Opod ondersoek joernalis se bewerings van aanranding

Paul Nthoba (Skermgreep uit televisie-onderhoud)

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek tans die beweerde aanranding van Paul Nthoba, ʼn gemeenskapsmediajoernalis van Ficksburg in die Vrystaat. Nthoba is na bewering verlede Vrydag in die uitvoer van sy pligte as joernalis deur polisiebeamptes aangerand.

Luidens ʼn verklaring wat Opod uitgereik het, het ʼn Opod-ondersoekbeampte Nthoba Maandag by sy tannie se huis besoek. Ná die ontmoeting het Nthoba en die ondersoekbeampte ooreengekom om weer Woensdag te ontmoet.

Toe die ondersoekbeampte egter met Nthoba probeer kontak maak het, kon hy hom nie bereik nie omdat sy selfoon afgeskakel was. Nthoba se familie weet ook nie waar hy is nie. Die ondersoekbeampte het Nthoba versoek om hom te bel.

Maroela Media het vroeër berig Nthoba is verlede week Vrydag deur beamptes van die Suid-Afrikaanse polisie aangerand toe hy ondersoek ingestel het oor die sigbaarheid van polisiebeamptes wat moet seker maak dat burgers aan die Covid-19-afsonderingsriglyne voldoen. Hy is glo fisiek aangerand in Meqheleng, ʼn informele nedersetting naby die Lesotho-grens.

Ná die voorval het Nthoba ʼn klag by die Ficksburg-polisiestasie teen die polisiebeamptes gaan lê. Terwyl hy by die polisiestasie was, het dieselfde beamptes wat hom na bewering aangerand het, opgedaag en wou hom verhoed om ʼn saak aanhangig te maak. Nthoba is toe glo verder in die polisiestasie aangerand.

Nthoba het aan die Suid-Afrikaanse redakteursforum (Sanef) gesê hy het besluit om die grens na Lesotho oor te steek en toevlug te soek by die Verenigde Nasies se kantoor aldaar omdat hy vir sy lewe gevrees het.

Opod sê in die verklaring hy is nie bewus van enigiets wat ʼn bedreiging vir die joernalis se lewe kan inhou nie. “Opod is daartoe verbind om Nthoba veilig te hou indien ons hom kan opspoor en hy kan bevestig dat sy lewe in gevaar is,” lui die verklaring.

Mahlatse Mahlase, Sanef-voorsitter, het gesê Nthoba het ná die beweerde aanranding amptelike polisievoertuie in sy straat opgemerk en nog ʼn voertuig wat ʼn paar meter van sy huis af geparkeer was, sonder enige verduideliking. Sy familie was uiters besorg en hy het besluit om te vlug.

Opod doen ʼn beroep op die Nthoba om so gou moontlik met die ondersoekbeampte kontak te maak om die ondersoek voort te sit.

Die direktoraat sê nog niemand is in verband met die saak in hegtenis geneem nie, aangesien genoegsame bewyse nog ingesamel moet word. Dié bewyse sal ná afhandeling van die saak aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Burgermeester ·

Genugtig, hoeveel ondersoeke word daar tans gedoen na onreëlmatighede? Ek dink Opod sê ook maar net dat die voorval ondersoek word om mense te paai. Intussen, beland die ondersoek in ‘Leêr 13’.

Oujongvrou ·

En kyk hoe begin lieg almal van nou af. Doen so voort ANC onder die hoedman en Zuma vrou. Julle verloor elke dag baie steun. Mag behept het na julle koppe gegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.