Opod bring kriminele aanklag teen Phiyega

Riah Phiyega Foto: GCIS

Riah Phiyega Foto: GCIS

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het ʼn kriminele saak teen die geskorste nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, en die voormalige Noordwes-polisiekommissaris oopgemaak teen die Marikana-slagting.

Israel Kgamanyane, waarnemende hoof van Opod, het Dinsdag aan die parlementêre komitee oor polisie gesê dat sake op 8 September verlede jaar teen Phiyega en Zukiswa Mbombo geregistreer is. Hulle word ondersoek dat hulle misleidende getuienis aan die Farlam-kommissie voorgehou het.

Opod het ook ʼn saak van dwarsboming van die gereg teen brig. Ledile Malahlela en genl.maj. Ganasen Naidoo oopgemaak. In Naidoo se geval hou die aanklagte verband met die versuim om “beheer uit te oefen” by toneel 2 – soos ondersoekbeamptes verwys na een van die twee gebiede waar 17 mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet is. Die uiteindelike dodetal was 34, die hoogste aantal persone wat sedert post-apartheid dood is weens polisieoptrede.

Kgamanyane en Opod se streekshoof in Noordwes het aan LP’s gesê die organisasie se ondersoek of die polisie kriminele aanspreeklik gehou moet word vir die skietery het in 2015 al begin, maar hulle het teenkanting van die polisie beleef. Die polisie het onder andere geweier dat onafhanklike ballistiese kenners toegang kry tot hul fasiliteite om toetse te doen.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gesê hulle sal nie onafhanklike forensiese kenners toelaat om hul laboratoriums te gebruik nie,” het Joel Mosimanegape, Opod se hoof in Noordwes, gesê. Hy het gesê die het die Opod-ondersoek bemoeilik, aangesien die onafhanklike ondersoekers nie oor dieselfde vlak van toerusting beskik wat die polisie het nie.

Mosimanegape het bygevoeg daar is ook frustrasie in die ondersoek teen Malahlela weens die verlies van inligting op ʼn geheuestokkie wat ʼn opname bevat het van ʼn buitengewone vergadering met Phiyega, ná ʼn algemene vergadering van die Nasionale Bestuursforum op 15 Augustus 2012. Malahlela het glo die geheuestokkie huis toe gevat wat die enigste opname bevat het van dit wat Phiyega en senior beamptes oor Marikana bespreek het.

Sy staan tereg op aanklag van dwarsboming van die gereg en oortreding van die Wet op die Beskerming van Inligting van 1982 omdat sy versuim het om staatsinligting te beskerm wat op die geheuestokkie was. Malahlela het glo ses dae lank die stokkie by haar gehou, in plaas daarvan om dit te oorhandig sodat ʼn transkribering gedoen kan word. Die opname is in daardie tydperk glo uitgevee.

LP’s het voorgestel dat dit hoogs onwaarskynlik is dat een beampte dit op haarself sou neem, sonder enige opdrag, om aan sensitiewe inligting te karring en wou weet wat Opod doen om te bepaal wie almal betrokke was in die vernietiging van die opname.

“Ons het ons vermoedens, maar ons kan nie enigiets doen as om haar direk te ondersoek en dan te kyk wat die ondersoek aan die lig bring nie,” het Mosimanegape gesê.

Leonard Ramatlakane, ANC-LP, het hierop reageer en gesê dit herinner hom aan gebeure tydens die apartheidsjare. “Julle gaan terug na ʼn slegte era, dit herinner ons aan die slegte ou dae… mense wat verdwyn, inligting wat verlore gaan,” het hy gesê.

Francois Beukman, voorsitter van die portefeuljekomitee, het lt.genl. Johannes Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, gewaarsku dat die omvang van die polisie se samewerking in die Opod-ondersoek gemonitor sal word. Hy het gesê dit is noodsaaklik dat die ballistiese kenners toegelaat moet word om hul werk te doen. “Daar sal geen kompromie wees van die komitee se kant nie,” het Beukman gesê.

Hy het Opod ook gewaarsku dat sy vordering om die aanbevelings van die Farlam-kommissie te implementeer, ook van naby dopgehou sal word.

