Opod ondersoek sterfte tydens studentebetoging

Die man se liggaam is op ‘n sypaadjie aangetref. (Foto: Netcare 911)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het met ʼn ondersoek begin nadat ʼn 35-jarige man Woensdag tydens studentebetogings by die Universiteit van die Witwatersrand in Braamfontein dood is.

“Opod se ondersoekspan werk onverpoos om die bewyse wat tydens die voorlopige ondersoek op die misdaadtoneel versamel is, te verwerk,” het Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, gesê.

Wits-studente wat ontevrede is dat hulle weens agterstallige studieskuld nie verder kan studeer nie, betoog sedert eergister voor die universiteit in Johannesburg. Lede van die polisie het Woensdag met rubberkoeëls op studente losgebrand.

Die 35-jarige man was nie deel van die betoging nie en het pas ʼn dokterspreekkamer verlaat toe hy na bewering in die kruisvuur beland het en deur polisiebeamptes geskiet is. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Wits het in ʼn verklaring sy medelye met die oorledene se familie uitgespreek. “Ons veroordeel enige vorm van geweld en doen ʼn beroep op alle mense om in dié baie moeilike tyd kalm te bly.” Volgens Wits is twee studente tydens die voorval beseer en drie in hegtenis geneem. Die universiteit het berading vir studente beskikbaar gestel.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys het Woensdag met afgevaardigdes van die departement van hoër onderwys vergader en is tydens die vergadering van die sterfte by die Wits-betoging ingelig. Die komitee het ook ʼn voorlegging van die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) ontvang.

Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Wits)

Die komitee het opgemerk dat die Wits-betoging en ander studentebetogings landwyd plaasvind in reaksie op die uitdagings wat studente tydens die registrasieproses vir die akademiese jaar by universiteite ervaar. Die finansieringstekort van die NSFAS, wat fondsbesluite vir eerstejaarstudente aan universiteite vertraag het, het die situasie verder vererger, het Philly Mapulane, komiteevoorsitter, gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die Wits-universiteitsleiersgroep en die studenteleiers om saam te sit en die kwessies aan te pak. Ons doen ook ʼn beroep op die departement van hoër onderwys om instellings te ondersteun ten einde studente se griewe aan te pak en sodoende onstabiliteit en gewelddadige betogings te voorkom.”

Wat die NSFAS-begrotingstekort betref, is die komitee ernstig bekommerd oor die minister van finansies se uitsprake tydens sy begrotingsrede dat geen studente uitgelaat sal word weens finansiering nie. “Hierdie verbintenis is egter nie opgevolg deur enige finansiële toewysing in die begrotingsdokumente wat in die parlement ter tafel gelê is nie.”

Volgens die komitee sal hy nou wag om te hoor watter besluite tydens Woensdag se kabinetsvergadering geneem is oor die pad vorentoe rakende bykomende finansiering vir die NSFAS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefaan

Hê hê hê. Hulle wil altyd alles verniet hê. Niks in die lewe is verniet nie. Iemand moet betaal.

Stefan

Voel enige studente wat die protes gereël het verantwoordelik vir die man se dood?
Nee natuurlik nie, hulle is mos self die alewige victim.

Nozi

Maak die universiteit toe. Ons kinders mag nie verder studees as rekeninge agterstalling is nie, hul moet maar doodeenvoudig opskop en werk soek. Our people se kinders kan mos nou maar dieselfde padjie stap. Maar nee, als moet mos verniet wees vir our people.

Tiptol

Dis die studente se skuld dat die persoon gesterf het. Hul betoging was nie vreedsaam nie. Polisie moes optree.

Suzette

Berading vir die studente gereel – HULLE is die oorsaak ! Ons land het al berading nodig met alles wat hier aangaan….