Opname wys meer as helfte dink nie skole moet nou heropen

(Argieffoto: Juraj Varga/pixabay)

Skole heropen – indien die Covid-19-pandemie nie dié plan in die wiele ry nie – na verwagting op 27 Januarie vir leerders. Volgens ʼn opname van die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) glo 53% van volwassenes egter nie dat skole moet heropen tot die huidige Covid-19-situasie verbeter nie.

Die navorsers het bevind dat:

  • 53% van volwassenes meen skole moet gesluit bly tot die situasie verbeter
  • 19% glo skole moet net vir gr. 7- en gr. 12-leerders heropen
  • 19% meen skole moet vir alle grade heropen
  • 9% van volwassenes “weet nie”

Die opname is tussen 30 Desember en 6 Januarie gedoen en amper 11 000 mense het daaraan deelgeneem.

Altesaam 52% van mans en 53% van vroue glo nie skole moet heropen tot die tweede vlaag koronavirusinfeksies bedaar nie.

“Diegene met laer inkomste is meer geneig om die heropening van skole teen te staan as diegene wat meer verdien. Altesaam 53% van diegene wat minder as R1 000 per maand verdien, is gekant teen die heropening van skole, in vergelyking met 41% van diegene wat meer as R20 000 per maand verdien.”

Houdings jeens die heropening van skole verskil ook volgens ras.

Indiërvolwassenes is die sterkste gekant teen die heropening van skole en 77% van deelnemers glo nie skole moet heropen tot die getalle begin afplat nie.

Bruin en swart Suid-Afrikaners is ook sterk gekant teen die heropening: 63% van bruin en 52% van swart mense wat aan die studie deelgeneem het, glo nie skole moet nou heropen nie.

Net 37% van wit volwassenes is gekant teen die heropening van skole.

Waar mense woon, het ook ʼn uitwerking op hul siening. Diegene wat in agterplase of townships woon, is meer gekant teen die heropening (56%), terwyl 44% van diegene wat in ʼn voorstedelike huis woon, gekant is teen die heropening van skole.

ʼn Soortgelyke studie wat verlede jaar gedoen is, het gewys die meeste ouers is uiters bekommerd oor die uitwerking van die pandemie op hul kinders se onderrig. Die navorsers sê teenkanting teen die heropening van skole moet dus nie beskou word as ʼn aanduiding dat mense nie bekommerd is oor hul kinders se onderrig nie.

Hulle sê ook die syfers is ʼn weerspieëling van ongelykhede in die samelewing.

“Ryker ouers in woonbuurte kan groter vertroue in die vermoë van hul skole hê om ʼn veilige ruimte te voorsien, in vergelyking met armer ouers in townships en informele nedersettings.”

Die navorsers sê verlede jaar, toe infeksies ook toegeneem het, het die regering besluit om die heropening van skole uit te stel. Om dit nou weer te doen, sou dus konsekwent met die vorige besluit wees.

In daardie stadium was pres. Cyril Ramaphosa se hoofargument gegrond op raad van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat infeksies onder onderwysers en leerders na die res van die gemeenskap – en andersom – kan versprei en dat die heropening van skole tot ʼn verdere styging in gevalle kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abraham

Die situasie gaan nooit beter word nie. Daar is te veel mense wat mekaar aansteek.. Hou skool aanlyn!

Lola88

Waar is die opname gedoen? Niemand wat ek ken was deel van enige opname nie? Inteendeel, almal stem dat skole wel moet oopmaak?

Piet

Mense begin stadig maar seker by kom.

Nici

Die pandemie het nog niks in die wiele gery nie, net die regering se besluite oor almal se lewens het. Shut downs het nie tevore gewerk nie want mens kan nie vir jare toe bly nie. Dalk is dit tyd om meer gesofistikeerd te werk te gaan as hierdie lomp, dom besluite.

Jax

Ek stem saam. Kinders moet by die huis bly!
Ja hulle opleiding is belangrik maar sonder goeie gesondheid, is dit onmoontlik!!