Opod erken knoeiery met kriminele klagtes

(Foto: SA Polisie)

Die waghond wat moet sorg dat die polisie nie onwettig optree of knoei nie, het in die parlement toegegee dat hy self geknoei het om sy suksessyfers beter te laat lyk. Polisielede wat moontlik skuldig was aan dié knoeiery, moet nou ondersoek word en aanbevelings oor hul vervolging moet gemaak word.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is die afgelope dae in die nuus nadat ʼn ondersoekende artikel deur die drukgroep Viewvinder bevind het dat ʼn groot hoeveelheid ondersoeke skielik op die laaste dag van die finansiële jaar as opgelos gerapporteer word, terwyl dit nooit ondersoek is nie. Dit laat die vermoede ontstaan dat die syfers gedokter word om die sukseskoers beter te laat lyk as wat dit is. Gevolglik is duisende klagtes teen polisielede tussen 2012 en 2019 onder die mat gevee. Toe Opod dus Donderdag voor die portefeuljekomitee oor polisie verskyn, was die gort gaar.

Opod het aanvanklik op die aanval voorgekom en beweer hulle sou nie ʼn ongekwalifiseerde oudit van die ouditeur-generaal gekry het as die bewerings waar was nie. Leiers van die instansie voer ook aan die omvang van die probleem word in die media oordryf.

Namate komiteelede van die ANC, DA en EFF (die ander partye was afwesig) al hoe meer vrae gevra het, het Opod al meer op die agtervoet beland en uiteindelik toegegee dat die probleem bestaan en dat die volle omvang daarvan nog nie bekend is nie.

Tot dusver is twee Opod-personeellede in Gauteng daaraan skuldig bevind dat hulle hul suksessyfers aangepas het. Een van hulle word krimineel vervolg. Die omvang van die probleem is die onderwerp van ʼn verslag wat op 18 Oktober (volgende Vrydag) uitgereik word.

Lede van die portefeuljekomitee oor partygrense heen het Opod behoorlik uitgetrap oor hul bontpratery en genl.maj. Ockie Terblanche (DA) het gesê Opod se gedrag maak dit moeilik om enigiets te glo wat hulle sê. Hy en sy mede-LP van die DA, Andrew Whitfield, het daarna verwys dat Opod volgens hul eie syfers vanjaar 83% van hul doelwitte bereik het, teenoor net 65% verlede jaar.

Die DA betwyfel in die lig van die omstandighede die juistheid van hierdie syfers. Tina Joemat- Pettersson, voorsitter van die komitee, het Opod ook vermaan dat hul geloofwaardigheid daarmee heen sal wees as dit blyk hulle dokter hul suksessyfers.

Joemat-Pettersson en die komitee het daarop aangedring om die verslag op 23 Oktober te bespreek en die skuldiges dan uit te rook.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Linda J ·

Ek wonder hoeveel van daai aansoeke het al weggeraak of in “file 13” beland, hulle sal mos nou nie hulle eie boeties ondersoek nie. Die SAPD is vrot van mense wat NIE WIL WERK NIE. Hulle wil eerder net in die strate lê as om hulle werk te doen. Waar het jy gesien ‘n departement se mense vat van 12:00 tot en met 14:00 ete waar dit na regte net vanaf 13:00 tot 13:30 moet wees. Wys my een lid wat die volle 8 ure van die dag by die werk net werk en dan nog kom leuns vertel oor hulle kamstige goeie styfers, wonder of 1% al ooit afgehandel is.

wraggies ·

Wonder wanneer gaan Joemat-Petterson aangekla word, nou ‘n voorsitter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.