Opod ondersoek skietery by hoërskool

Die bestuurder van die polisievoertuig probeer wegjaag van die man wat bakstene na die vangwa toe slinger. (Skermskoot uit video)

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ʼn video wat op sosiale media versprei word waarin gesien kan word hoe ʼn polisiebeampte ʼn man by ʼn skool in Mpumalanga skiet.

Die video is Donderdag by die Mmametlhake Secondary School geneem nadat die man glo op ʼn verwoestingstog gegaan het en geboue beskadig en die polisiebeamptes aangeval het.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, sê die direktoraat is laat gistermiddag deur die SAPD van die voorval in kennis gestel. “Die beeldmateriaal sal Opod in sy ondersoek help om vas te stel wat tot die skietery gelei het,” sê Dlamini.

“Daar is nog niemand in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. Die uitkoms van die ondersoek sal bepaal of die polisiebeamptes se optrede ooreengestem het met wetgewing en enige skuldiges sal verantwoordbaar gehou word.”

Die voorval het gistermiddag by die skool gebeur toe die man, wat glo ʼn voormalige leerder van die skool is, opgedaag het en geëis het om die skoolhoof te sien. Jasper Zwane, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, sê toe die man ingelig is hy kan nie die skoolhoof sien nie, het hy gewelddadig geraak en bakstene na die skool se vensters geslinger.

Die man lê op die grond nadat hy in die been geskiet is. (Skermskoot uit die video)

“Die polisie is ontbied om te help en toe die beamptes daar aankom, het die man die polisie met klippe bestook. Dit het daartoe gelei dat die man in die been geskiet is,” sê Zwane.

Op die video kan gesien word hoe die man bakstene na ʼn polisievoertuig slinger. Die bestuurder van die voertuig probeer agteruit ry om weg van die man te kom, maar hy hardloop agterna en hou aan om die voertuig te bestook. Toe die beampte uitklim, begin die man hom met bakstene gooi. Die polisiebeampte skiet uiteindelik die man in sy been en hy val op die grond neer waarna hy in hegtenis geneem word.

Die man is daarna na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

Zwane sê die departement het vandag ʼn span na die skool gestuur om die omstandighede van die voorval te ondersoek en te probeer vasstel wat tot die man se uitbarsting gelei het. Berading sal ook aan die leerders en onderwysers verskaf word wat deur die voorval geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stan

Die polisie het ‘n briljante werk gedoen.

ZAR

Ek dink die slegste van die video is hoe die kinders lag en vir die krimineel aanpor. Asof hy ‘n held is. Dit wys vir my die probleem.

Skroef

Daar is op die stadium n aantal video’s op sosiale !media waar onnies took aangerand word en Dan “skoliere” wat bykom om verder aan te rand. Die mense se hande is ook gebind om teen sulke kinders op te tree. Een is van n wit seun wat n onderwyser met n besem aanrand. Die man neem bedees sy tas en loop en die klein pes hardloop en gooi die besem oor en oor agter die onnie aan. Dis bog. Die man moes sy hakskene geplant en die klein pes met die aarse gelyk gebli…m het. As hy my kind was… Lees meer »

Krokodilbotha

Daai is nou nie goeie skut werk nie. Later het n polisieman so biekie die boef geskop. Lol

ANA

DIS dié groooooooot probleem, jaaaaa ZAR…totale wetteloosheid en minagting van die gereg…hulle sien dit by hul ouers en bydi betogers wat breek en verwoes