Oppas vir dié skelmstreke sê poskantoor

Foto ter illustrasie. (Foto: SA Post Office/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) het Maandag sy kliënte gewaarsku oor bedrieglike e-pos- en SMS-boodskappe wat die afgelope tyd die rondte doen. Dié boodskappe is glo daarop gemik om die ontvangers te mislei sodat hulle geld in misdadigers se rekeninge inbetaal.

Johan Kruger, woordvoerder van die Poskantoor, sê die boodskappe beweer dat die ontvanger se afleweringsadres onleesbaar is, of dat die persoon se pakkie slegs afgelewer kan word indien geld oorbetaal word om die doeane-aanslag van die pakkie te betaal.

“Die e-pos- of teksboodskappe lyk almal ietwat verskillend, maar elkeen het ʼn skakel by. Sou die ontvanger daarop klik word hy/sy na ʼn bladsy geneem met ʼn betalingsfunksie, of die betrokke persoon se bankbesonderhede word gevra.”

Baie van dié boodskappe sluit selfs die ontvanger se volle naam en van in.

Kruger sê hoewel die Poskantoor boodskappe of papierstrokies aan hul kliënte stuur sodra hul pakkies by die Poskantoor is, is daar egter ʼn aantal maniere waaraan jy die bedrieglike boodskap kan uitken.

“Die Poskantoor vra nooit vir betaling voordat die kliënt nie hul pakkie ontvang het nie. Indien daar invoerbelasting op ʼn pakkie van ʼn ander land is, betaal kliënte die volle bedrag sodra hulle die pakkie by die poskantoor se toonbank ontvang het. Die poskantoor versoek ook nooit ʼn kliënt se bankrekeningnommer nie.”

Hy het bygevoeg dat kliënte die spoornommer wat op die boodskap gestuur is, op die poskantoor se webwerf moet intik om te verseker dat dié nommer wel bestaan.

“Lede van die publiek wat enige e-pos of SMS van dié aard ontvang word versoek om dit dadelik uit te vee of die tolvrye misdaadlyn by 0800 020 070 te skakel,” het Kruger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna ·

Praat julle nou van die Poskantoor Diens wat bankrot is en ons wil verplig om ons pakkies deur hulle te laat wegraak.

Johann ·

Hoe weet die skelms wanneer het ‘n ontvanger ‘n pakkie in die pos?
Maak toe die plek, vrot tot op die been!

DIABLO ·

Klink na inside info hierdie. Poskantoor moet ophou om kliente al die werk te laat doen om seker te maak hulle word nie uit hul pakkies bedrieg nie, en begin om die vrot velle binne hul instansie te soek en uit te smyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.