Opod ondersoek skietery op Durbanse strand

Paramedici het ná die skietery drie pasiënte op die toneel behandel. Foto: IPSS

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) stel ondersoek in na ʼn skietery tussen pres. Cyril Ramaphosa se lyfwagte en partytjiegangers op ʼn Durbanse strand.

Moses Dlamini, Opod-woordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die direktoraat het met ʼn ondersoek na poging tot moord begin en sal ʼn verslag uitreik sodra die ondersoek afgehandel is.

“Toe die saak aangemeld is, was daar geen aanduiding van waar die polisiebeamptes [wat ook by die skietery betrokke was] gebaseer is nie,” sê Dlamini. Daarom kan hy nie Maroela Media se vraag beantwoord oor watter eenhede van die polisie na die toneel ontbied is en of lede van die weermag ook ontbied is nie.

Luidens berigte het die oor-en-weer-skietery verlede Saterdag omstreeks 23:00 plaasgevind nadat lede van die president se beskermingseenheid en partytjiegangers by Anstey-strand in die omgewing van Durban se Bluff begin baklei het.

Die wagte het Ramaphosa opgepas waar hy die ANC se 107de verjaardagviering in die Moses Mabhida-stadion bygewoon het. Teen die tyd van die skietery, was die viering al so te sê oor.

Die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat sê nie veel oor wat op die strand gebeur het nie. Foto: IPSS

Die skote is glo afgevuur deur drie militêre lede van die president se beskermingseenheid en mense wat ʼn laataand-partytjie op die strand bygewoon het. Die polisie het agterna op vyf wapens beslag gelê.

Ons paramedici het afgekom op drie mense met koeëlwonde.

Gareth Jamieson, woordvoerder van Rescue Care Paramedics, het die Sondag ná die skietery gesê drie mense is gewond, van wie twee kritiek.

“Ons paramedici het by hul aankoms op die toneel afgekom op drie mense met koeëlwonde wat op die grond gelê het,” het hy gesê. “Twee vroue en ʼn man, almal blykbaar in hul 20’s, het skietwonde opgedoen … die vroue in hul bolyf. Hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling gebring.”

Jamieson het gesê die pad is gesluit terwyl die polisie op die toneel was om vas te stel presies wat tot die skietery aanleiding gegee het.

Opod sal tydens hul ondersoek probeer vasstel presies wat gebeur het. Een moontlikheid wat ondersoek word, is dat ʼn polisieman eerste geskiet en ʼn soldaat gewond het. Dié se twee kollegas het hom toe te hulp gesnel en na bewering twee vroue in die partytjiegroep en ʼn man in die been geskiet.

ʼn Ander weergawe van die gebeure lui dat die twee groepe – die wagte en die partygangers – stry gekry en rassistiese aanmerkings gemaak is.

Die polisie in KwaZulu-Natal het Maroela Media se navrae oor die skietery na Opod verwys en gesê hulle is nie by magte om kommentaar te lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

IK ·

Wanneer jy ‘n belangrike pres. op pas soos Rama is jy altyd aan sy sy, dus was hy (Rama) ook op die strand? Wonder waar en wanneer rassisme einde gaan kry as rede/verskoning?

Lientjie ·

Daar is wagte binne by hom en buite in verskillende areas. Daar is nie net 1 of 2 wagte nie.

Piet OVS ·

Ha Ha rasisme, die een het die ander seker n boer genoem?

GR ·

Dink nie daar was wittes betrokke nie anders sou dit op al die radio en tv nuuskanale gewees nou is dit stil op die nuuskanale. Dankie MM dat julle dit deel

ne ·

Daar moes wittes gewees het. Vanwaar die rassisme aantuiging? Of is dit uit die duim gesuig om iemand te beskerm?

Onnie ·

Hoekom glip die nuus net so stilletjies deur? Dit moes mos HOOFNUUS gewees het al van saterdagaand af – of is dit aspris stilgehou? Ek ruik n rot!

Ai ·

Volgens News24 het hulle 52 “bullet shells” opgetel? En dit was sogenaamde “recces” wat die skietwerk gedoen het, maar die volskaalse “cover-up” word voluit gedoen. As daar rassisme was, sou dit van die soldate afgekom het. Die rassisme wat deur die blankes ervaar word is ongelooflik en agressief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.