Opod-verslag dui op ernstige polisievergrype in Wes-Kaap

(Foto: SAPD)

Die jaarverslag deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) dui aan dat 11 mense tussen April 2021 en Maart 2022 weens beweerde polisieoptrede in die Wes-Kaap dood is, terwyl sewe mense in aanhouding gesterf het. Luidens die verslag is nege mense glo deur polisiebeamptes in dié provinsie verkrag en tien mense is na bewering gemartel.

Altesaam 662 sake is in dié tyd in die Wes-Kaap na Opod vir ondersoek verwys, waarvan Opod in 215 (32,5%) gevalle verdere stappe aanbeveel het.

Reagen Allen, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het dié statistieke Sondag op Facebook bekend gemaak en sê dit is juis dié soort gedrag wat daartoe bydra dat mense nie meer vertroue in die polisie het nie.

“Hierdie statistieke is afgryslik, ʼn skande en ʼn aanklag teen die Suid-Afrikaanse polisiediens,” het Allen op Facebook geskryf.

“Dit is belaglik dat lede van die einste diens wat ons moet beskerm en die wet moet handhaaf, hulself na bewering aan die pleeg van misdaad skuldig maak. Sterftes, verkragtings en enige ander misdaad wat deur polisiebeamptes gepleeg word, kan en sal nooit geduld word nie.”

Opod sê egter die verslag is nog nie aan die parlement voorgelê nie en hulle kan dus nie daarop kommentaar lewer nie.

 

Luidens die verslag is 11 mense (5,1% van die 215 sake) in die volgende gebiede glo weens polisieoptrede dood:

 

1.      Khayelitsha

2.      Lingelethu-Wes

3.      Elsiesrivier

4.      Mbekweni

5.      Lentegeur

6.      Philippi-Oos

7.      Piketberg

8.      Kleinvlei

9.      Hermanus

10.  Nyanga

11.  Philippi

 

Sterftes in polisieaanhouding is in die volgende gebiede aangemeld:

 

1.      Groot-Brakriver

2.      Gansbaai

3.      Swellendam

4.      Macassar

5.      Dysseldorp

6.      Grabouw

7.      Heidelberg

 

Verkragtings deur polisiebeamptes is by die volgende stasies aangemeld:

 

1.      Oudtshoorn

2.      Vredenburg

3.      Mitchells Plain

4.      Malmesbury

5.      Wynberg

6.      Nyanga

7.      Mfuleni

8.      Riebeeck-Wes

9.      Brackenfell

 

 

Voorvalle van marteling is by die volgende polisiestasies aangemeld:

 

1.      Nyanga (2)

2.      Kleinmond (2)

3.      Rondebosch

4.      Philippi

5.      Steenberg

6.      Langa

7.      Manenberg

8.      Ocean View

 

Allen meen hoewel die meerderheid van die gevalle (67,5%) geen verdere optrede vereis nie, is dit uiters kommerwekkend dat 366 van al die vermelde sake aanrandingsake is. Uit die 215 sake waar stappe op Opod se aanbeveling teen SAPD-lede gedoen moet word, is 160 (74,4%) ook aanrandingsake.

Verder was daar aanrandingsondersoeke by 70 verskillende polisiestasies in die provinsie.

Altesaam 65 van dié 70 aanrandingsake is by die volgende polisiestasies aangemeld: 

– Nyanga (10)

– Worcester (9)

– Atlantis (8)

– Kraaifontein (7)

– Mitchells Plain (6)

– Wolseley (6)

– Bishop Lavis (5)

– Robertson (5)

– Ceres (4)

Volgens Allen het die polisie dissiplinêre stappe in 160 van die 215 sake begin, waarvan 129 (80,6%) al afgehandel is.

“Om uitvoering te gee aan sy wetgewende mandaat, moet die departement van gemeenskapsveiligheid die toepassing van Opod se aanbevelings deur die polisie in die provinsie monitor en daaroor verslag doen.

“Ek doen ʼn beroep op die provinsiale polisiekommissaris om sake wat nog nie afgehandel is nie, vinnig te hanteer. Ons kan nie mense soos dié in die polisie hê nie, aangesien volwaardige, wetsgehoorsame en professionele beamptes in diens moet wees wat net die beste belange van die gemeenskap op die hart dra.”

Allen sê die SAPD moet ʼn gesamentlike poging aanwend om die situasie te beredder.

“Dit is ook ʼn verdere bewys waarom die afwenteling van die SAPD aan ʼn bekwame provinsiale regering dringend nodig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ettienne ·

Sterk provincial para-militêre mag is waarskynlik die oplossing. Hulle moet die huidige SAPS lede ontwapen, hulle die strate injaag en die infrastruktuur oorneem en die provinsie begin polisieër. Hulle is verantwoordelik aan die provinsie en nie aan Cele nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.