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.