Oplossings geëis vir vertragings in betaalmeestersaak

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg, Noordwes. (Argieffoto: African News Agency)

Sakeliga het sy regspan opdrag gegee om die kantoor van die regterpresident van die Noordwes-afdeling van die hooggeregshof in Mahikeng te nader om ʼn spesiale toewysing van sy aansoek om ingryping in die Ditsobotla- en Naledi- plaaslike munisipaliteit.

Die owerhede bedien Lichtenburg en Vryburg onderskeidelik.

Sakeliga het in Mei vanjaar ʼn geskiedkundige aansoek by die hof ingedien waarin hy vra dat die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteit onder die administrasie van ʼn spesiale, onafhanklike betaalmeester geplaas word.

Só ʼn betaalmeester moet toesien dat invorderings vir dienste soos water en elektrisiteit regstreeks aan die verskaffers daarvan oorbetaal word, ooreenkomstig die munisipale begroting en verpligtinge, eerder as dat dit deur “onbevoegde amptenare verkwis word en sakegemeenskappe en inwoners sodoende sonder kritiek noodsaaklike dienste gelaat word”.

Sakeliga sê nou dit is in die openbare belang om ʼn toewysing op die hofrol in die nabye toekoms te verseker.

In ʼn skrywe wat tans aan die regspanne van die verskillende staatsdepartemente wat die saak opponeer beteken word, vra Sakeliga ook dat direktiewe gegee word om die respondente te dwing om hul samewerking met die finalisering van die hofstukke te gee, sê Piet le Roux, hoof van Sakeliga.

Die organisasie sê hy sukkel reeds sedert Mei vanjaar om volledige samewerking by sekere van die respondente – munisipaliteite en staatsamptenare – te kry om die saak na verhoor te neem.

“Weens ʼn deurlopende rompslomp met die lewering van beantwoordende verklarings – met die Ditsobotla-munisipaliteit wat steeds nie beantwoordende verklarings gelewer het nie – en die laat lewering van ander antwoordende eedsverklarings, sukkel Sakeliga tans om ʼn verhoordatum te bekom.”

Le Roux sê benewens ʼn algemene traagheid met die lewering van hofstukke, het daar intussen ook tussentydse dispute ontstaan wat die saak moontlik nog langer uit die hof gaan hou.

“Weens ʼn gebrek aan samewerking aan die kant van die respondente, het Sakeliga geen ander keuse gehad as om die hooggeregshof om spesifieke regshulp te nader nie. Die bevel is met koste toegestaan en Sakeliga is tans besig om die bevel teen die versuimende respondente af te dwing.”

Le Roux sê die aansoek moes al teen die einde van September gereed vir verhoor gewees het.

Hy sê merkbaar in die hofstukke wat reeds geliasseer is, is dat die nasionale en provinsiale regering alreeds etlike jare ten volle bewus is van die groeiende finansiële en ander krisisse waarin die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteit verkeer. Sakeliga steun in sy hofstukke onder andere op artikel 139 van die Grondwet wat bepaal dat die provinsiale en soms nasionale regering verplig is om in te gryp by munisipaliteite onder sekere omstandighede waar dienslewering- en finansiële verpligtinge nie nagekom word nie.

Le Roux sê maande nadat Sakeliga sy hofaansoek op die provinsiale en nasionale regeringsfere beteken het om grondwetlike pligte van die provinsiale en nasionale regering af te dwing ten opsigte van die vervalle respondent-munisipaliteite, is daar steeds geen daadwerklike stappe gedoen om ʼn bestuursverandering af te dwing nie.

“Dit getuig van ʼn onwilligheid of onvermoë van die provinsiale en nasionale regering om daadwerklik in te gryp. Dit is ook om hierdie rede dat Sakeliga verdere regshulp vra in die vorm van ʼn onafhanklike, spesiale betaalmeester.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

Kan enigeiemand my inlig of een, ja net een ANC munisipaliteit ‘n sukses is ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.