Opname: Duisende vakansiegangers kanselleer hul besprekings vir Tuinroete

(Foto: SANParke/Facebook)

Eenderde van gastehuise aan die Tuinroete het minstens 50% van hul besprekings vir die feestyd verloor nadat die regering besluit het om strande te sluit in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

Só toon ʼn peiling deur NightsBridge, ʼn aanlyn besprekingsportaal, nadat die vlak 1-afsonderingsregulasies onlangs gewysig is.

Die meeste kleinverblyf-eienaars het hul hoop op oorlewing op hul besprekings vir die feestyd geplaas, sê Theresa Emerick, besturende direkteur van NightsBridge.

“Hierdie hoop is verydel met die aankondiging dat alle strande in die Tuinroete tot Januarie 2021 gesluit sal wees.”

Sowat 166 gastehuise het aan die NightsBridge-opname deelgeneem, waarvan 86% aangedui het dat hulle altesaam 746 kansellasies ontvang het sedert die aankondiging. Hieruit het 11 gasteverblyf-eienaars in die Tuinroete ʼn inkomsteverlies van 80% tot 100% vir Desember en Januarie gemeld.

Verder is 169 besprekings uitgestel tot vroeg volgende jaar, April 2021 of selfs tot Desember 2021.

“Hoewel dit beteken dat gasteverblyf-eienaars moontlik die deposito’s wat hulle reeds ontvang het, kan hou, verminder dit hul toekomstige inkomstegeleenthede,” sê sy.

Sedgefield se strandmeer. Argieffoto: wikivillage.co.za

Volgens Emerick het kansellasies twee weke gelede begin toe die nuus van ʼn tweede golf opslae gemaak het en brandpunte oor die hele land geïdentifiseer is.

“Sowat 20 000 besprekings vir Desember en Januarie is twee weke voor die aankondiging van die nuwe regulasies gekanselleer, en 12,7 % van die besprekings in die Wes-Kaap op die NightsBridge-stelsel.”

Volgens NightsBridge is die Knysna- en Sedgefield-omgewing die hardste getref in terme van inkomste wat verloor is. Aanlyn besprekings van meer as R1,16 miljoen is gekanselleer. Dít terwyl die Mosselbaai-omgewing R643 795 verloor het, Plettenbergbaai R767 165 en Wildernis R643 795.

Die afgelope week het die Tuinroete altesaam R3 927 219 in aanlyn besprekingswaarde verloor.

Vanuit die opname blyk dit dat Knysna die meeste besprekings per streek verloor het, gevolg deur Sedgefield met 183 en Wildernis met 155.

Van die redes vir die kansellering van vakansieverblyf in die Tuinroete sluit in vrese om Covid-19 op te doen, strandsluitings, gekanselleerde vlugte of nuwe aandklokreëls, verklaring van die streek as brandpunt, moontlike herskryf van matriekeksamenvraestelle en hernude inperkingsregulasies in Europese lande.

“Die toerisme-en-gasvryheidsektor was een van die sektore wat die meeste gely het onder die Covid-19-regulasies. Ten spyte hiervan het ons hard gewerk om internasionaal goedgekeurde protokol vir gesondheid en higiëne te volg om ons gaste en personeel veilig te hou.

“Ons vra dat diegene wat voortgaan met hul vakansie die reëls sal nakom sodat ons deure kan oopbly en die gesinne wat afhanklik is van ons bedryf sodoende laat voortbestaan,” sê Emerick.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.