Die Farlam-kommissie het aanbeveel dat die staat ʼn span moet aanstel wat bestaan uit senior Opod-ondersoekbeamptes en onafhanklike ballistiese- en forensiese kenners om ʼn volledige ondersoek van stapel te stuur oor die skietery. Dié ondersoek moet geskied onder leiding van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging om te bepaal of die polisie wel krimineel aanspreeklik gehou kan word vir die afsterwe van die mynwerkers. Die kommissie het ook aanbeveel dat personeel en hulpbronne van Opod, wat die afgelope jaar in politieke omstredenheid gehul is, hersien word om seker te maak dat die organisasie sy taak kan uitvoer.

Volgens Kgamanyane het Opod R5 miljoen opsy gesit vir die ondersoek, en al die geld kom uit die bestaande begroting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

PJ ·

Moet zuma nie ok kom verduidelik hoekom hy n onbevoegde persoon in hierdie pos aangestel het nie ?

humor ·

Die tante het haar lyf deeglik rondgeswaai en soos ek kan onthou ook rassistiese uitlatings gemaak wat nou strafbaar is.

Sarel Strydom ·

Ek is nog steeds van mening dat die verkeerde persone vervolg word. Zuma no.1 wat haar aangestel het terwyl sy onbevoeg was. 2. Waar is die Vakbondnase? Wat het geword van die vermoorde Polisiemanne? Die Polisie is uitverkoop by Marikana deur die ANC vir Politieke gewin en beskerming van hulle Vakbondmaatjies.

Oom Boer ·

As die regte mense aan die stuur was om hierdie konflik te hanteer kon baie gedoen gewees het om die tragedie en lewens verliese te voorkom het. Meer koppe moes gerol het wat direk en indirek betrokke was met die gebruik van onskuldige werkers en hul gemoedere op loop gejaag het. Dit was ‘n hartseer tydperk vir baie families aan alle kante en hoop hul vind vrede in hul harte. Sterkte vorentoe.

Jean ·

Onbevoegd is sy definitief en aan die stuur van sake moes sy nooit gewees het nie maar die situasie het opgebou soos n hoe druk kook pot..
Mense is vermoor deur mynwerkers en die lot kom swaai messe pangas voor die polisie rond goeie genade wat dink hul sal gebeur????

Sy Riah moet maar vir haar kry.
Sy word nou lekker gebruik as n weerlig afleier, die onbevoegde anc se slaansak…ai ai ai..

Gertjie ·

Ja, en wat van die toordokters en die ANC, hulle is almal skuldig…

Verstaan nie. ·

Polisie en Sekuriteits manne s anngeval met byle, pikstele, assegaaie,en ander wapens en vermoor. Maar toe hulle hulself begin verdeding het hierdie wapens skielik in marshmallows verander en die moordenaars in onskuldige engele. En skielik is polisie die moordenaars. Ek kan dit nie verstaan nie.

Johann Marx ·

Dan join ek ook nou maar die koor. Miskien antwoord iemand as ons lank genoeg en hard genoeg skree: WIE DE JOOS HET HIERDIE ONBEVOEGDE PERSOON AANGESTEL???

Wouter ·

Verstaan nie! Jy is 100% reg. Daar is n week voor die gebeure twee sekerheids wagte vermoor. Toe is die polisie ontbied om ondersoek in te stel, toe is hulle vermoor met pikstele en byle en pangas. Hulle is ook aan die brand gesteek. Dis die saak wat ondersoek moet word. Maar Riah het wie ook al beskerm en nou is sy in die moeilikheid. Wat reg is, maar wie het sy beskerm? dalk nr 1.

alida ·

Niemand anders as Zuma kan geblameer word nie.. HY het haar aangestel en HY moet rekenskap gee. Sy aan die ander kant moes nooit maar nooit die pos aanvaar het terwyl sy geweet het sy is onbevoeg nie. Zuma se beloftes het haar laat stuikel en nou sit sy met die gebakte pere. Los al die ondersoeke en geld mors en stuur haar huistoe waar sy hoort.

GES ·

Waar pas Ramaphosa in? Hy het mos baie aandele in die myn waar die tragedie afgespeel het. Almal wil Zuma slag maar wat van sy raadgewers?

alida ·

O ja GES ek het vergeet die arme Pres kan nie self dink nie en daarom het hy raadgewers nodig om vir hom te dink. Kan nie wag vir die sirkus om te begin as die parlement open nie.

Karma ·

Op ‘n ligter noot, mense, Mnr. Mosimanegape moet tog asb. die laaste drie letters van sy van verwyder (MosimanegAPE) – netnou, as ‘n wit persoon hom op sy van aanspreek, dan word hulle van rassisme beskuldig, soos met Penny Sparrow.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.