Opod ondersoek skietery in Eldoradopark

Nathaniel Julius (16) (Foto: Twitter)

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die dood van die 16-jarige Nathaniel Julius van Eldoradopark wat Woensdag na bewering in die kruisvuur tussen ʼn bende en die polisie beland het. Nathaniel is gebore met Downsindroom.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, sê die Opod-ondersoekers het gesukkel om toegang tot die toneel te kry weens die betogings en oproerige gemeenskapslede.

Cola sê die ondersoekers kon wel daarin slaag om Nathaniel se familie te besoek.

Maroela Media het vroeër berig die skietgeveg tussen die bendelede en polisie het ontstaan ná die polisie ʼn wenk ontvang het oor gesteelde motoronderdele in die omgewing. Mo Senne, woordvoerder van Not In My Name International (Nimni), het gister gesê Nathaniel se dood is “ʼn regstreekse gevolg van gewapende mans in blou wat nie voldoende opleiding ontvang het nie”.

Volgens berigte voer die familie aan die seun is dood toe hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie, maar hulle sê dat hy nie daarop ag kón slaan nie omdat hy gebore is met Downsindroom.

Die gemeenskap het geregtigheid geëis vir Nathaniel se afsterwe en dit het tot betogings in die gebied gelei. Polisiebeamptes moes van rubberkoeëls gebruik maak om die ontstoke skare uiteen te jaag.

Verdere ondersoeke wat inligting van die polisie, ooggetuies, ballistiek en nadoodse ondersoek insluit, moet nog geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Wonder maar net wat sal die minister van sport se reaksie op hierdie een wees? Vir wie gaan hy nou bel om die saak te ondersoek?

Ronel Rene ·

My hart gaan uit na die gesin van Nathaniel . My kleinseun is down sindroom . Ek kan nie dink hoe wreed ons mense is nie …. Weet net Nathaniel is in die Hemel , absoluut Hemelkinders . So onskuldig en so jonk . RIV Nathaniel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.