Opod het nie geld om Marikana te ondersoek nie

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) Foto: Werner Beukes/SAPA

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) het Woensdag aan die polisie se portefeuljekomitee gesê hy het nie genoeg geld om ten volle sy mandaat uit te voer nie, insluitend om die Marikana-slagting te ondersoek.

Die komitee het verlede jaar aanbeveel dat Opod ʼn bedrag moet allokeer om die aanbevelings uit te voer van die Farlam-kommissie van Ondersoek, wat op die been gebring is om die 2012-Marikana-slagting te ondersoek.

Opod het egter Woensdag tydens ʼn voorlegging aan die komitee gesê hy kon nie finansiering bekom vir die implementering van die Farlam-kommissie se aanbevelings nie en dat die ondersoek in hierdie stadium nie afgehandel kan word sonder bykomende finansiering nie.

Opod het die parlement verlede jaar in kennis gestel dat hy R5 miljoen benodig om sy Marikana-ondersoek af te handel.

Die polisie se waghondliggaam, wat terugvoer gegee het oor die periode April – Desember 2016, het aan die komitee gesê ʼn dringende versoek is aan die nasionale tesourie gestuur vir ingryping.

Opod het in 2015/16 altesaam 99% van die toegekende begroting spandeer.

Die komitee het ook ʼn aanbeveling gemaak dat SAPD-lede bewus gemaak moet word van die gevolge van die verkragting van slagoffers in polisie-aanhouding, maar Opod het weer na sy begrotingsbeperkinge gewys en gesê alle lesings by stasies is opgeskort tot 31 Maart 2017.

Die ouditeur-generaal se 2015/16-hersieningsverslag, wat deel vorm van die verslag oor begrotingshersiening en aanbevelings, het ook aangedui dat begrotingsbeperkinge ʼn nadelige invloed sal hê om doelwitte te bereik.

Vier klassifikasies is egter geprioritiseer vir ondersoek, naamlik sterftes in polisie-aanhouding, sterftes as gevolg van polisie-optrede, verkragtings deur polisiebeamptes en verkragtings in aanhouding en sistemiese korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.